
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Werkgewers moet griewe ernstig opneem
Deur Nico Strydom
Werkgewers moet werknemers se griewe ernstig opneem en dit met die nodige omsigtigheid hanteer, anders kan dit hulle duur te staan kom.
Die Vrystaatse hooggeregshof het in ’n onlange hofuitspraak gelas dat ’n hospitaal ’n voormalige werknemer R300 000 in skadevergoeding, sowel as haar vorige en toekomstige mediese uitgawes, moet betaal.
Die hospitaal is daarvan beskuldig dat hy nie ’n veilige werksomgewing verseker het nie en nie griewe wat deur die werknemers geopper is, ernstig opgeneem het nie. Sy het aangevoer sy is verbaal mishandel en dat die hospitaal versuim het om op te tree ondanks talle versoeke en klagtes.
Volgens Du Plessis en Van der Westhuizen Prokureurs beklemtoon die uitspraak dat ’n werkgewer ‘n wetlike, of dalk redelike, plig teenoor hul werknemers het wat deur bestuurders of toesighouers geteister of sleg behandel word.
“Om sulke risiko’s te verminder, moet werkgewers ‘n veilige werksomgewing vir hul werknemers skep en beslis aandag gee aan bekommernisse wat deur hul personeel geopper word.”
Die prokureursfirma sê werkgewers moet voorsorgmaatreëls implementeer, soos beleid oor teistering en mishandeling asook ’n griewebeleid en -prosedures om bestuur in staat te stel om hierdie kwessies te takel. Daar moet ook opleiding wees oor die inhoud van die beleide en hoe om werkplekgriewe te hanteer.
’n Grieweprosedure is tot ‘n werknemer se beskikking wanneer daar ’n grief of klagte is wat met werksomstandighede verband hou. Die werknemer moet volgens die grieweprosedure optree, en dit behels gewoonlik om eerstens die grief onder die aandag van ’n direkte lynhoof te bring waarna dit geëskaleer kan word indien die kwessie nie opgelos kan word nie. Indien die kwessie glad nie in die werkplek opgelos kan word nie, het die werknemer die reg om sy grief na die KVBA te verwys vir bystand.
Solidariteit beskerm jou teen diskriminasie en uitbuiting in die werkplek. Jy kan ook regsadvies oor enige arbeidsaangeleenthede in jou werkplek kry.
Solidariteit verskaf gratis regsverteenwoordiging ten opsigte van beroepsverwante sake wat na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) of die arbeidshof verwys word. Solidariteit-lede ontvang gratis regsadvies. Solidariteit bied telefoniese sivielregtelike en arbeidsverwante regshulp.
Sluit aan lid van Solidariteit en wees verseker dat jy beskerm word in die werkplek! Klik hier om aan te sluit.