loading
Artikels
2 maande gelede
die-rol-van-ki-in-werknemersontwikkeling-en-opleiding

Foto Krediet: OkayDeer

Die rol van KI in werknemersontwikkeling en -opleiding

Deur René Brown

Voortgesette leer is ʼn onbetwiste noodsaaklikheid in ʼn tyd waar tegnologiese ontwikkelings gedurig verskeie industrieë herskep. Wanneer organisasies nie ʼn belegging maak om deurlopend werknemers se vaardighede op te skerp nie, kan daardie organisasie nie effektief aanpas by ʼn veranderende omgewing nie.

Alhoewel kunsmatige intelligensie (KI) grotendeels die rede is waarom daar ʼn behoefte aan nuwe vaardighede is, is dit ook die oplossing. KI maak dit makliker as ooit tevore om jou werkmag se vaardighede op datum te hou.

Te danke aan generatiewe KI-tegnologie, wat inhoud kan skep en genereer, is dit moontlik vir KI-aangedrewe leerplatforms om persoonlike en interaktiewe leerplanne te skep wat vir die vaardigheidsvlak van elke werknemer aangepas word. Die betrokkenheid van KI in die vaardigheidsopbou-proses kan selfs voor die skep van hierdie leerplanne begin, aangesien KI-aangedrewe leerplatforms areas kan identifiseer waar daar vaardigheidsgebrekke in ʼn organisasie bestaan. Volgens eLearning Industry, kan KI-platforms werknemerdata, werksvereistes en toekomstige tendense analiseer om te bepaal waar vaardighede tekort kom.

KI-aangedrewe leerplatforms kan meer effektief wees met die opbou van vaardighede in vergelyking met bronne wat voorheen beskikbaar was vir hierdie doeleinde. Dit kan die leerproses wesenlik verbeter deur die pas daarvan te versnel. Forbes verduidelik dat KI-aangedrewe leerplatforms die vermoë het om onmiddellike terugvoer aan gebruikers te bied sodra werk ingedien word, om foute uit te wys en areas van verbetering dadelik te identifiseer.

Om slegs ʼn paar voorbeelde te noem, kan generatiewe KI-aangedrewe leerplatforms soos Degreed, NovoEd, Cognii en Cegid ʼn kritieke rol speel in die spoedige oorbrugging van vaardigheidsleemtes in ʼn organisasie.

Terwyl dit reeds algemeen aanvaar word dat KI ons manier van werk onherroeplik gaan verander, moet ons nie vergeet dat dit ook een van die mees doeltreffende oplossings is om organisasies voor te berei vir hierdie nuwe manier van werk nie.

Bly op hoogte van die jongste tendense in jou industrie en word deel van jou grootste Afrikaanse aanlyn werkgemeenskap. Skep jou Solidariteit profiel hier en sluit aan by jou beroepsnetwerk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel