loading
Blogs
7 uur gelede
werksonderhoude-vyf-vrae-wat-by-elke-onderhoud-geld

Foto Krediet: OkayDeer

Werksonderhoude: Vyf vrae wat by elke onderhoud geld

Die meeste van ons moes al vir ’n werksonderhoud of twee gaan. Sommige van ons hanteer die spanning wat met ’n werkonderhoud gepaardgaan beter as ander. Hoe dit ook al sy, ons almal ken daardie angswekkende gevoel en die koue sweet wat op jou voorkop uitslaan as jy in die vertrek instap waar die onderhoud plaasvind.

Dit is dus absoluut noodsaaklik om vir elke onderhoud voor te berei en hierdie artikel sê presies vir jou wat jy moet kan beantwoord.

Hieronder volg aspekte wat ’n onderhoudvoerder op een of ander wyse tydens die onderhoud gaan aanraak:

1) Kan jy die werk doen?

Dit is seker die mees logiese vraag van almal. Hierdie vraag is egter baie kompleks. Op ’n basiese vlak is daar sekere tegniese vaardighede wat vir enige posisie geld. Onderhoudvoerders stel daarin belang om te weet of jy oor die nodige vaardighede beskik om van dag een af te kan begin werk. Des te meer sal hulle wil weet of jy daardie vaardighede al vantevore gebruik het in vorige posisies wat jy beklee het.

2) Het jy ’n positiewe ingesteldheid?

Selfs al beskik jy oor al die nodige vaardighede om suksesvol te wees in ’n sekere posisie, kan jy dikwels onsuksesvol in jou aansoek wees omdat jy nie noodwendig die regte ingesteldheid uitstraal nie. Hierdie aspek is so belangrik dat onderhoudvoerders dikwels deur ’n kandidaat se positiewe ingesteldheid oortuig word selfs al beskik die kandidaat nie noodwendig oor al die tegniese vaardighede nie.

3) Pas jy in by die kultuur?

Om “in te pas” is dikwels moeilik om te bepaal. Onderhoudvoerders kyk egter of jy gemaklik by die maatskappy se kultuur sal inpas en daar hoort. Dit kom daarop neer of jou vaardighede en persoonlikheid die talente van jou potensiële kollegas komplementeer.

4) Ken jy die maatskappy?

Die onderhoudvoerder gaan definitief probeer uitvind of jy moeite gedoen het om meer omtrent die betrokke maatskappy uit te vind en of jy verstaan wat hulle doen en waarvoor hulle staan.

5) Wil jy werklik die werk hê?

Dit gebeur dikwels dat kandidate bloot net onderhoude bywoon om hul opsies oop te hou of om onderhoudsvaardighede op te doen of selfs om ’n aanbod te kry wat as bedingingsmeganisme gebruik kan word om die huidige werkgewer te oortuig om ’n verhoging te kry.

Wees dus opreg in jou antwoorde en wys dat jy werklik in die pos en die werkgewer se maatskappy en belange belangstel.

Wil jy voorberei vir jou volgende werksonderhoud? Klik hier om toegang te kry tot Solidariteit se onderhoudgids en daardie droomwerk, jou realiteit te maak.

Solidariteit glo dat elkeen wat wil werk, moet kan werk en daarom het ons die werkplatform daargestel: sodat jy jou droomwerk kan opspoor. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en raak vandag deel van ’n Afrikaanse aanlyn gemeenskap, waar poste nie op grond van ras toegedien word nie.

Klik hier om jou profiel te skep!

 

 

 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel