Foto Krediet: Pexels - energepic.com
Gekopieër
Werkloses weggewys oor hulle té wit is
Regstellende aksie of rassisme? Wanneer werklose jongmense eenvoudig verbied word om te registreer vir ’n werksprogram en Covid-hulpfondse net vir sekere rasse beskikbaar is, is dit duidelik dat regeringsbeleid sy doel verbygesteek het. Hier is voorbeelde van hoe rassekwotas mense regstreeks benadeel.
Solidariteit is sedert 2025 reeds besig om die absurde rassereëls wat deur die regering toegepas word, te beveg – nie net in die howe nie, maar deur dit onder ʼn internasionale gehoor se aandag te bring. Nou is die tyd, met die G20-beraad wat aan die einde van 2025 plaasvind, om ras op die agenda te kry waar wêreldleiers saam met president Cyril Ramaphosa om ʼn tafel sit. Raak hier betrokke https://veldtogte.solidariteit.co.za/cerd-rassewette-moet-stop/
Die ergste voorbeelde van die uitwerking van die rassereëls is voorbeelde van hoe werkloses en mense wat as gevolg van hulle ras in ʼn krisis gedompel is geleenthede ontsê word. Hier is onlangse voorbeelde waarby Solidariteit betrokke was:
1. ʼn Hulpfonds wat op ras gebaseer is
Die voormalige minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het in 2021 tydens die Covid-19-inperking aangekondig dat die Toerismefonds, wat daargestel is om besighede wat toe onder enorme ekonomiese druk was by te staan, slegs vir swart mense beskikbaar is. Die lenings en toelae vir Covid-hulp is slegs toegestaan aan ondernemings met ʼn swart eienaarskap van 51% of hoër. Solidariteit en AfriForum het dié kriterium van die departement in die hof teengestaan. Die appèlhof in Bloemfontein het in sy uitspraak verklaar dat die Departement van Toerisme se implementering van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as maatstaf vir sy hulpfonds onwettig is.
2. Jong werkloses word weggewys
In 2018 kom dit onder ons aandag dat die Yes4Youth-jeugwerkloosheidsinisiatief wit werklose jong mense eenvoudig nie toelaat om op die webwerf te registreer nie met ʼn boodskap wat stipuleer dat die program slegs oop is vir jong, werklose mense wat bruin, swart of Indiër is.
Die program diskrimineer dus direk teen werklose wit mense in die naam van regstelling.
Ná druk vanaf Solidariteit het Yes4Youth dit aanvanklik gestel dat die program oopgestel is vir alle rasse, maar omdat die program in bestaande SEB-wetgewing gesetel is, kan die program nie daarvan wegkom dat swart werkloses bo wit werkloses bevoordeel word nie. Die program is tans in teorie oop vir jong mense van alle rasse – maar besighede kan slegs SEB-punte uit die program kry indien hulle werklose swart, bruin of Indiërjeugdiges in diens neem.