loading
Artikels
6 maande gelede
werk-lewe-balans-vs-werk-lewe-integrasie

Foto Krediet: OkayDeer

Werk-lewe-balans vs. werk-lewe-integrasie

Deur Karen Waldeck

Dit raak al hoe moeiliker vir mense, en veral ook jong werkendes, om ʼn balans te vind tussen hul professionele en persoonlike lewens. Jy het dalk al gehoor van die term “werk-lewe-balans” wat vir baie die goudstandaard is, maar daar is ʼn nuwe benadering wat al hoe gewilder word: werk-lewe-integrasie. Hoe weet jy watter benadering vir jou gaan werk? Kom ons kyk na die verskille tussen die twee en hoe jy dit in jou eie lewe kan toepas.

Wat is werk-lewe-balans?

Werk-lewe-balans verwys na die tradisionele idee dat jou werk en jou persoonlike lewe van mekaar geskei moet word. Wanneer jy die kantoor verlaat, moet jy jou werk daar agterlaat en moet jy fokus op jou familie, vriende en jou stokperdjies. Hierdie model is gebaseer op die idee dat ons ʼn duidelike skeidslyn tussen werk- en privaat tyd moet handhaaf om ons welstand te beskerm. As jy byvoorbeeld by die huis is, behoort jy aan geen e-posse van die werk aandag te gee of geen werkverwante telefoonoproepe te beantwoord nie.

Vir baie mense klink dit na ʼn perfekte situasie, veral omdat ons as mense daardie tyd vir onsself benodig om te herlaai en gesond te bly. Maar, jong werkendes wat in digitale werksomgewings werk, vind dit dikwels moeilik om sulke grense te handhaaf, veral omdat tegnologie dit moontlik maak om altyd aanlyn en beskikbaar te wees. Dit lei dikwels tot meer werkdruk en ʼn konstante gevoel van oorweldiging.

Wat van werk-lewe-integrasie?

Werk-lewe-integrasie, aan die ander kant, is ʼn nuwe manier van dink wat fokus op die vermenging van jou professionele en persoonlike lewe. In plaas daarvan om te probeer om ʼn skerp skeidslyn tussen die twee te trek, probeer jy maniere vind om jou werk en persoonlike verantwoordelikhede meer natuurlik te laat saamvloei. Dit kan so eenvoudig wees soos om ʼn vinnige stappie met jou honde in die middel van die dag te neem, of om vinnig tussen vergaderings inkopies te gaan doen wanneer al jou werk onder beheer is.

Vir jong werkendes, wat dikwels sukkel om die balans tussen tyd vir hulself en hul professionele lewe te vind, kan dit dalk makliker wees om hierdie benadering te volg. Werk-lewe-integrasie maak voorsiening vir buigsaamheid, en in ʼn wêreld waar ons altyd aanlyn moet wees, kan dit ʼn realistiese oplossing wees.

Wat is reg vir jou?

Dit is belangrik om te verstaan dat daar nie net één regte manier is nie. ʼn Werk-lewe-balans mag vir sommige werk, terwyl werk-lewe-integrasie vir ander ʼn beter pasvorm is. Hier is ʼn paar vrae wat jy jouself kan afvra om te bepaal wat die beste vir jou is:

  • Het jy ʼn werk wat vereis dat jy nauurs beskikbaar moet wees? As jy in ʼn beroep is waar jou werk jou dikwels nauurs inroep, kan werk-lewe-integrasie ʼn beter benadering wees. Jy kan jou werk beter by jou persoonlike verpligtinge aanpas sonder om oorweldig te voel.
  • Hou jy daarvan om ʼn duidelike skeidslyn tussen werk en jou privaat lewe te hê? Sommige mense floreer wanneer hulle presies weet wanneer werk begin en wanneer dit eindig. As dit jy is, mag werk-lewe-balans vir jou die beter opsie wees.
  • Hoe hanteer jy buigsaamheid? Werk-lewe-integrasie vereis ʼn hoë mate van selfdissipline om seker te maak dat sowel jou werk as jou persoonlike lewe aandag kry. As jy goed is met tydsbestuur en jy in ʼn meer vloeibare daaglikse roetine floreer, is werk-lewe-integrasie dalk ideaal vir jou.

Praktiese wenke om jou eie stelsel te vind

Of jy nou ʼn werk-lewe-balans of werk-lewe-integrasie verkies, hier is ʼn paar wenke om jou te help om ʼn beter verhouding tussen jou werk en jou persoonlike lewe te hê:

  1. 1. Stel grense: Selfs al volg jy ʼn werk-lewe-integrasie-benadering, moet daar steeds grense wees. Maak seker jy het sekere tye wanneer jy afskakel van werk en jou aandag gee aan jou gesin of persoonlike stokperdjies.
  2. 2. Gebruik tegnologie tot jou voordeel: Tegnologie maak dit maklik om altyd aanlyn te wees, maar jy kan dit ook gebruik om jou tyd beter te bestuur. Gebruik jou kalenders en herinnerings om seker te maak dat jy jou werk én persoonlike tyd reg balanseer.
  3. 3. Sorg vir jouself: Selfs al kies jy werk-lewe-integrasie, moet jy steeds sorg dat jy tyd maak vir rus en ontspanning. Hierdie tyd is noodsaaklik vir jou geestelike en fisieke gesondheid.
  4. 4. Kommunikeer duidelik: As jy werk-lewe-integrasie volg, moet jy met jou werkgewer en kollegas kommunikeer oor wanneer jy beskikbaar is en wanneer nie. Sulke duidelike verwagtinge kan help om misverstande te vermy.

Meer maatskappye mag moontlik in die toekoms die konsep van werk-lewe-integrasie onderskryf, veral as digitale tegnologie bly ontwikkel.

Solidariteit ondersteun en beskerm werknemers in die werkplek en kan jou help om te sorg dat billike dienspraktyke vir jou geld, of jy in ʼn kantoor sit en of jy van die huis af werk. Lees hier hoe Solidariteit jou beskerm.

Dit is belangrik vir jong werkendes om ʼn benadering te vind wat vir hulle werk. Of jy werk-lewe-balans of werk-lewe-integrasie verkies, onthou dat jy die reg het op ʼn gesonde verhouding tussen jou werk en jou persoonlike lewe. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en bly ingeskakel vir meer raad en ondersteuning oor hoe om jou werklewe te optimaliseer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel