loading
Artikels
7 maande gelede
gholfdag-bring-hoop-vir-toekomstige-regs-en-finansiesstudente

Foto Krediet: Solidariteit

Gholfdag bring hoop vir toekomstige regs- en finansiesstudente

Deur Ané Janse van Rensburg

Die Solidariteit Finansiesnetwerk en die Solidariteit Regsnetwerk het vandag die perfekte kombinasie van sport en sosiale betrokkenheid ingespan om ʼn verskil aan jong mense se lewens te maak. Díe gholfdag, wat aangebied is by die pragtige Copperleaf Gholfbaan, was veel meer as net ʼn dag van goeie houe en hope pret.

Dit is ʼn inisiatief om fondse in te samel om die OSK Lukas Taljaard Studiefonds ʼn stewige hupstoot te gee. Solidariteit vat só hande met Solidariteit Helpende Hand (SHH) om finansiële ondersteuning te gee aan studente wat ʼn toekoms vir hulleself in ʼn regs- of finansiële rigting wil bou.

ʼn Fonds met ʼn doel

Die Studietrust vir Regs- en Finansiesstudente is ʼn inisiatief wat ontstaan het uit die noodsaak om jong, talentvolle Suid-Afrikaners in hierdie sleutelsektore te ondersteun. In die lig van die onlangse uitdagings wat in tersiêre studie ervaar word, is dit duidelik dat baie jong mense wat groot potensiaal het finansiële struikelblokke in die gesig staar. Hierdie fonds maak dit vir studente moontlik om met selfvertroue verder te studeer, wetende dat hulle nie hulle finansiële uitdagings alleen hoef te oorkom nie.

ʼn Gemeenskap in aksie

Die gholfdag self was ʼn bewys van wat bereik kan word wanneer ʼn gemeenskap saamwerk. Danksy die bydraes van gholfspelers, borge en ander deelnemers het Solidariteit se lede gesorg dat die doelwit van die dag – om fondse vir die trust in te samel – ver oortref is. Bekendes uit die regs- en finansiële sektore het ook deelgeneem, wat bygedra het tot die energie en entoesiasme wat op die dag geheers het. “Dis wonderlik om te sien hoe die Solidariteit-gemeenskap saamspan om in die toekoms van ons jong mense te belê,” sê Émil Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk.

Van die groot borge wat aan die gholfdag deelgeneem het, was onder meer Mercedes, Virseker en CIBA. Hulle is dan ook as goue borge vereer en hulle het ʼn reusebydrae tot die fonds gemaak.

Studiefonds: ʼn baken van hoop

Die fondse wat ingesamel word, gaan direk na die studietrust en sal aangewend word om studente te ondersteun wat uitblink in hul akademiese werk én ʼn sterk dryfkrag toon om ʼn verskil in Suid-Afrika te maak. Solidariteit glo dat hierdie studente, wat as toekomstige leiers in die regs- en finansiessektor beskou word, ʼn beduidende bydrae sal lewer tot die bou van ʼn sterker en meer regverdige ekonomie in die land.

Lees hier om uit te vind hoe jy tot die fonds kan bydra.

Die Solidariteit Finansiesnetwerk en die Solidariteit Regsnetwerk het weer bewys dat hulle hul gemeenskap ondersteun deur te fokus op die bou van ʼn volhoubare toekoms vir die volgende generasie.

Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en raak deel van jou beroepsnetwerk. Dit is hier waar ons saam kan bou aan ʼn beter toekoms – een wat ons bemagtig en beskerm!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel