loading
Artikels
1 dag gelede
word-stil-op-goeie-vrydag

Foto Krediet: OkayDeer

Word stil op Goeie Vrydag

Op Goeie Vrydag herdenk ons God se onbeskryflike liefde en genade – die kruisiging van Jesus Christus. Ek vra jou om saam met my stil te word en aan die onmeetbare genade van Christus se kruisiging te dink. Die lydensweg van opoffering, verwerping en uiteindelike oorwinning aan die kruis word deur verskeie Skrifgedeeltes duidelik uitgebeeld. Lees meer hier.


Deur Kyla-Ann du Toit

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”– Johannes 3:16-18

Op Goeie Vrydag herdenk ons die diepste teken van God se liefde vir ons – die kruisiging van Jesus Christus. Dit is die dag waarop ons stilstaan om na te dink oor wat Jesus vir ons gedoen het. Die kruis is nie net ʼn simbool van lyding nie, maar ook van hoop en die ewige lewe wat Jesus vir ons met sy bloed en lyding verseker het.

Word stil en besin oor God se onmeetbare liefde.

Ons sondeskuld

“Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” – Jesaja 53:4-6

Sy wonde bring genesing

“Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe.” – 1 Petrus 2:24-25

Bespot en bespoeg

“Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom aan die heidene uitlewer. Dié sal met Hom spot en op Hom spoeg en Hom slaan en Hom doodmaak. En drie dae later sal Hy uit die dood opstaan.”– Markus 10:33-34

Die verlatenheid van Jesus aan die kruis

“Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur. Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: ‘Eloï, Eloï, lemá sabagtani?’ Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?’” – Markus 15:33-34

Jesus se finale opoffering

“Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het. Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: ‘Hierdie man was werklik die Seun van God.’” – Mattheus 27:50-54

Christus sterf vir sondaars

“Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. ʼn Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ʼn regverdige nie. Ja tog, vir ʼn goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” – Romeine 5:6-8

Drie dae in die graf

“Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ʼn groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.” – Mattheus 12:40

Jesus het vir ons ʼn voorbeeld gestel deur onselfsugtig te lewe en tot in die dood gehoorsaam te wees. Sy genade is onbeskryflik groot! Op hierdie Goeie Vrydag, terwyl ons stil word en besin oor Jesus se pyn en lyding vir óns, mag ons hart vol dankbaarheid wees vir die ongelooflike genade wat ons van God ontvang het.

Geseënde Paasfees!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel