Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die uitdagings en voordele van afstandwerk
Deur René Brown
Afstandwerk het aansienlik toegeneem in die nadraai van die Covid-19-pandemie. Tot soveel as 94 Suid-Afrikaanse maatskappye se werknemers het in ʼn opname aangedui dat 60% van hulle ʼn kombinasie van afstand- en kantoorwerk verkies. Verder toon hierdie resultate dat 44% van werknemers dit verkies om slegs van die huis af te werk.
Voordele van afstandwerk
Dit is met goeie rede dat kenners meen afstandwerk het gekom om te bly, aangesien dit wesenlike voordele vir beide die werkgewer en werknemer inhou. Uitgawes kan vir albei partye aansienlik verminder. Deur van die huis af te werk, kan die werknemer geld spaar deur pendelkoste uit te skakel, terwyl die werkgewer minder aan die onderneming se infrastruktuur hoef te bestee. Met minder werknemers in die kantoor, word daar uit die aard van die saak minder toerusting benodig en so ook ʼn kleiner perseel met laer huurkoste.
Studies dui aan dat afstandwerkers 30 tot 35% meer produktief is as werknemers wat voltyds op kantoor werk. Afstandwerkers ondervind nie probleme met afleidings, soos geraas of geselsies aanknoop, wat soms in ʼn kantoor-opset voorkom nie. Verder kan die ure per week wat andersins aan pendel afgestaan sou word, eerder aan werk gewy word.
Uitdagings van afstandwerk
Terwyl mense wat van die huis af werk se werk-lewe-balans kan verbeter deur ʼn meer buigsame werkskedule toe te laat, kan dit ook moeilik wees om die lyn te trek as ʼn werknemer nie aan vaste kantoorure gebonde is nie. Wanneer ʼn werknemer se huis ook sy of haar werkplek is, moet ʼn doelbewuste besluit geneem word oor wanneer die einde van die werksdag aanbreek. Dit is belangrik vir afstandwerkers om konkrete doelwitte vir die werksdag te stel en om vir die dag af te skakel wanneer daardie take voltooi is.
ʼn Gebrek aan interaksie met mense kan lei tot ʼn gevoel van isolasie wat sy tol eis op werknemers se geestesgesondheid. Die welstand van werknemers speel ʼn kritieke rol in hul produktiwiteit sowel as in die sukses van ʼn onderneming. Solidariteit het ʼn kortkursus saamgestel oor hoe om die impak van personeelwelstand te hanteer en die belangrikheid daarvan te verstaan. Hierdie kursus is gratis vir Solidariteit-lede beskikbaar.
Nog ʼn uitdaging van afstandwerk is ʼn gebrek aan motivering. Aangesien ʼn werknemer nie omring word deur kollegas met wie hulle spontane interaksies kan hê nie, veral wanneer dit by probleemoplossing kom, kan dit vir werkers uitdagend wees om met oplossings vorendag te kom. Om ʼn vinnige gesprek met jou kollega langs jou te voer oor ʼn struikelblok wat jy in jou werk ervaar, is ʼn waardevolle voordeel wat ontbreek wanneer jy alleen by die huis werk. Natuurlik maak tegnologie en blitsboodskappe (“instant messaging”) dit makliker om steeds hierdie interaksies in ʼn ander vorm te hê, maar direkte interaksie met mense bly onvervangbaar.
Solidariteit se beroepsnetwerke bied vir jou ʼn gemeenskap en ondersteuningsnetwerk wat jou loopbaanpad saam met jou stap. Lede van ʼn beroepsnetwerk kan baat vind by netwerkgeleenthede sowel as kontaksessies saam met ander kundiges in hul beroepsveld, waar werkbare oplossings vir uitdagings bedink kan word.
Betrokkenheid by ‘n beroepsnetwerk en bywoning van kontaksessies en dinkskrums kan afstandwerkers help om meer betrokke te wees.
Solidariteit stap die totale loopbaanpad saam met jou, sien om na jou belange en beskerm jou in jou werk. Skep vandag nog ʼn gratis profiel op Solidariteit om toegang tot ʼn wêreld van werk te kry!