loading
Artikels
6 maande gelede
help-jou-kind-om-die-regte-loopbaan-te-kies

Foto Krediet: OkayDeer

Help jou kind om die regte loopbaan te kies

Deur Essie Bester

As ouer is jy gretig om te sien hoe jou kind hom- of haarself in ʼn vrugbare en ekonomies lewensvatbare loopbaan vestig. Loopbaankeuses is ʼn belangrike besluit wat ʼn individu se persoonlike en professionele lewe vorm. Daarom is dit noodsaaklik dat jy jou kind help om ʼn beroep te kies wat hulle interesseer en waaroor hul passievol is.

Met Solidariteit se gratis Skoliere-aanbod, kan jy nou jou kind maklik en met gerustheid in sy of haar loopbaanbesluite bystaan. Dis belangrik, want enige kortsigtige besluit, kan jou kind van werksbevrediging ontneem en tot groot ongelukkigheid lei.

Daarteenoor is die voordele van ʼn bevredigende loopbaan legio. Dit skep ʼn gevoel van doelgerigtheid, persoonlike bevrediging, geluk, finansiële stabiliteit, sekuriteit, persoonlike ontwikkeling, professionele groei, identiteit, trots en prestasie. Die regte loopbaan help ʼn mens om ʼn gesonde werk-lewe-balans te vestig, wat jou in staat sal stel om ander belangstellings en stokperdjies buite die werk na te streef.

Volgens ʼn onlangse artikel op LinkedIn moet ouers dit vermy om op konvensionele advies te fokus, soos om ʼn gesogte loopbaan te kies of ʼn werk wat buitensporige hoë inkomste beloof. Neem eerder onderstaande wenke ter harte:

1. Moenie jou drome op jou kind afdwing nie

Jou kind is ʼn unieke individu met voorkeure en gewoontes van hulle eie. Moenie jou kind as ʼn uitgebreide weergawe van jouself behandel en jou drome op hom en haar afdwing nie. Wees ondersteunend en moedig hulle belangstellings en doelwitte aan terwyl jy hul help met besluite wat hulle moet neem.

2. Oorweeg persoonlikheid en belangstellings

Help jou kind om hulle persoonlikheidseienskappe en belangstellings te identifiseer. Dit kan waardevolle leidrade verskaf oor die tipe loopbane wat goed by hulle sal pas. Solidariteit se Belangstellingsbepaler sal jou kind help om sy belangstellings te identifiseer sodat hy verskeie moontlike loopbaankeuses kan ondersoek. Hierdie gratis aanlyn vraelys is deur gekwalifiseerde bedryfsielkundiges ontwikkel en is maklik om te voltooi.

3. Moedig jou kind aan om te ontdek en te verken

Help jou kind om sy sterkpunte en passie te ontdek. Laat hom toe om verskillende buitemuurse aktiwiteite, stokperdjies en kursusse te ondersoek. Op dié wyse sal jy uitvind wat jou kind se belangstelling prikkel terwyl hy of sy ontdek wat hulle geniet om te doen. Deur middel van skaduwerk kan jou kind verder ervaring opdoen oor hoe ’n loopbaan in die praktyk sal lyk.

4. Kweek onafhanklikheid

Moedig jou kind aan om eienaarskap van sy of haar loopbaankeuses te neem. Oriënteer jou om ʼn verskeidenheid opsies na te vors, die voor- en nadele teen mekaar op te weeg en ingeligte besluite te neem.

5. Voer oop en eerlike gesprekke

Bespreek verskeie beroepsopsies met jou kind, asook die vaardighede en onderrig wat dit vereis. Gesels oor wat hulle met verskillende universiteitsgrade kan doen, en watter poste vir hul beskikbaar kan wees. Hou ʼn dinkskrum oor hoe jou kind sy of haar natuurlike sterkpunte na daardie domein kan bring.

6. Stel jou kind bloot aan werklike situasies

Moedig hulle aan om uit hul gemaksone te kom en tyd te spandeer saam met professionele persone in verskillende velde by jou werk of ander besigheidsorganisasies. Dit kan ʼn groot impak hê op die besluit wat hy of sy neem. Só sal hulle ʼn beter begrip kry van wat verskillende werke behels en hoe die werksomgewing lyk.

7. Beklemtoon waardes

Jou kind sien op na jou as rolmodel. Moedig hulle aan om na te dink oor watter waardes vir hom of haar belangrik is en hoe hy of sy daardie waardes in hul beroepskeuses kan inkorporeer. Help hulle om te sien hoe hulle beroepskeuse ʼn positiewe impak op ons land en die wêreld kan hê.

8. Besef dat aanleg en belangstellings kan verskil

Aanleg en belangstellings stem nie altyd ooreen nie. Aanleg is ʼn ingebore talent terwyl belangstelling jou passies en voorkeure weerspieël. Jou kind kan byvoorbeeld ʼn aanleg vir wiskunde toon, maar geen passie vir ʼn loopbaan in daardie rigting hê nie. Na voltooiing van die Belangstellingsbepaler kan jy die volgende stap neem en jou kind psigometriese toetse by ʼn loopbaanvoorligter laat aflê. Hierdie toetse gee vir jou ʼn beter idee van beroepsopsies en kan vir jou kind meer sekerheid oor sy of haar toekoms bied. Lees hier meer oor die aflegging van psigometriese toetse.

Solidariteit het ʼn lys van gekwalifiseerde bedryfsielkundiges saamgestel wat jou kind kan help met die aflegging van dié toetse. Verder wil Solidariteit jou kind graag toerus met ʼn volledige prentjie van hom- of haarself, sodat hy of sy hulle toekomsprentjie met selfvertroue kan inkleur. Moedig jou kind aan om betrokke te raak by Solidariteit se Skoliere-aanbod en só saam met ons aan die toekoms te bou. Skep vandag nog vir jou kind ’n gratis profiel op Solidariteit! Klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel