
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Bevorder werknemers se werk-lewe-balans só
Deur Nico Strydom
Die bevordering van ʼn gesonder werk-lewe-balans is nie net vir werknemers belangrik nie maar ook vir werkgewers, veral wat werkstevredenheid en personeelomset betref.
Die Covid-19-pandemie het groot veranderinge in die werkplek tot gevolg gehad. Dit het mense onder meer laat besin oor wat hul verwagtinge rakende hul werk is en oor die belangrikheid van ʼn gesonde werk-lewe-balans.
Werk-lewe-balans verwys normaalweg na die hoeveelheid tyd wat aan werk bestee word teenoor die hoeveelheid tyd wat aan dinge buite die werk bestee word, hetsy dit tyd is wat saam met geliefdes deurgebring word of om persoonlike belangstellings na te streef en stokperdjies te beoefen.
Navorsing toon dat ʼn goeie werk-lewe-balans talle voordele vir werknemers inhou soos beter fisieke gesondheid en geestesgesondheid en verhoogde produktiwiteit, motivering en doeltreffendheid – wat ewe belangrik vir werkgewers is. Dit sal ook hoër werkstevredenheid tot gevolg hê wat uiteindelik tot ʼn daling in personeelomset sal lei.
In PwC se Global Workforce Hopes and Fears Survey 2024 word aangevoer dat dit noodsaaklik is dat leiers welstand as ʼn kernwaarde in hul organisasie prioritiseer. “Dit sluit in die skep van ʼn kultuur wat ʼn balans tussen werk en lewe aanmoedig, waar leiers realistiese verwagtinge stel en openlik en met empatie en deursigtigheid kommunikeer. Faktore soos buigsaamheid en bevredigende werk is ook hoogs gewaardeerde aspekte van die werknemerervaring. Buigsaamheid help werknemers om hul werk-lewe-balans beter te handhaaf, wat hulle help om gemotiveerd te bly by die werk, en help om hulle energie en helderheid te gee om hul taak goed te verrig.”
Alhoewel werkgewers nie alleen verantwoordelik is om hul werknemers by te staan om ʼn gesonde werk-lewe-balans te handhaaf nie, is daar volgens Sage baie dinge wat maatskappye kan doen om werknemers te help om hierdie balans te vind.
Dit sluit onder meer in buigsaamheid rakende werksure, om werknemers aan te moedig om blaaskanse te vat of om bykomende voordele aan werknemers te bied. Dit kan ook help om werknemers se werkslading gereeld te hersien en om ook deur voorbeeld te lei en te wys ʼn goeie werk-lewe-balans is ʼn prioriteit.
Ander moontlike maniere om ʼn gesonde werk-lewe-balans onder werknemers te probeer handhaaf sluit in om verlof te bestuur ten einde te vermy dat werknemers uitbrand. Daar kan ook oorweeg word om werknemers meer tyd af te gee. Werknemers kan ook gevra word wat hulle sal help om ʼn beter-werk-lewe-balans te bewerkstellig. Dit is egter belangrik om te onthou dat elke werknemer anders is en dat daar moontlik nie ʼn een-grootte-pas-almal-benadering is nie.
As jy wonder oor jou werknemers se welstand, is hierdie kursus vir jou! “Welstand van jou personeel” is ʼn aanlyn kursus wat lede van Solidariteit gratis kan voltooi. Deur hierdie kursus te volg, kan jy jou personeel se welstand bepaal, jou rol in die handhawing van personeelwelstand verstaan en leer hoe om ʼn welstandsprogram in die werkplek te implementeer.
Volg die kursus op Solidariteit, jou aanlyn platform vir werk en leer!