loading
Artikels
1 jaar gelede
werkgewer-hoe-stel-jy-n-goeie-posadvertensie-op

Foto Krediet: OkayDeer

Werkgewer: Hoe stel jy ʼn goeie posadvertensie op?

Deur René Brown

Om die beste kandidate vir jou maatskappy te werf, begin by ʼn goeie posadvertensie waarby die regte kandidate aanklank sal vind. Dit is die eerste kontakpunt wat jou maatskappy met ʼn potensiële toekomstige werknemer het – en eerste indrukke is belangrik. Hier is ʼn paar riglyne om die beste moontlike posadvertensie op te stel.

Gee ʼn omvattende posbeskrywing

 ʼn Akkurate en omvattende beskrywing van verantwoordelikhede, vereistes en kwalifikasies maak dit makliker vir kandidate om te bepaal of hulle gekwalifiseerd is vir die pos of nie, en verhoog ook die waarskynlikheid dat slegs die gepaste kandidate sal aansoek doen. ʼn Posadvertensie met genoegsame inligting verminder ook die aantal navrae wat ʼn werkgewer van potensiële kandidate kry.

Noem die werkvoordele

Daar is voordele wat vir kandidate net soveel of selfs meer gewig dra as finansiële vergoeding. Noem van hierdie voordele wat die pos en werkomgewing aanloklik maak en jou maatskappy bo ander laat uitstaan. Afgesien van tradisionele voordele soos mediese versekering, kan voordele soos buigsame werkure of die opsie om van die huis af te werk ʼn groot trekpleister wees.

Maak seker jou maatskappy se aanbod is mededingend

Doen navorsing oor die vergoeding wat ander maatskappye in die bedryf vir soortgelyke poste aanbied om seker te maak jou maatskappy se aanbod is in ooreenstemming met die standaard.

 ʼn Goeie maatskappykultuur lok goeie kandidate

 ʼn Kort opsomming van ʼn maatskappy se doelwitte, oortuigings en etiek in die posadvertensie kan kandidate in staat stel om te bepaal of dit die tipe maatskappykultuur is waar hulle kan inpas en aanpas. Om vakante poste te adverteer, is soortgelyk aan die bemarking van ʼn produk, waar jy moet seker maak die faktore wat jou van mededingers onderskei, staan uit. ʼn Goeie kultuur is ʼn onderskeidende faktor wat ʼn uitstekende trekpleister vir gepaste kandidate kan wees.

Gebruik digitale platforms tot jou voordeel

Navorsing deur die Arberdeen Groep toon dat 73% van diegene in die ouderdomsgroep 18 tot 34 jaar hulle laaste pos deur middel van ʼn sosialemediaplatform gekry het. Digitale en sosialemediaplatforms asook e-pos-veldtogte stel werkgewers in staat om ʼn baie groter groep kandidate met hulle plasing te bereik as wat andersins die geval sou wees. Solidariteit bring ook werkgewers en werknemers bymekaar deur die werkportaal, waar jy as ʼn werkgewer poste kan laai en werknemers die regte pos vir hulle vaardighede kan vind.

Skep ʼn gratis profiel op Solidariteit om gebruik te maak van die werkportaal.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel