loading
avatar
Artikels
3 jaar gelede
wolkskoolmodel-laat-leerders-se-punte-styg

Foto Krediet: Maroela Media

Wolkskoolmodel laat leerders se punte styg

Deur Reon Janse van Rensburg

Navorsing van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) oor die doeltreffendheid van die Wolkskool se aanlyn leerplatform, wat met kontakonderrig vervleg is, dui daarop dat 67% van die leerders wat ná die Covid-19-inperkings steeds van die Wolkskool gebruik maak en aanvullend tot kontakonderrig steeds met aanlyn leer voortgaan, se punte drasties verbeter het.

Die Wolkskool was gratis beskikbaar om leerders tydens 2020 se inperkingstydperk te ondersteun. Sedertdien gebruik duisende leerders die platform óf as ʼn hulpbron vir ekstra klasse, óf as deel van hulle skool se kurrikulum.

“Volgens 67% van die deelnemende gesinne het gereelde gebruik van die Wolkskool die akademiese prestasie van leerders verbeter,” sê Valentyn van der Merwe, hoof van Innovasie by die SOS.

“Waar leerders minstens een keer per week van die Wolkskool gebruik gemaak het, het ongeveer 81% aangedui dat hulle ʼn verbetering in hulle punte gesien het. Ons is baie bly om te sien dat een uit drie leerders die Wolkskool weekliks gebruik.”

Volgens ouers het die gemiddelde leerder se punte met 10% verbeter, terwyl daar ouers is wat ʼn 30%-verbetering in hul kinders se punte gesien het. Die navorsingsvraelys is deur 286 gesinne van oral in die land voltooi.

ʼn Laerskoolhoof sê: “Ons het agtergekom dat die platform maklik genoeg vir laerskoolleerders is om self te gebruik. Minder as ʼn derde van ouers met laerskoolkinders moet baie betrokke wees by die Wolkskool se gebruik, terwyl die oorblywende 70% van ouers slegs van tyd tot tyd help. Die meeste leerders kan onafhanklik op die platform werk.”

Die Wolkskool word boonop met uitstekende resultate in die klaskamer geïmplementeer. Die navorsing wys egter dat dit ook doeltreffend deur individuele leerders gebruik word. Meer as die helfte van die gesinne wat aan die navorsing deelgeneem het, gebruik die Wolkskool as “ekstra klas”, terwyl 45% dit as bykomende hulpbron tot hul onderrig gebruik.

Die Wolkskool is ʼn wêreldklas aanlyn leerplatform vir leerders van graad 1 tot 12, met meer as 16 000 videolesse, werkkaarte en aflaaibare werkboeke. Individuele leerders kan by die Wolkskool aansluit teen ʼn bekostigbare maandelikse fooi. Agt laerskool- en 16 hoërskoolvakke se werk word volledig gedek. Die Wolkskool-platform maak van die jongste tegnologie gebruik en bied ʼn stabiele en vinnige aanlyn leerervaring – in Afrikaans!

“Met die Junie-eksamen wat voorlê, is dit die ideale tyd om nuwe leerdoelwitte te stel. Ouers moenie wag tot aan die einde van die jaar om hul kinders te help om hul akademiese prestasie te verbeter nie. Stel nóú reeds nuwe doelwitte vas en maak die Wolkskool deel van die oplossing om skoolwerk in ʼn japtrap te verstaan,” sê Valentyn van der Merwe, hoof van Innovasie by die SOS.

Jou kind kan ook by die Wolkskool baat. Om meer oor die Wolkskool uit te vind, besoek gerus die volgende skakel – https://wolkskool.co.za/

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel