
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die top-10-IT-vaardighede wat elke nuwe werker moet hê
Deur Karen Waldeck
In ʼn wêreld waar tegnologie die sleutel tot sukses is, is dit van uiterste belang vir nuwe werkers om toegang te hê tot die regte rekenaarvaardighede om hul werkslewe te fasiliteer en hul produktiwiteit te verbeter. Die groeiende vraag na tegnologiese kennis in verskeie beroepe vereis ʼn goeie begrip van die sleutelvaardighede wat nodig is om by te bly met die wêreld van tegnologie en die vereistes van die moderne werkomgewing.
Watter IT-vaardighede (in sagteware) sal tot jou voordeel wees wanneer jy aansoek doen vir enige werk?
- Microsoft Office Suite (Word, Excel, PowerPoint):
Vaardighede in die Microsoft Office-pakket word deesdae deur byna elke werkgewer vereis. Dit is een van die mees basiese en mees gebruikte IT-programme in vandag se tegnologiese wêreld. Microsoft Word is ideaal vir dokumente, terwyl Excel uitstekend is vir data-analise en -organisasie. PowerPoint is weer onmisbaar wanneer dit kom by professionele voorleggings. Met soveel gratis aanlyn platforms waar jy kursusse kan doen oor Microsoft sal dit tot jou voordeel wees om jou kennis op te skerp.
- Gmail en/of Outlook:
In ʼn wêreld van werk is kommunikasie een van die belangrikste faktore om ʼn suksesvolle onderneming te bedryf. Ja, dit is maklik om ʼn vinnige oproep te maak, maar jy kan nie belangrike dokumente deur ʼn oproep stuur nie. Daarom is Gmail of Outlook noodsaaklik vir kommunikasie, afsprake en takbestuur. Hulle bied ook kalenderfunksies wat jou help om jou dag te organiseer. Saam met die vaardigheid om op e-posse te kan werk moet jy ook seker maak dat jy basiese e-posetiket het. Lees hier meer oor hoe jy e-posetiket kan bemeester.
- Zoom en/of Microsoft Teams:
Met die nuwe werksera wat besig is om oor te neem waar almal van die huis af werk, is dit uiters belangrik om in staat te wees Zoom te kan gebruik. Vandag word byna alle vergaderings en selfs onderhoude oor ʼn Zoom- of Teams-oproep gedoen. Zoom- en/of Teams is ʼn sagteware program wat gebruik word vir virtuele vergaderings, video-oproepe en spangesprekke. Hulle bied skermdeel- en opnamefunksies vir effektiewe kommunikasie.
- Adobe Acrobat Reader:
Adobe Acrobat Reader is een van die mees gebruikte sagteware om PDF-dokumente te lees en te redigeer. Dit bied funksies om kommentaar te lewer, dokumente te onderteken en die veilige hantering van dokumente. Adobe word op jou rekenaar afgelaai en alle PDF-dokumente word dan direk deur dié program oopgemaak. Daar is nie ʼn groot leerproses rondom Adobe nie en dit is een van die maklikste maar ook belangrikste programme wat jy kan leer gebruik.
- Grammarly:
Ons is tans in ʼn era waar die meeste kommunikasie in ondernemings en maatskappye deur e-posse geskied, daarom is die korrekte spelling en taalgebruik uiters belangrik. ʼn Goeie professionele e-pos moet foutloos wees en daarom kan Grammarly met tyd jou beste vriend raak. Waarvoor word Grammarly gebruik? Vir die verbetering van skryfvaardighede en die versekering van professionele kommunikasie, bied Grammarly nuttige wenke. Dit vang spel- en grammatika-foute op en bied voorstelle vir verbetering.
- Evernote:
Evernote is ʼn uitstekende sagtewareprogram om notas te neem en organisering te doen. Dit maak dit maklik om notas, idees en sketse te bewaar en toeganklik te hou op verskeie toestelle.
- Google Drive en/of Dropbox:
Die grootste doelwit om te bereik is om meer bome te red, wat beteken minder papier moet vervaardig word. Die meerderheid ondernemings gebruik steeds tans papier wat in lêers gestoor word binne in ʼn stoorkamer. Cloud-stoorplekke soos Google Drive of Dropbox maak dit maklik om dokumente te deel en saam te werk aan projekte. Dit bied ook ʼn veilige rugsteun vir belangrike lêers. Met alle dokumente wat aanlyn gestoor word kan niks wegraak of skeur en verouder nie.
- Google Chrome:
Google Chrome is een van die mees gewilde internetblaaiers. Dit bied ʼn vinnige en veilige soek-ervaring, sowel as ʼn verskeidenheid nuttige uitbreidings en funksies. Dit word daagliks gebruik vir navorsing en ook as ʼn groot kommunikasieportaal vir ondernemings.
- Antivirusprogram:
Die beskerming van jou rekenaar teen virusse en ander bedreigings is van kardinale belang. Daarom moet ʼn betroubare antivirusprogram soos Norton, McAfee of Kaspersky op jou rekenaar geïnstalleer word. Alhoewel dit nie ʼn alledaagse program is waarmee jy moet werk nie is dit steeds belangrik om te weet hoe om dit te installeer en op te stel.
- LinkedIn en/of sosiale media:
Vir professionele netwerkdoeleindes en loopbaanontwikkeling is LinkedIn ʼn onmisbare hulpbron. Dit bied geleenthede vir jong werkendes, platforms om kennis op uit te ruil en insigte vir verskeie bedrywe. Sosiale media is vandag deel van die samelewing. Die meeste ondernemings is tans grotendeels op sosiale media betrokke daarom is dit belangrik om te weet hoe om sosiale media te gebruik.
Kennis oor sagteware en programme voeg nog meer waarde toe aan die gereedskapskas van nuwe werkers, wat hulle help om hul professionele loopbaan te verbeter en suksesvol te wees in ʼn tegnologies gevorderde omgewing. Dit is belangrik om jouself op hoogte te hou van die nuutste tegnologie en alles wat daarmee saamgaan. Dit gee jou as werker ʼn voordeel bo ander.
Solidariteit se IT-netwerk bied verrykende geleenthede waar jy as IT-spesialis jou professionele netwerke kan uitbrei, jou kennis en vaardighede kan opskerp en deel met ander, en so ook jou beroep kan bemagtig. Skakel vandag nog in by dié beroepsnetwerk en druk jou stempel in jou beroep af!