loading
Artikels
1 jaar gelede
word-so-n-effektiewe-spanleier-2

Foto Krediet: OkayDeer

Word só ʼn effektiewe spanleier

Deur Nico Strydom

Om ʼn effektiewe spanleier te wees is van kardinale belang om sukses in ’n organisasies te behaal.

Volgens Jacqueline van Rooijen, ʼn direkteur, sakestrateeg en leierskapafrigter by Ycagel, vereis effektiewe spanleierskap ‘n kombinasie van sterk kommunikasievaardighede, emosionele intelligensie en die vermoë om spanlede te motiveer en te inspireer.

“Dit kan egter uitdagend wees om jou doeltreffendheid as spanleier te bepaal,” sê Van Rooijen.

“Effektiewe leiers kommunikeer duidelik en konsekwent. As spanlede gereeld verward is oor verwagtinge of take, dui dit op ‘n gebrek aan kommunikasie,”  sê Van Rooijen. “Om dit aan te spreek moet daar oop kommunikasielyne gevestig word, gereelde opdaterings verskaf word en spanlede aangemoedig word om vrae te vra en bekommernisse te deel.”

‘n Noodsaaklike aanduiding van effektiewe leierskap is om te verseker dat spanlede in lyn is met die oorhoofse doelwitte van die organisasie. Van Rooijen meen dit kan gedoen word deur gereeld te evalueer of die span sy missie, visie en doelwitte verstaan en ondersteun. “As daar ‘n gebrek aan belyning is, neem die tyd om die doel agter elke spanlid se werk te verduidelik en hoe dit bydra tot die groter prentjie.”

Betrokke werknemers is meer produktief en toegewyd tot hul werk en daarom is dit belangrik om aanwysers soos entoesiasme, motivering en werkstevredenheid binne ʼn span te monitor. “As jy ‘n afname in betrokkenheidsvlakke opmerk, probeer om die onderliggende oorsake, soos werklading of gebrek aan erkenning, te identifiseer en stappe te doen om dit aan te spreek.”

Vertroue en respek is volgens Van Rooijen die grondslag van effektiewe spanleierskap. “Evalueer die vlak van vertroue binne jou span deur die dinamika en die manier waarop spanlede interaksie het waar te neem. Moedig oop en eerlike kommunikasie aan en kweek ‘n kultuur van wedersydse respek.”

Effektiewe leiers bevorder samewerking en spanwerk, sê Van Rooijen. “Bepaal of jou spanlede saamwerk, kennis deel en mekaar se sterk punte benut, en vestig ‘n ondersteunende omgewing waar almal se bydraes waardeer word.”

’n Goeie leier belê ook in die groei en ontwikkeling van spanlede. “Monitor of jou spanlede toegang het tot opleidings- en ontwikkelingsgeleenthede. Evalueer gereeld hul vaardighede en identifiseer areas waar bykomende ondersteuning of hulpbronne nodig is. Gee konstruktiewe terugvoer en moedig deurlopende leer aan.”

Volgens Van Rooijen kan gereelde prestasie-evaluasies help om vordering uit te wys en areas vir verbetering te identifiseer. “Implementeer ‘n stelsel vir jou span indien ‘n amptelike een nie in jou organisasie bestaan nie. Stel duidelike verwagtinge, stel prestasiemaatstawwe vas en gee tydige terugvoer aan jou spanlede. Erken hul prestasies en bied leiding in gebiede wat ontwikkeling vereis.”

Ontleed die span se vermoë om ingeligte besluite te neem en probleme doeltreffend op te los. “Neem hulle besluite saam, gebaseer op data en ontleding, en word probleme dadelik aangespreek? Moedig kritiese denke aan, verskaf leiding wanneer nodig, en bemagtig spanlede om eienaarskap van hul besluite te neem,” sluit Van Rooijen af.

Raak deel van ‘n aanlyn werkgemeenskap waar jy met ander leiers kan skouer skuur in jou beroep. Klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel