Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Werknemerwelstand belangriker as ooit
Deur Nico Strydom
Finansiële uitdagings, toenemende druk in die werkplek en ʼn al moeiliker balanseertoertjie rakende werk-lewe-balans het ʼn nuwe ontstellende verskynsel onder werknemers tot gevolg – die “stille breekpunt”.
Om deur werk en die lewe te navigeer, word wêreldwyd meer uitdagend, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie, sê Debbie Goodman, uitvoerende hoof van die werwingsagentskap Jack Hammer Global.
“Meeste mense is bewus van die stryd – hetsy hul eie of dié van geliefdes, kollegas of vriende – om kop bo water te probeer hou terwyl hulle op verskeie persoonlike fronte sukkel. Om tyd af te neem om aan hierdie aangeleenthede aandag te gee, is vir die meeste mense eenvoudig nie ʼn opsie nie.”
Volgens Goodman veroorsaak die “stille breekpunt” dat werknemers fisiek opdaag, maar emosioneel afskakel, gedryf deur ekonomiese vrese en meedoënlose druk. “Vir maatskappye hou dit ʼn beduidende risiko vir produktiwiteit, innovasie en werkplekkultuur in, wat dringende aandag van leiers vereis,” sê sy.
“Hierdie kan nie as ʼn individuele probleem afgemaak word wat slegs deur die individu aangespreek moet word nie. Afgesien van die etiese plig wat leiers teenoor hul werknemers en hul welstand het, kan – en sal – spanne wat uit desperate individue bestaan, ʼn negatiewe impak op die produktiwitieit hê.”
Gallup-data toon dat wêreldwye werknemerbetrokkenheid van 23% tot 21% gedaal het, wat neerkom op ʼn geraamde $438 miljard in verlore produktiwiteit.
Vir Suid-Afrikaanse maatskappye is dit ʼn stille bedreiging. “Suid-Afrikaners is geen vreemdelinge vir veerkragtigheid nie, maar die toenemende uitdagings op alle fronte oor die afgelope paar jaar beproef selfs die mees standvastige werknemers. Met inflasie wat die koste van noodsaaklikhede opstoot, voel baie mense soos die spreekwoordelike padda in ʼn pot, wat onder konstante druk prut sonder enige verligting,” sê Goodman.
“Die vrees vir werkverlies, stagnante salarisse, inflasie en beperkte geleenthede vir bevordering, het werkers versigtiger gemaak en verkies hulle dit om veilig te speel eerder as om loopbaanveranderinge te waag.”
Werknemers mag dalk opdaag en voldoende presteer, maar hul moedeloosheid en gebrek aan entoesiasme en innovasie, ondermyn sakedoelwitte.
“In Suid-Afrika, waar ekonomiese oorlewing dikwels loopbaanambisie oorskadu, kan onbetrokke werknemers die werkplekkultuur ondermyn en groei onderdruk. Leiers wat die tekens ignoreer, loop die risiko om talent, produktiwiteit en innovasie te verloor. Ondernemings wat versuim om die oorsake van ekonomiese vrese, uitbranding en verminderde empatie in die werkplek aan te spreek, loop die risiko om trae innovasie en dalende moraal te hê.”
Volgens Goodman moet leiers en bestuurders eerstens ʼn akkurate begrip van die werklike situasie kry en dan werk om egte menslike verhoudings te bou en kwessies direk te pak. Dit sluit onder meer in om een-tot-een-gesprekke te prioritiseer, ekonomiese realiteite te erken, empatie in die werkplek te herbou en om in welstand te belê.
Personeel speel ʼn deurslaggewende rol in die sukses van enige organisasie. ʼn Welstandsprogram skep en bevorder nie net vertroue binne die organisasie nie, maar ondersteun ook gesonde en positiewe personeel, ongeag die grootte van die organisasie.
In hierdie kursus van Solidariteit kyk die bedryfsielkundige Ewald Rossouw holisties na werknemers se welstand. Dit sluit in die soorte welstand, hoe die verskillende komponente bymekaarkom en die belangrikheid van welstand op onder meer werknemers se produktiwiteit en die kultuur van ʼn organisasie.
Die kursus bevat onder meer raad en wenke oor hoe om die impak van personeelwelstand te hanteer en verduidelik waarom welstand in die werkplek noodsaaklik is.
Klik hier indien jy hierdie kursus wil voltooi, of lees hier meer oor hoe jy vir dié kursus kan inskryf.