
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Werkplekveiligheid: Werkgewer vs werknemer
Deur Bianca Prinsloo
Wanneer dit by veiligheid in jou werkplek kom, het beide werknemers en werkgewers pligte en verantwoordelikhede teenoor mekaar. Dit gaan nie bloot net daaroor om boksies af te merk nie, maar om seker te maak dat almal aan die einde van die dag veilig by die huis kan uitkom. Maar watter verantwoordelikhede is wie s’n?
Wat is die werkgewer se verantwoordelikheid?
Kom ons begin by die werkgewer. Werkgewers het ʼn hele paar verantwoordelikhede teenoor hul werknemers ingevolge artikel 8 van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (No. 85 van 1993). Die eerste verantwoordelikheid, wat ook die oorkoepelende een is, is die verantwoordelikheid van werkgewers om vir hul werknemers ʼn veilige en gesonde werksomgewing te skep en te onderhou. Dit beteken dat jy as werkgewer aan gevaarlike situasies moet aandag gee en foute herstel, masjinerie onderhou en laat diens, en seker maak alles is in ʼn goeie, veilige toestand. Daar word ook van werkgewers verwag om voortdurend risiko-analises te doen om potensiële risiko’s te identifiseer en te verseker dat dit herstel word om moontlike insidente te voorkom.
Die tweede verantwoordelikheid is om seker te maak dat jou werknemers die korrekte opleiding ontvang. Niemand kan die regte reëls volg as hulle nie die regte reëls ken nie. Maak dus seker jou werknemers word met die regte kennis toegerus.
Derdens is jy as werkgewer daarvoor verantwoordelik om die korrekte en nodige persoonlike beskermende toerusting aan jou werknemers te verskaf, soos veiligheidskoene, handskoene en harde hoede. Jy mag ook nie die koste daarvan van jou werknemers se salarisse verhaal nie.
Wat is die werknemer se verantwoordelikheid?
Werknemers, aan die ander kant, is ook nie sonder enige verantwoordelikhede nie. Artikel 14 van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (No. 85 van 1993) bepaal die pligte van werknemers om die werkplek veilig te help hou.
Daar word van werknemers verwag om die veiligheidsmaatreëls wat ingestel is, na te kom. As daar reëls is om insidente te voorkom, is daardie reëls daar vir ʼn doel. Wanneer jou werkgewer die korrekte persoonlike beskermende toerusting aan jou verskaf, is dit jou plig om dit met sorg te hanteer en om dit te gebruik soos wat voorgeskryf word.
Werknemers het ook ʼn plig om hul kollegas nie in gevaar te stel nie en só te werk dat hulle deur hul optrede as werknemer ander in ag neem en ook beskerm. Werknemers mag nie onnodige risiko’s veroorsaak nie. Wanneer ʼn werknemer wel ʼn gevaarlike situasie identifiseer, moet dit dadelik aan die betrokke lynhoof gerapporteer word, of indien beskikbaar, aan die veiligheidsverteenwoordiger.
Of jy nou ʼn werkgewer of werknemer is, veiligheid is almal se verantwoordelikheid. Uiteindelik bly die hoofdoel eenvoudig en gemeenskaplik om veilig en gesond na jou huis toe te kan terugkeer.
Solidariteit staan sy lede by met kwessies rakende beroepsgesondheid en -veiligheid (BGV). Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, besoek gerus ons webblad hier. Solidariteit is jou vennoot in die werkplek en is toegewyd daaraan om te verseker dat ons lede vry, veilig en voorspoedig werk en leef.