
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Werk jy vir ʼn lewe, of leef jy vir jou werk?
Deur Liza Joubert
Jy is op pad werk toe. Alweer. Jy het ʼn salaris, dalk voordele en dalk selfs goeie kollegas. Maar iewers tussen die Zoom-vergaderings en Excel-lêers wonder jy: “Is dit regtig waarvoor ek bedoel is?” Of erger nog: “Is dit ál waaroor ek ooit gedroom het?”
Dit is ʼn vraag wat meer mense vra as wat jy dalk besef. Dit maak jou nie ondankbaar of dramaties nie – dit maak jou bloot net bewus. Daar is ʼn verskil tussen werk wat jy doen om te oorleef, en werk wat jou laat léwe.
Om ʼn braaivleisvuur is een van die eerste vrae dikwels: “Wat doen jy vir ʼn lewe?” En kort daarna: “Geniet jy dit?” Dit is vrae wat ons moet laat dink. ʼn Werk is belangrik om ʼn voortbestaan te kan maak, maar dit behoort tog ook iets te wees waarna jy kan uitsien.
Nie almal doen aardskuddende werk of leef in die kollig nie – en dit is reg so. Die werk moet bevredigend wees, aangesien dit al is wat aan die einde van die dag tel.
Is jy besig om jou roeping te volg – of net ’n salaris?
Dit is nie ʼn eenvoudige vraag nie. Om geld te verdien is nie verkeerd nie – dit is juis noodsaaklik en deel van die lewe. Maar as jy soggens wakker word met ʼn leemte in jou gemoed, of wanneer jou werk jou nie meer uitdaag of laat groei nie, is dit dan dalk tyd om stil te staan en te vra: “Volg ek nog ʼn pad met betekenis?”
ʼn Studie van Gallup, ʼn wêreldbekende navorsings- en adviesmaatskappy, toon aan dat slegs 20% van werkendes wêreldwyd werklik betrokke voel by hul werk. Die res voel afwesig of uitgeput. Dit beteken nie jy moet dadelik jou werk bedank en ʼn kunsreis na Bali onderneem nie – maar dit beteken dat jy jouself ʼn eerlike refleksie skuld.
Refleksievrae om jou te help onderskei:
- 1. Wanneer laas het jy energie gekry van jou werk?Was daar ʼn taak, projek of gesprek wat jou opgewonde gemaak het?
- 2. Voel jy dat jou werk ʼn verskil maak – selfs op klein maniere?
Dalk help jy kliënte, bou iets bruikbaars, of ondersteun jy iemand agter die skerms. - 3. Leer en groei jy steeds?
Of ervaar jy ʼn gevoel van roetine wat jou nie meer uitdaag nie? - 4. Sou jy hierdie werk doen as jy nie geld nodig gehad het nie?
Nie elke dag nie – maar sou jy dít steeds wou doen as ʼn bydrae tot iets betekenisvol?
Jy hoef nie dadelik te bedank nie – dalk lê jou roeping reeds in jou huidige werk.
Soms is dit nie die werk wat moet verander nie, maar jou perspektief. Jy kan:
- • nuwe betekenis vind in dit wat jy doen, deur te sien hoe jou werk ander raak. ʼn Onderwyser verander lewens; ʼn kantoorpraktisyn bring orde, ondersteuning en geleenthede.
- • ʼn nuwe rol of uitdaging binne dieselfde organisasie soek. Jy hóéf nie heeltemal van loopbaan te verander nie – dalk is daar ʼn span, projek of mentor wat jou weer laat groei.
- • nuwe vaardighedeaanleer wat jou voorberei vir moontlike verandering – sonder om alles dadelik prys te gee.
Die Harvard Business Review beklemtoon dat baie mense hul roeping ontwikkel eerder as ontdek. Dit is nie altyd ʼn donderslag nie – soms is dit ʼn sagte, aanhoudende stem wat sê: “Hier is iets meer…”En as jy weet dit is nie meer jou pad nie?
Dan is dit ook reg. Nie elke werk is vir altyd bedoel nie. Jy mag verander, groei en van rigting verander – solank jy dit met bewustheid doen, en nie net uit frustrasie nie.
Vra jouself:
- • Waarvan wil ek meer in my werk ervaar?
- • Waarvan wil ek minder van hê?
- • Wat het ek nodig om die volgende stap realisties te maak?
Gebruik hulpbronne soos Solidariteit se loopbaanbeplanningsinstrumente – byvoorbeeld die belangstellingsbepaler, kortkursusse (nagenoeg 150 beroepspesifieke kursusse is gratis beskikbaar aan lede), of mentors om jou nuwe rigting te verken voordat jy spring.
Elke werk het dele wat vervelig is. Betekenis beteken nie elke dag vonke nie. Dit beteken om te voel jy is besig om iets te bou wat vir jóú sin maak – en wat bydra tot die mens wat jy wil wees. Dit is nie ʼn luuksheid nie. Dit is deel van ʼn volwasse lewe met moed en selfkennis.
Jy is nie net ʼn werker nie, maar ʼn mens met roeping, waarde en potensiaal. Maak seker jou werk help jou om dít te bou. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en sluit aan by jou grootste Afrikaanse werkgemeenskap – waar jy bemagtig word om in jou loopbaan te floreer!