
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Wys die weg, maar laat húlle stap: Ouers as loopbaanmentors
In ʼn wêreld waar loopbane nie meer reguit paaie volg nie, is dit belangriker as ooit dat ouers die rol van mentor eerder as bestuurder inneem. Hoe kan jy ʼn loopbaanmentor vir jou kind wees? Lees gerus verder om uit te vind!
Deur Karen Waldeck
Wat wil jy eendag word?
Dis ʼn eenvoudige vraag wat elke kind op ʼn stadium hoor. Maar vir ouers is dié vraag dikwels veel meer as net ʼn geselsie – dis ʼn geleentheid om leiding te gee, raad te gee en soms, helaas, te veel te probeer beheer. In ʼn wêreld waar loopbane nie meer reguit paaie volg nie, is dit belangriker as ooit dat ouers die rol van mentor eerder as bestuurder inneem. Maar die vraag bly staan: hoe kan jy dit doen sonder om jou kind se drome met jou eie vrese en verwagtinge te verwar?
Jou kind se pad is nie joune nie (en dis goed so!)
Ouers het ʼn natuurlike drang om hul kinders teen teleurstelling te beskerm. Jy wil hê hulle moet veilig, suksesvol – en bo alles, gelukkig wees. Maar wat as hul idee van geluk anders lyk as joune? Dis hier waar mentorskap sy waarde wys.
ʼn Mentor wys nie die pad nie – hulle verlig dit. Jy is daar om vrae te vra, nie om antwoorde af te dwing nie. Volgens die loopbaanplatform Indeed, is selfontdekking ʼn kritieke deel van loopbaankeuses. Wanneer ouers te vinnig wil ingryp, ontneem hulle hul kind van die geleentheid om hul eie sterk- en swakpunte te ontdek.
Luister om te verstaan, nie om te reageer nie
Wanneer jou kind sê dat hy ʼn YouTuber, beïnvloeder of wildbewaarder wil word, is jou eerste reaksie dalk om die realistiese bril op te sit. Maar in plaas daarvan om dadelik met statistieke of vrae soos “Hoe gaan jy geld maak?” te reageer, probeer eerder om nuuskierig te wees. Vra vrae soos:
- • Wat trek jou aan tot dié beroep?
- • Hoe dink jy lyk ʼn tipiese dag in dié beroep?
- • Watter vaardighede dink jy gaan jy nodig hê?
Hierdie soort vrae help jou kind om hul denke te verhelder – en wys dat jy regtig omgee.
Deel jou storie – maar moenie dit hulle s’n maak nie
Ouers het ʼn ongelooflike rykdom aan ervaring, maar dit beteken nie dat jou kind dieselfde foute moet vermy wat jy eens in die gesig gestaar het nie. In plaas daarvan om te sê “Ek het dit so gedoen en jy moet ook,” sê eerder “Ek onthou toe ek jou ouderdom was – ek het nie geweet wat ek wou doen nie, en dit het my gehelp groei.”
Sodoende word jy ʼn gids, nie ʼn bestuurder nie. Dit verseker dat jou kind nie verplig voel om in jou voetspore te volg net om jou trots te maak nie.
Moenie loopbane in bokse sit nie
Vandag se arbeidsmark is vloeibaar. Volgens Forbes is Gen Z geneig om nie meer net een beroep hul hele lewe lank te volg nie. Jou kind se droom om ʼn kunstenaar te wees, kan beteken dat hulle vandag ʼn kunsonderneming bedryf, môre as ʼn digitale ontwerper werk en oormôre ʼn kreatiewe entrepreneur word.
Dis belangrik om ʼn breër siening van sukses te hê. Help jou kind om eerder vaardighede as spesifieke poste te identifiseer. Webtuistes soos Solidariteit kan realistiese loopbaanverkenning ondersteun sonder om die kind se drome dood te druk. Solidariteit help skoliere om hul belangstellings te ondersoek. Deur Solidariteit se gratis belangstellingsbepaler te voltooi, kan jy en jou kind reeds ʼn goeie idee kry van watter studierigtings om te oorweeg – en watter om te vermy.
Moedig eksperimentering aan
ʼn Goeie mentor weet dat leer deur te doen die mees doeltreffende leer is. Help jou kind om geleenthede te vind waar hulle verskillende beroepe kan verken – soos vakansiewerk, vrywilligerswerk of skaduwerk.
Soms is die doel nie om dadelik die regte beroep te kry nie, maar om uit te vind wat nie pas nie – en dis net so waardevol.
Bly kalm – ook wanneer hulle loopbaan verander
Dis normaal vir kinders om van plan te verander. Vandag wil hulle ʼn rekenaarprogrammeerder wees, môre droom hulle daarvan om ʼn akteur te wees, en oor drie jaar wil hulle regte studeer. Dis nie onstabiliteit nie – dis ontdekking.
Soos wat Jonathan Haidt sê: “Don’t prepare the road for the child, prepare the child for the road.”
ʼn Goeie mentor hou aan leer
Wanneer jy jou kind ondersteun, groei jy self ook. Jy leer om te vertrou, om te laat gaan, en om in hul uniekheid te glo. Dalk leer jy selfs iets van ʼn nuwe beroep waarvan jy nog nooit gehoor het nie!
Kies om teenwoordig te wees, nie oorbetrokke nie
Jou kind het nie ʼn bestuurder nodig nie – hulle het ʼn bondgenoot nodig. Iemand wat hul drome respekteer, hul vrese verstaan en hul potensiaal raaksien, selfs al is dit nog nie duidelik nie.
Jou rol as ouer verander met tyd – van versorger na mentor, van gids na ondersteuner. Wanneer jy kies om jou kind se loopbaanpad saam met hulle te stap, sonder om hul skoene te dra, gee jy vir hulle iets wat geen graad kan vervang nie: selfvertroue.
Solidariteit bied waardevolle hulpbronne vir beide ouers en skoliere. Skep ʼn gratis profiel op Solidariteit, besoek die Skoliere-afdeling en ontdek ʼn skatkis van hulpbronne wat die pad vir jou en jou kind sommer seepglad maak!