loading
Artikels
2 maande gelede
werksoek-101-hoe-om-jou-eerste-werk-te-kry-sonder-om-mal-te-word

Foto Krediet: OkayDeer

Werksoek 101 – Hoe om jou eerste werk te kry (sonder om mal te word!)

Om vir jou eerste werk te soek kan jou dalk moedeloos laat. Wat moet mens doen om net jou voet in die deur te kry? Myrtle Endley het pas in haar eerste pos ingestap en deel wenke vir hoe sy haar eerste werk gekry het.


Deur Myrtle Endley

So, jy wil ʼn werk hê? Welkom by die grootmenswêreld. Hier kry jy nie punte vir deelname nie en niemand gaan vir jou ʼn goue ster gee net omdat jy betyds opgedaag het nie. Werksoek is ʼn wilde rit, maar moenie stres nie! Hier is vier dinge wat ek geleer het terwyl ek my pad deur die oerwoud van CV’s, onderhoude en “ons laat weet jou binnekort” gevind het.

1️. Soek werksgeleenthede wat jou waardes en doelwitte weerspieël

Gaan na maatskappye wat ooreenstem met jou waardes. Kry iemand met wie jy kan gesels en maak ‘n afspraak. Netwerke maak deure oop.

2️. Begin vroeg

Die meeste internskappe se aansoekdatums sluit reeds vroeg in die vorige jaar. Beplan vooruit en wees gereed.

3️. Wees oop vir verskillende ervarings

Jy hoef nie reeds op 25 jou hele pad uitgestippel te hê nie. Ek het onlangs ‘n film gekyk waar een karakter vir ‘n ander sê: “Almal is nog verlore op 25.” Jy het tyd om jouself te ontdek en soms gebeur dit deur verskillende werke te doen. Jou eerste werk bepaal nie noodwendig jou hele loopbaan nie.

4. Doen net iets!

In ’n ander film wat ek gekyk het, was die raad: “As jy nie gaan skiet nie, gaan jy nooit iets raakskiet nie.” Hoe gaan jy ooit weet waarvan jy hou as jy nie probeer nie? Die wêreld is nie soos wat jy in die klas geleer het nie. Jy gebruik wel jou kennis, maar daar is soveel ander aspekte van werk en lewe wat jy net deur ervaring leer.

Moenie verwag om van dag een af alles reg te hê nie. Jy weet nog nie alles nie, en dit is reg so. Dit is jou kans om te leer en vrae te vra. Dit raak moeiliker om vrae te vra soos jy aangaan.

As jy nou al enige ervaring kan opdoen, doen dit. Enige werk is werk en gaan jou help. Dr. Jordan Peterson, die wêreldbekende sielkundige en skrywer, het vir ’n jaar lank spykers in ’n treinspoor ingekap en het in daardie tyd baie van die idees wat hy nou met die wêreld deel, ontwikkel.

Onthou, jy hoef nie nou al die antwoorde te hê nie – begin net. Stuur daardie CV, probeer daardie internskap, vra vir raad. Dit is jóú reis, gryp dit met albei hande aan!

Skep jou gratis profiel op Solidariteit en begin sommer nou om jou netwerk uit te bou en jou loopbaanopsies te ondersoek.

Myrtle Endley is ’n intern by die Solidariteit Navorsingsinstituut

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel