loading
Artikels
1 jaar gelede
werk-slim-met-jou-salaris

Foto Krediet: OkayDeer

Werk slim met jou salaris

Deur dr. Eugene Brink

Dit is ‘n ware stryd om jou maandelikse salaris te bestuur en dit end-uit te laat hou. Baie mense het bloot net te veel onkostes en is te swak gedissiplineerd om hulle rande en sente oor die hele maand te rek.

Om nie met jou geld uit te kom nie is nie net ‘n uitdaging vir jou beursie en jou eie finansiële welstand nie, maar kan ook tot struwelings binne verhoudings en die gesin lei, sowel as jou eie sielkundige en fisieke gesondheid affekteer.

“Swak geldbestuur. Dit klink naar en jy wil bes moontlik niks daarmee te doen hê nie. ‘n Groot aantal mense bestuur egter nie hulle geld behoorlik nie,” sê Javier Castillo, bydraer tot moneystrands.com. “Nogtans is daar hoop vir jou indien jy jouself in hierdie groep bevind. Daar is ‘n paar deurtrapte strategieë wat jou kan leer hoe om jou geld op die regte wyse te bestuur.”

Solidariteit Finansiële Dienste spits homself daarop toe om lede geldslim te maak en voor te berei vir afrede. Lees meer hier oor hierdie instelling van die Solidariteit Beweging.

Hier volg ‘n paar eenvoudige wenke om jou op die pad na ‘n meer sorgvrye lewe te plaas met betrekking tot jou maandelikse salaris:

  1. Stel ‘n begroting op

Solidariteit Jongwerkende help graag nuwelinge in die werkplek. Daar is vele voordele vir ʼn  Jongwerkende-lid. Hulp met die opstel van ʼn begroting is net een daarvan. Lees meer hier oor Solidariteit Jongwerkende.

Om ʼn begroting op te stel, mag dalk na afgesaagde en voor-die-hand-liggende advies klink, maar verrassend genoeg word dit steeds verontagsaam.

“Om ‘n begroting op te stel en daarby te hou, mag aanvanklik effe moeilik voel om te bereik, maar op die lange duur sal dit jou loon. Om te begroot help jou om jou finansiële situasie met duidelikheid en deursigtigheid te sien, en dit is van die uiterste belang sodat jy jou geld beter kan bestuur,” sê Castillo.

Volgens die VK-gebaseerde Money Advice Service beteken om ‘n begroting op te stel dat jy:

  • minder gevaar loop om met skuld op te eindig;
  • minder gevaar loop om deur onverwagte kostes in die verknorsing te beland;
  • meer waarskynlik ‘n goeie kredietgradering sal hê;
  • meer waarskynlik vir ‘n verband of lening aanvaar sal word;
  • in staat sal wees om areas raak te sien waar jy besparings kan bewerkstellig; en
  • in ‘n beter posisie sal wees om te spaar vir ‘n vakansie, ‘n nuwe motor, of ‘n ander bederfie.
  1. Hou rekord van en besnoei op uitgawes

Die Bank of America redeneer dat die eerste stap om geld te spaar, is om vas te stel hoeveel jy bestee. Hou dus rekord van al jou uitgawes.

Om dit te kan doen, moet jy die volgende in berekening bring:

  • huishoudelike rekenings
  • lewenskoste
  • finansiële produkte (versekering ens.)
  • familie en vriende (byvoorbeeld geskenke)
  • reis (motor-onkostes en openbare vervoer)
  • ontspanning (vakansies, sport, restaurante)

Daar is verskeie maniere waarop jy jou alledaagse onkostes kan verminder. Kanselleer subskripsies en lidmaatskappe wat jy nie gebruik nie. Verbind jou daartoe om slegs een keer per maand uit te eet. Gun jouself ‘n “afkoeltydperk” met betrekking tot nienoodsaaklike aankope – wag dus ‘n paar dae voordat jy iets koop wat as ‘n luukse geklassifiseer kan word. Hersien jou versekering dan en wan.

Dit is wys om jou gesin en gade hierin te betrek aangesien hulle ‘n invloed op jou uitgawes mag hê. Indien iets ‘n buitensporige uitgawe is, dink ernstig na of jy dit werklik benodig en hoe dit goedkoper gedoen sou kon word (besnoei op jou huurgeld deur na ‘n kleiner plekkie te trek of skaf ‘n kleiner motor aan).

  1. Betaal lenings en kredietkaarte eerste af

Hierdie uitgawes het tipies die hoogste rentekoerse en dit sal wys wees om hulle eerste af te betaal. Indien jy elke maand slegs die minimum betaal op ‘n krediet- of winkelkaart wat sy maksimum bereik het, sal jy oor ‘n langer tydperk duisende in rente opdok.

  1. Spaar en/of belê

Dit is nie ‘n opsionele “ekstra” nie, alhoewel baie mense dit as sodanig beskou. Om te spaar stel jou in staat om met vakansie te gaan om jou liggaam en siel te herlaai. Dit maak voorsiening vir onverwagte uitgawes soos motorprobleme. Spaar vir ‘n deposito om jou eie huis te koop in plaas daarvan om vir ʼn lang termyn te huur. Laat hierdie spaar outomaties geskied en leer om elke maand sonder daardie geld klaar te kom.

Aftreespaargeld word ook onder hierdie punt ingesluit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel