
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Werkgewerskongres: Saam vorentoe
Solidariteit het op 24 Oktober 2024 ʼn uiters suksesvolle Werkgewerskongres aangebied in samewerking met Ajani en Akademia, waartydens ʼn kragtige boodskap aan werkgewers oorgedra is. Die kongres het beklemtoon hoe belangrik dit is om werksgeleenthede te skep en ʼn blywende, positiewe verskil in die arbeidsmark te maak.
“Ons kan nie langer wag vir die toekoms nie. Die toekoms is nou, en ons kan dit slegs betree as ons saam vorentoe beweeg. Dit is juis waaroor die werkgewerskongres gaan wat vanjaar in samewerking met Solidariteit, Ajani en Akademia aangebied is. Ons ondersoek die wêreld van werk en opleiding om te kyk hoe ons saam vorentoe kan beweeg. Dit gaan oor werkskepping, dit gaan oor mekaar in diens neem, dit gaan daaroor om verantwoordelikheid te neem vir die jonger geslag. Ons sien daarna uit dat elke werkgewer wat ons ondersteun, saam vorentoe beweeg,” sê Mandy-Michelle Thackwray,bestuurder van Werk by Solidariteit.
Een van die hoofboodskappe van die kongres was hoe die wêreld van werk en opleiding lyk noudat ons ʼn regering van nasionale eenheid het. Wat kan ons verwag? Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, het klem gelê op die uitslag van die verkiesing, die samewerking van politieke partye en die stand van sake rakende die land se huidige swak ekonomie.
Tydens die kongres het Connie ʼn bankgesprek gevoer met Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, en Hennie Bierman, hoof van die Solidariteit-netwerkplatform by Solidariteit. Paul het genoem dat Sol-Tech ten doel het om studente te leer om probleme op te los. Sol-Tech wil dus jong mense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling verwesenlik deur doelspesifieke opleiding aan te bied. Marthinus het by Paul aangesluit en klem gelê op die belangrikheid van vaardighede en bevoegdheid om werkplekgereed te wees en ʼn klimaat van innovering te skep.
Daarby het Akademia vanjaar ten doel gehad om bewusmaking onder werkgewers te skep van studiegeleenthede wat nauurs vir werknemers beskikbaar is. “Akademia het ʼn nauurse model wat vir werknemers die opsie bied om te werk en te studeer. Hierdie opsie is ook beskikbaar vir mense wat voltyds werk en nog nooit studeer het nie,” sê Mareli Swanepoel, bestuurder van institusionele projekte en ondernemings by Akademia.
Solidariteit se roeping en visie is duidelik – om elkeen wat wil werk, te ondersteun om veilig en voorspoedig, vry van inmenging van die staat, te kan werk. Die kongres het klem gelê op die belangrikheid van gemeenskap en die idee van #ElkeenHelpEen.
Alhoewel Solidariteit nie ʼn werwingsagentskap is nie, bied Solidariteit steeds ʼn platform waar werknemers en werkgewers mekaar kan ontmoet. Werkgewers kan hier gratis poste plaas op Solidariteit of hulle kan Solidariteit ook gebruik om hul ondernemings gratis te bemark deur hier te klik. Hierdie bemarking sluit in dat vakante poste ook op sosiale netwerke en binne spesifieke beroepsgemeenskappe bemark word, en dit bereik ʼn groot gehoor.
Die verhouding tussen Solidariteit en werkgewers is van kardinale belang. Solidariteit wil nie net hê dat werkgewers suksesvol moet wees nie, maar ook dat hulle bemagtig word met inligting en ondersteuning. Dit is deel van Solidariteit se strewe om ʼn gemeenskap van werkgewers te skep wat saamwerk om die Suid-Afrikaanse arbeidsmark te verbeter.
Elkeen van ons het ʼn verantwoordelikheid om mekaar te help, en ons doen dit deur mense in diens te neem sonder ras as maatstaf. Solidariteit kan dit nie self doen nie, dus onderneem jy as organisasie om saam met ons vorentoe te beweeg.
Ondersteun ons jong mense wat afstudeer by ons opleidingsinstellings soos Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding en Akademia, en skep vir hulle geleenthede. Ajani plaas Sol-Tech-studente vir indiensopleiding by meer as 400 goedgekeurde werkgewers regoor Suid-Afrika. Registreer by Ajani en help ’n voornemende student om saam vorentoe te beweeg. Bemagtig jou personeel deur befondsing vir nauurse studie by Akademia om vooruitgang in jou organisasie te verseker.
Registreer hier jou gratis profiel op Solidariteit of besoek www.solidariteit.co.za vir meer inligting. Die toekoms is in jou hande!