Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Belasting 101 vir jong werkendes
Deur Karen Waldeck
Wanneer jy vir die eerste keer begin werk, is die feit dat jy nou belastingpligtig is nie iets waaraan jy dadelik dink nie. Dit is maklik om jou salarisstrokie sommer net te ontvang sonder om regtig aandag te gee aan die aftrekkings en krediete wat daarop verskyn. Maar, het jy geweet dat daar verskeie belastingaftrekkings en -krediete tot jou beskikking is wat jou belastinglas aansienlik kan verlaag?
Hierdie voordele bestaan veral om jong werkers te ondersteun, maar dit verg ʼn bietjie kennis en beplanning om die voordele ten volle te benut. Wat weet jy regtig van jou belastingregte en die voordele wat vir jou beskikbaar is?
Wat is inkomstebelasting?
Inkomstebelasting is ʼn betaling, oftewel ʼn heffing, wat jy aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oorbetaal op die inkomste wat jy verdien. Hierdie heffing is van toepassing op jou salaris, bonusse en enige ander vorm van inkomste. Jy moet elke jaar jou verdienste aan die SAID rapporteer en seker maak dat die regte belastingbedrag betaal word.
Wat is belastingaftrekkings?
Belastingaftrekkings verminder die bedrag van jou belasbare inkomste, terwyl belastingkrediete direk van jou belastingrekening afgetrek word. Albei kan ʼn groot verskil maak aan hoeveel belasting jy uiteindelik moet betaal of selfs kan terugkry.
Wat is ʼn paar van die algemeenste belastingsaftrekkings wat op ʼn maandelikse basis teen jou belasting afgetrek kan word?
Mediese uitgawes
Het jy geweet dat sekere mediese uitgawes van jou belasting afgetrek kan word? Dit is nie net jou bydraes tot ʼn mediese skema wat aftrekbaar is nie. As jou mediese uitgawes buite jou mediese fonds meer as ʼn sekere persentasie van jou inkomste is, kan jy hierdie uitgawes as ʼn aftrekking eis. Hierdie uitgawes sluit in doktersbesoeke, hospitaalverblyf, en selfs medisyne wat nie deur jou mediese skema gedek word nie. Dit is belangrik om alle kwitansies en bewysstukke vir hierdie uitgawes te hou aangesien SAID vereis dat jy hierdie dokumente moet voorlê indien hulle ʼn oudit doen.
Bydraes tot pensioen- en voorsorgfondse
Deur bydraes tot pensioenfondse, voorsorgfondse of uittreeannuïteite te maak, kan jy jou belasbare inkomste verminder. Dit is ʼn uitstekende manier om vir jou toekoms te spaar terwyl jy jou huidige belastingrekening verlaag.
Studiegeld
As jy onlangs begin werk het en studielenings moet delg, of steeds besig is om te studeer, is daar belastingvoordele daaraan verbonde wat jy kan benut. Uitgawes wat jy vir jou studie aangegaan het, kan moontlik van jou belasbare inkomste afgetrek word, mits dit aan sekere vereistes voldoen. Deur hul belastinglas te verlig, is hierdie aftrekkings daarop gemik om jong werkers te ondersteun wat hul vaardighede en kwalifikasies wil verbeter.
Belastingkrediete vir jong werkers
Werknemervoordele
Sommige maatskappye bied voordele soos ʼn behuisingstoelaag, ʼn vervoertoelaag of ʼn selfoontoelaag. Hierdie voordele kan belastingvry wees of teen ʼn laer koers belas word.
Leer- en ontwikkelingskrediete
As jy geakkrediteerde leer- of opleidingsprogramme volg, kan jy dalk vir belastingkrediete kwalifiseer. Dit moedig voortdurende leer aan en help jong werkers om hul vaardighede te verbeter, terwyl jy ook ʼn bietjie belastingverligting kan geniet.
Wenke om jou belastinglas te verlaag
Maak gebruik van die dienste van ʼn belastingadviseur
As jy onseker is oor wat jy kan eis, oorweeg dit om ʼn belastingadviseur te raadpleeg. Hulle kan jou help om alle moontlike aftrekkings en krediete te identifiseer en jou belastingvoordeel optimaal te benut. Jy kan ook na webtuistes soos Tax Tim gaan kyk om jou te help om jou belasting vooraf te bereken voordat jy jou opgawe indien.
Hou alle dokumente
Dit is belangrik om alle kwitansies en bewysstukke van jou uitgawes te hou. Dit sal jou help om te bewys dat jy vir sekere aftrekkings kwalifiseer indien die SAID navraag daaromtrent doen.
Beplan vooruit
Deur jou finansies vooruit te beplan, kan jy verseker dat jy ten volle gebruik maak van alle beskikbare belastingvoordele. Jy kan ook min of meer begroot en spaar indien jy ʼn bedrag aan SAID moet inbetaal.
Maak gebruik van Solidariteit se belastinggids
Solidariteit verstaan dat die belastingseisoen vir jong werkendes soos ʼn berg voor hulle kan lê. Daarom het ons vir jou ʼn omvattende belastinggids saamgestel om hierdie moeilike bul by die horings te pak. Klik hier om jou gratis gids af te laai!
Daar is verskeie belastingvoordele tot jong werkendes se beskikking wat hul belastinglas kan verlig. Raak betrokke by jou grootste Afrikaanse aanlyn werkgemeenskap op Solidariteit! Skep jou gratis profiel en neem die eerste stap om jou belasting lag-lag in te dien.