
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Werkskepping ʼn móét vir nuwe regering om SA te red
Deur Heléne Leonard
Beleide wat skadelik is vir ekonomiese groei het die Suid-Afrikaanse ekonomie oor die jare heen al meer aan bande gelê. Solidariteit is van mening dat ʼn nuwe regering van nasionale eenheid (RNE) werkskepping bo-aan sy prioriteitslys móét plaas sodra hy met sy werksaamhede begin.
Die tekortkomings wat werkloosheid tot gevolg het, word duidelik uiteengesit in ʼn onlangse verslag deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) wat die skrikwekkende hoë werkloosheidsyfer vir 2024 uitwys.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is daar in sekere sektore ʼn effense toename in werksgeleenthede gesien, maar dit is nog geensins ʼn aanduiding dat die afname in dié sektore oor die laaste dekade of meer tot ʼn einde gekom het nie. Voor dit gebeur, moet energiesekerheid, veral ten opsigte van elektrisiteitsverskaffing, bevestig word.
Du Buisson sê verder ekonomiese groei maak staat op die groei van nuwe ondernemings en die skep van nuwe werksgeleenthede.
“Daar is nie ʼn ander manier om werk te skep nie. Groei is die enigste uitweg. Die pasverkose regering, wat maar oorwegend die ou regering is, sal dringend moet herbesin oor hul beleidsrigtings en vermoëns,” sê Du Buisson.
Solidariteit is bekommerd oor die kwartmiljoen werksgeleenthede wat in die afgelope paar maande verlore gegaan het. Dit is ʼn kwartmiljoen huishoudings wat hul drome vir hulself en hul kinders eers op ys moet plaas en dalk selfs wonder waar hul volgende ete vandaan sal kom.
“Dit is die uitkoms van beleid wat nie bevorderlik is vir ekonomiese groei nie,” sê Du Buisson.
Solidariteit bou voort aan aanlyn werkgemeenskappe soos sy aanlyn werkfasiliteringsplatform wat duisende werksgeleenthede bied vir diegene wat wil en kan werk. Die platform bring die werkgewer en werknemer in kontak met mekaar en probeer sover moontlik werkloosheid verminder.
Opleidingsinstellings onder die vaandel van die Solidariteit Beweging, wat teen hierdie tyd welbekend is, word tans uitgebrei en verder ontwikkel.
Werk en werksgeleenthede is reeds hoog op Solidariteit se prioriteitslys en móét ook deur die regering as prioriteit beskou word om SA se ekonomie te red.
Sluit hier aan by Solidariteit se gemeenskapsplatform waar duisende poste daagliks gelaai word, vir werksoekers om werk te vind.