
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Werkgewer: Loods vandag jou eerste internskapprogram so
Deur René Brown
Interskapprogramme bied studente en jong werkendes ʼn geleentheid vir die opbou van praktiese ondervinding en vaardighede om hulle ʼn hupstoot in hulle gekose beroep te gee. Vir baie jong mense is dit hulle eerste ervaring as deel van die werkmag en dit kan die deurslaggewende faktor wees om hulle loopbaan te begin aangesien dit as waardevolle ervaring op ʼn CV aangedui kan word.
Wat is internskap in die organisasie?
ʼn Internskap is ʼn werksgeleentheid wat deur ondernemings aangebied word met die doel om studente of jong werkendes die kans te gee om intreevlak-ondervinding op te doen.
Hoekom dit doen?
Internskapprogramme gee ondernemings toegang tot nuwe en innoverende idees van jong mense wat so pas hul studie en navorsingsverslag (in die geval van honneursgrade) voltooi het, of besig is daarmee. Daar word deurlopend nuwe tegnieke en tegnologie vir elke bedryf ontwikkel, en om op datum te bly met tegnologie is Generasie Z wat tans die werkmag betree, se sterkpunt. Hulle is die eerste generasie wat in die digitale era gebore is, en volgens PWC is hulle so vertroud met tegnologie dat hulle selfs sekere digitale platforms en toeps (apps) as ʼn uitbreiding van hulself sien.
Verder bied internskapprogramme aan ondernemings die geleentheid om jong talent vroeg te ontdek en so toekomstige werknemers te werf. Die voordeel hiervan is dat ʼn werknemer dan reeds weet dat die individue kan aanpas by die spesifieke werksomstandige omdat hulle ʼn proeflopie deur middel van die internskap voltooi het.
Internskappprogramme maak ook die huidige werknemers se werkslas minder omdat take aan ʼn intern gedelegeer kan word. Sodoende skep dit die geleentheid vir meer senior personeellede om meer tyd aan hoërvlakwerk soos beplanning en strategieë te spandeer.
Wat behels dit alles?
ʼn Internskap duur gewoonlik vir ʼn minimum periode van ses weke tot maksimum drie maande, alhoewel die werkgewer sy eie diskresie kan gebruik om die tydsduur te bepaal. Die internskap kan ná afloop van die program tot ʼn permanente aanstelling lei indien die intern na wense presteer het.
Finansiële vergoeding vir ʼn internskap wat deel vorm van ʼn geregistreerde opleidingsprogram word nie wetlik vereis nie, maar daarsonder sal daar uit die aard van die saak vir kandidate minder motivering wees om aansoek te doen vir die internskapposisie. Interns in enige ander omstandighede word geag as werknemers volgens die wet en moet daarom ten minste die minimum loon betaal word.
Die intern word opgelei deur ʼn spesifieke mentor, of in sommige gevalle verskeie mentors indien die intern in meer as een faset van die onderneming ʼn proeflopie gaan doen. Dit kan bepaal word deur die intern se kwalifikasies en die vaardighede wat hulle tydens die program toon.
Wenke vir die opstel van die program:
- Besluit wat die tydsduur van die program gaan wees.
- Bepaal watter afdeling van die onderneming ʼn intern benodig en gevolglik watter opleiding die intern sal nodig hê.
- Selekteer personeellede wat as die mentors sal optree.
- Bepaal wat die omvang van elke intern se verantwoordelikheid sal wees.
- Bepaal wat die finansiële vergoeding sal wees.
- Beplan ʼn omvattende sosialiseringsessie (“onboarding”).
- Gee vir die intern duidelike doelwitte en maak seker die mentor en intern het gereelde sessies om vordering te bespreek en konstruktiewe terugvoer aan die intern te bied.
Meting
Stel ʼn evalueringsessie op vir die einde van die program om aan die intern omvattende terugvoer te gee oor hoe hulle gevaar het ten opsigte van die voorafbepaalde doelwitte wat bereik moes word. So moet die intern ook toegelaat word om eerlike terugvoer oor sy/haar ervaring gedurende die internskapprogram te gee, om te bepaal waar verbeteringe vir toekomstige internskappe gemaak kan word.
Internskapprogramme bly een van die doeltreffendste maniere waarop ʼn besigheid vir jong mense deure na sukses kan oopmaak, en terselfdertyd kan seker maak dat hulle ʼn oog op nuwe talent hou.
Sluit aan by Solidariteit waar werkgewers en werknemers bymekaargebring word, gratis en in Afrikaans!