Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Werkgewerskongres 2026: Van krisis tot koers
Suid-Afrikaanse ondernemings funksioneer in ʼn ekonomiese landskap waar onsekerheid, voortdurende veranderinge en “krisisse” die norm geword het. Die vraag is daarom nie meer bloot hoe werkgewers hierdie uitdagings gaan oorleef nie, maar hoe hulle te midde daarvan ʼn koers kan kies en volhoubaar kan aanhou bou.
Dit was die vertrekpunt van Solidariteit se vyfde Werkgewerskongres, wat op 1 September 2026 by die Sol-Tech-kampus in Pretoria aangebied is. Die kongres is deur Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling, in samewerking met Akademia en Ajani, aangebied en het sowat 150 gaste uit ongeveer 80 maatskappye byeengebring.
Die realiteite wat ondernemings tans in die gesig staar, is deur Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, ontleed, waarna praktiese strategieë vir ʼn volhoubare toekoms deur Juanita Vorster, ʼn besigheidstrateeg, bespreek is.

Werk bou meer as ondernemings
Mandy Thackwray, bestuurder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling, sê dat werk oor veel meer gaan as net ʼn transaksie tussen ʼn werkgewer en ʼn werksoeker.
Werk bou gesinne, ondernemings en gemeenskappe. Wanneer die regte mense en die regte geleenthede mekaar vind, kan dit lewens verander. Dit is juis waarom Solidariteit Werk nie bloot ʼn plek vir posadvertensies en CV’s wil wees nie, maar ʼn beroepsnetwerk waardeur werkgewers en werksoekers saam aan ʼn sterker arbeidsmark bou.
Sy het die 4 400 organisasies bedank wat reeds saam met Solidariteit Werk aan die arbeidsmark bou en gratis toegang tot talent op Solidariteit-aanlyn geniet.

Waarheen beweeg gesag en die ekonomie?
Connie Mulder het die toekomstige ekonomiese landskap geskets waarbinne ondernemings hul besluite gaan moet neem. Sy kernboodskap aan werkgewers was eenvoudig: Waarheen die ekonomie beweeg, is ook waarheen jou onderneming beweeg.
Mulder het onder meer veranderende markte, werkloosheid en die invloed van die sentrale regering se herverdelingsmag op die ekonomie bespreek. Hy het ook interessante tendense oor mense se sienings oor gesag en vertroue uitgewys – en hoe dié tendense ondernemings en die ekonomie beïnvloed.
Volgens die tendense wat hy bespreek het, het die staat se gesag in mense se oë tussen 2013 en 2023 beduidend afgeneem – asook mense se vertroue in demokrasie. In dié omgewing word etniese en streeksowerhede, desentralisasie en ʼn koalisiekultuur toenemend belangrik.
Nog ʼn tendens waarna Mulder verwys het, is “mag na vermoë”. Dit beteken dat mag na die eerste vlak verskuif wat werklik die vermoë het om ʼn probleem op te los of ʼn diens te lewer. Volgens hom is dit ʼn tendens wat oor die volgende dekade al hoe duideliker sigbaar sal word.
Die ekonomie beweeg reeds toenemend in die rigting van privatisering, terwyl gemeenskappe meer verantwoordelikheid aanvaar en self begin doen wat die staat nie meer doeltreffend kan doen nie. Verandering gebeur dus nie by die stembus nie. Dit gebeur eerder daarna, wanneer gemeenskappe en ondernemings self begin bou.

Van die groter prentjie na ʼn praktiese strategie
Nadat Mulder die groter prentjie geskets het, het Juanita Vorster die gesprek van realiteit na strategie geneem.
Vorster het gefokus op die werklikhede van die sakewêreld en hoe werkgewers hul ondernemings te midde van voortdurende ontwrigting doelgerig kan bestuur. Ekonomiese en politieke verandering, nuwe tegnologie, veranderende markte en onverwagte ontwrigtings kan ondernemings maklik van koers dwing. ʼn Strategie moet daarom nie bloot op papier goed lyk nie, maar ook in die werklikheid uitvoerbaar wees.
Haar voorlegging het op aanpasbaarheid, sakevolhoubaarheid, menslike kapitaal en vaardigheidsontwikkeling gefokus.
“Die doel is nie om elke ontwrigting te probeer vermy nie, maar om dit tot die onderneming se voordeel te gebruik,” het sy onder meer gesê. “Werkgewers wat hul koers duidelik bepaal, hul mense ontwikkel en bereid is om hul planne aan te pas, is beter toegerus om die onverwagte uitdagings van die sakewêreld te hanteer.”

Werkgewers neem deel aan die gesprek
Ná die twee voorleggings het Mulder en Vorster aan ʼn bankgesprek deelgeneem. Kongresgangers kon vrae stel en die temas van die dag verder saam met die sprekers verken.

Van krisis tot koers
Die Werkgewerskongres van 2026 het nie voorgegee dat die uitdagings wat Suid-Afrikaanse ondernemings in die gesig staar, eenvoudig gaan verdwyn nie. Dit het werkgewers eerder aangemoedig om die werklikheid duidelik te sien, die veranderende mags- en ekonomiese tendense te verstaan en dan doelbewus ʼn strategie vir die pad vorentoe te kies.
Te midde van onsekerheid bly ondernemings, vaardige mense en sterk gemeenskappe van die belangrikste boukragte in Suid-Afrika.
Hierdie jaarlikse kongres is ʼn móét op elke werkgewer se kalender. Moenie komende geleenthede misloop nie! Raak hier betrokke.