Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Werkende mammas: die hedendaagse wondervrou
Deur Maryna Eksteen
Om ʼn werkende ma in vandag se tyd te wees is amper nie meer ʼn keuse nie; dit is ʼn werklikheid vir só baie vroue. Dit gaan gepaard met skuldgevoelens en baie druk van die wêreld daarbuite. Volgens Amy Westervelt word daar van vroue verwag om te werk asof hulle nie kinders het nie, en kinders groot te maak asof hulle nie werk het nie. Dit is deur die eeue heen kliphard beklemtoon dat jy nie ʼn ma kan wees en gelyktydig ʼn suksesvolle beroepsvrou nie. Dit is asof die samelewing “mom guilt” op jou wil afdwing omdat jy ʼn bydra tot die ekonomie lewer terwyl jy ʼn klein mensie vir die samelewing grootmaak.
Louise Volschenk, ʼn suksesvolle mamma en besigheidsvrou staan slaggereed om nuwe uitdagings aan te pak en ander mammas te bemoedig. Volgens Louise het sy van ʼn jong ouderdom af ʼn liefde vir grimering gehad en as klein dogtertjie het sy haar Barbie-poppe se grimering met naellakverwyderaar afgehaal net om dit self weer op te sit. Op die ouderdom van 14 het Louise haar eerste bruid se grimering gedoen en op 16 het sy begin om grimeerklasse op aanvraag aan te bied. Louise se droom was om ʼn aktrise te word, maar die Here het ander planne met haar loopbaan gehad. Louise het by ʼn produksiehuis gewerk en toe in die kosmetiese beroep beland waar sy baie ervaring opgedoen het.
In 2012 het Louise haar onderneming, Halouw Makeup Acedemy gestig. Dit het aanvanklik begin vanuit ʼn motorhuis wat Louise in ʼn studio omskep het. Vandag spog Louise met ʼn pragtige grimeerwinkel, grimeerskool en grimeerreeks. Louise is vanuit die staanspoor eerlik dat dit nie maklik is om ʼn besigheidsvrou en mamma te wees nie, maar dat dit moontlik is. “Jy kan alles hê. Jy hoef nie te kies nie. Maak nie saak wat jy doen nie; of jy vir iemand of vir jouself werk – jy kan ʼn wonderlike ma ook wees.”
Louise en haar man, Juan Volschenk, het die besluit gemaak om nie op hulp te steun om hulle kinders groot te maak nie, maar om eerder self betrokke te wees. Volgens Louise is haar man haar steunpilaar en saam as twee werkende ouers maak hulle dit hulle missie om hul kinders met huiswerk te help en by skoolgeleenthede betrokke te wees.
Hier is ʼn paar van Louise se wenke om ʼn gesonde balans as ʼn werkende mamma te handhaaf:
Selfdissipline is baie belangrik om te verseker dat alles altyd seepglad verloop. “Jy dink altyd jy kan dit later doen en dan haal dit jou in.” Doen wat jy moet wanneer jy moet en moet nooit iets laat oorstaan vir “later” nie.
- • Roetine is alles. ’n Effektiewe roetine kan help om stres te verminder, wat kan lei tot beter geestesgesondheid, meer tyd om te ontspan en minder angs.
- • Hou ʼn skedule byderhand. Volgens Louise volg sy haar skedule baie streng sodat sy altyd seker is dat sy nie iets mis nie. Bv. wanneer die skool iets reël maak sy seker om dit dadelik in haar kalender te sit.
- • Vrye tyd is belangrik of dit nou op Dinsdag of Saterdag is, koop tyd uit vir jouself en jou gesin.
- • “Multitask”. Volgens Louise sal sy vele take op eenslag aanpak soos om kosblikke te pak terwyl sy kos maak.
- • Leer jou kinders om selfstandig te wees. Dit is belangrik om kinders toe te laat om self huiswerk te doen wanneer dit in hul vermoë is. Sterk ouers, kweek sterk kinders.
Louise wil vrouens bemoedig om nie hulself met ander mammas op sosiale media te vergelyk nie. “Dit lyk maklik en mooi op Instagram, maar niemand weet hoeveel keer ek die kinders moes vra om te sit vir ʼn foto nie.” Volgens Louise is geen mamma perfek nie en sommige mammas bring ʼn finansiële bydrae na die tafel toe terwyl ander mammas toesprake skryf. Elke vrou het ʼn ewigheidswaarde wat hulle tot hul gesinne bydra.
“Vrouens moet ophou om te hard op hulself te wees. As jy nie by die gimnasium uitkom nie dan is dit oukei.” Louise se mamma-hart vir vrouens is om nie te gaan lê nie, maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie. “Trek vroeg pajamas aan en eet ʼn sjokolade as jy af voel. Môre staan jy op en sit jou rooi lipstiffie aan sodat jy die wêreld weer in die gesig kan staar.”
Alle werk is adel en ongeag of jy ʼn besigheids- of beroepsmamma is, jy is deel van iets groter as jyself. Elkeen wat wil werk moet kan werk. Raak deel van jou beroepsnetwerk by Solidariteit deur jou gratis profiel op jou grootste Afrikaanse platform vir werk en leer te skep. Klik hier.
Wees vry, veilig en voorspoedig in jou beroep, want #JyHoortHier.