
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Werk en studeer as jong student
Deur Karen Waldeck
Ons leef in ʼn era waar dit alles behalwe maanskyn en rose is wanneer dit kom by finansies. Jaar na jaar word die finansiële druk op huishoudings al hoe groter en ouers kan nie meer bekostig om hulle kinders universiteit toe te stuur sonder hulp nie. Die meeste studente werk tans deeltyds of voltyds om ouers te help byhou by die hoë lewenskoste en ander studie-uitgawes.
Suid-Afrikaners het die voorreg om ʼn organisasie te hê wat daarop fokus om jong studente te help om suksesvol te wees en om hulle drome te bewaarheid. Akademia bied jaarliks ʼn sakeplankompetisie wat daarop fokus om jong studente te help om suksesvolle entrepreneurs te word. Hierdie kompetisie gee studente die geleentheid om te werk aan hulle eie besigheid terwyl hulle nog studeer.
Dit kan oorweldigend raak wanneer jy te veel hooi op jou vurk het en nie weet hoe om dit te hanteer nie. Dit is belangrik dat elke student moet weet hoe om gebalanseerd te bly en sukses te behaal. Hier is ʼn paar sleutels wat na jou as werkende student se sukses kan lei.
Tydbestuur
Dit is een van die belangrikste vaardighede wat enige mens kan hê. Dit kan ook jou sukses maak of breek. ʼn Groot deel van studentwees beteken dat daar dubbel soveel take en toetse sal wees as toe jy op skool was. Tussen die werk en studies is dit maklik om ʼn toets of taak te mis, en daarom is tydbestuur so belangrik. ʼn Groot kalender met alle belangrike datums op sal baie handig wees om seker te maak dat jy niks mis nie.
Begin voor die tyd
Moenie wag tot op die laaste minuut om te begin met jou voorbereiding vir eksamens en assesserings nie. Probeer om voor te bly met jou studies en so ook met jou werk.
Roetines en gewoontes
Jy sal die lewe vir jouself soveel makliker maak wanneer jy van die begin af in ʼn roetine is. Byvoorbeeld, staan elke oggend vroeg op sodat jy genoeg tyd het om rustig gereed te maak vir die dag wat voorlê. ʼn Rustige oggend beteken ook dat jy sal tyd hê vir die belangrikste maaltyd van die dag, nl. ontbyt.
Baie studente gee moed op na die eerste paar maande omdat alles te veel raak. Dit is so belangrik om jou studies te voltooi. Onthou altyd dat dit die grondslag vir die res van jou lewe is en alhoewel dit moeilik is om tegelyk te werk en studeer, hou dit vir jou so baie voordele in. Dink so daaraan:
- 1. Jy doen ondervinding op. Indien jy werk terwyl jy studeer, is jy reeds ʼn stap voor in die lewe. Teen die tyd dat jy jou studies voltooi het, kan jy regte werkondervinding op jou CV aandui. Dit sal jou ʼn voorsprong bo ander studente gee.
- 2. Leer om jou finansies te bestuur. Jy sal die geleentheid kry om reeds van ʼn jong ouderdom af te leer hoe om met jou geld te werk en ook om dit nie te mors op onnodige goed nie.
- 3. Verdien jou eie geld. Alhoewel die meeste studente die geld moet gebruik om lewenskoste en studie-uitgawes te dek, is dit steeds ʼn motivering om te weet dat jy jou eie geld verdien. Jy leer ook vinniger die waarde van geld verstaan wanneer jy self daarvoor moet werk.
- 4. Bou vir jou kontakte op. As jy werk, beteken dit dat jy elke dag nuwe mense ontmoet. Dit is jou geleentheid om jou kommunikasienetwerk op te bou. Ongelukkig gaan dit in die werêld waarin ons vandag lewe meestal oor wie jy ken en nie altyd wat jou ondervindig is nie.
Daar is vele voordele verbonde aan werk terwyl jy studeer en alhoewel dit soms moeilik is om by te hou by alles, is dit belangrik om positief te bly. Gebruik die sleutels hierbo om as ʼn werkende student sukses te bemeester en jy sal die vrugte daarvan pluk. Onthou dat jy as student en jongwerkende altyd kan staatmaak op platforms soos Solidariteit en Akademia om jou te ondersteun!
Solidariteit kan jou ook as student en jong werkende ondersteun. Klik hier en vind uit hoe Solidariteit jou kan ondersteun.