
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Yster slyp yster op die Sol-Tech-plaas
Deur Heléne Leonard
Solidariteit, in samewerking met Sol-Tech, het op 24 Maart 2023 vir die eerste keer die #YsterSlypYster-ambagdag aangebied. Hierdie fees is ter viering van Nasionale Ambagdag.
Op dié dag was daar kenners en uitstallers uit verskeie ambagrigtings – insluitend motorwerktuigkunde, elektries, meganies en soveel meer. Uitstallers soos Truvelo-wapens, ʼn stoomtreinmodel, ʼn mesmaker en vele meer kundiges het hulle kennis met ons kom deel. Ambag-boeresport is ook een van die aktiwiteite wat baie aksie uitgelok het.
Die dag is ook deur dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van die ingenieursbedryf by Solidariteit, en Stef Pretorius, koördineerde van Solidariteit se Ambagnetwerk, bygewoon.
Volgens Venter eer hierdie dag die spesialiste in die ambagsbedryf wat elke dag sulke merkwaardige werk doen. Hierdie dag is vir die ysters wat ysters slyp. “Ons moedig hierdie spesialiste aan om hulle kennis en ervaring aan jongmense, soos die Sol-Tech-manne en -vroue, oor te dra,” het hy gesê. “As student en meester saamspan, is die pad na ʼn suksesvolle toekoms oop.”
Die beroepsnetwerk bied ʼn totale loopbaanpad vir jongmense. Solidariteit Jongwerkende het ook die dag bygewoon om bystand te bied aan Sol-Tech-manne en -vroue. “Die groot ding is dat ons jongmense kan bemagtig sodat hulle kan sien wat in die beroep gebeur en hoe belangrik dit is,” het Dirk Smit, netwerkorganiseerder van die ambagnetwerk, gesê. Die meeste produkte word deur ambagslui ontwikkel. Iewers moet artikels gebou word of gemaak word, en dit is belangrik dat jongmense dit besef.
“Masjiene kan baie doen, maar dit vervang nie die ambagslui wat agter die stuur staan nie.” Die doel van ʼn dag soos die Ambagdag is dus juis om jongmense te laat besef hoe hulle mekaar moet bemagtig en wat hul loopbaanpad behels
#JouYster-nominasies het ook gedurende die geleentheid geopen waar familie, vriende of kollegas van ambagslui ʼn man of vrou kan nomineer wat ʼn verskil in die ambagwêreld maak. Lees meer hier.
Die geleentheid was ʼn groot sukses en Solidariteit bedank elke man en vrou in die ambagte. Sonder julle sou ons waarskynlik nie sonkrag so effektief kon benut in Suid-Afrika nie.
Hier is die wenners van die fees:
Beste span:
Lady & the Tramp (Liniq Langeveld & Pieter Roux)
Jeug-wenner:
Luan Bekman
Jongwerkende-wenners:
Arnold van Nieuwkoop
Wilton Matthews
Henk Blignauht