
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Implementeer die regte kultuur in die werkplek
Deur Maryna Eksteen
Kultuur in die werkplek speel ʼn belangrike rol in die prestasie van jou onderneming. Werkplekkultuur verteenwoordig die identiteit of persoonlikheid van jou onderneming. Dit is duidelik in die alledaagse ervarings van jou werknemers en die algemene atmosfeer in die kantoor. Namate jou onderneming groei, verander die kultuur. Die kultuur in ʼn werkplek sluit in jou werkplekomgewing, missie, waardes en oortuigings, etiek, visie, taal, praktyke, sowel as jou werknemers en bestuurspan.
Solidariteit en AfriForum Sakenetwerk het hande gevat om ʼn netwerkgeleentheid aan te bied waar Marno Boshof, ʼn motiveringspreker, in diepte gesels het oor kultuur in die werkplek en hoe jy ʼn gesonde werkplekkultuur kan implementeer.
Volgens Marno is kultuur ʼn menslike aspek en is dit belangrik om te verstaan dat die mense met wie jy saamwerk dinamiese wesens is en nie statiese dinge nie. Om ʼn gesonde kultuur in die werkplek te skep, is dit belangrik om te kyk hoe jy met mense werk. Vra jouself af of werknemers wíl werk of móét werk. Indien werknemers voel dat hulle móét werk, is dit tyd om die kultuur te verander. Volgens Marno is kultuur alles – van die kelder tot die raadsaal – en kan dit nie in ʼn boksie geplaas word nie.
Marno is van mening dat leierskap ook ʼn kardinale rol speel in die kultuur van ʼn werkplek. “Wanneer leierskap ʼn gesonde omgewing skep, vind groei natuurlik plaas, en mense hou van groei.”
Volgens Marno bepaal ons daaglikse optrede ons produktiwiteit en wanneer ʼn bestuurder vir ʼn werknemer te kenne gee hoe waardevol sy rol in die onderneming is, ongeag hoe klein dit ook al mag wees nie, sal dit bepaal of mense ʼn “moet-” of ʼn “wil”-kultuur in die werkplek aanneem. Maak ʼn punt daarvan om jou kollegas te groet, al is dit wanneer jy van die parkeerarea af kantoor toe loop. Niemand wil by ʼn plek werk waar mense voortdurend onaangenaam is nie. Maak werknemers deel van gesprekke, want hulle koop graag in as hulle voel hulle is deel van ʼn projek of ʼn belangrike besluit.
By Solidariteit is dit vir ons belangrik dat elkeen wat wíl werk, móét kan werk en góéd kan werk. Daarom is dit nodig om gesprekke te voer oor kultuur in die werkplek en hoe om dit te implementeer.
“Kultuur is die hoeksteen van gesonde organisasies. Dit het nie net ‘n invloed op produktiwiteit nie, maar ook die sukses van die onderneming. Kultuur moet werklik gelewe word in alles wat die organisasie doen, en word gevestig deur etiese leierskap, waar leiers die vermoë het om positiewe, belynde gedagtes, gedrag en ontwikkeling in die personeel van die organisasies kan vestig en bou.” – Mandy Thackwray, Bestuurder: Werk by Solidariteit.
Solidariteit is dié bymekaarkomplek vir elkeen wat poste wil plaas of vir poste wil aansoek doen. Dit is werkfasilitering vir ons gemeenskap – Solidariteit skep ʼn plek met integriteit vir ernstige mense wat regtig wíl werk. Klik hier om meer te lees en #RaakTuis by Solidariteit.