
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Internasionale dwelmmisbruikdag: ’n dag saam met SANRA
Deur Ané Janse van Rensburg
In die hartjie van Pretoria, by SANRA (die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Afhanklikheid van Verdowingsmiddels) se Castle Carey-rehabilitasiekliniek, is ons op ʼn koue wintersoggend hartlik by die kliniek se opedag ontvang. Dit was die eerste geleentheid van hierdie aard, en dit op Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik en Onwettige Handel het die organisasie daarop gefokus om bewustheid te skep en ondersteuning te bied aan mense wat ʼn met dwelm- en alkoholmisbruik te kampe het.
Volgens Celeste du Preez, die uitvoerende hoof van SANRA se Castle Carey-rehabilitasiekliniek, voer ongeveer 15% van Suid-Afrikaners ʼn stryd weens ʼn afhanklikheidsprobleem. Middelmisbruik het ʼn wye reeks gevolge wat nie net die individu raak nie, maar ook hul gesinne en gemeenskappe. Dit kan tot psigiatriese probleme soos depressie, angs, psigose en paranoia lei, asook fisieke en finansiële skade tot gevolg hê. Lees hier meer oor hulp vir middelafhanklikheid.
Navorsing dui daarop dat een persoon se middelafhanklikheid tot 120 ander mense kan beïnvloed. Hierdie statistiek beklemtoon die verreikende impak van afhanklikheid op die gemeenskap. Daar is ook ʼn voortdurende stigma verbonde aan middelafhanklikheid, wat die herstelproses verder bemoeilik.
SANRA se primêre doel is om die voorkoming en behandeling van alkohol- en dwelmafhanklikheid te bevorder. Hulle benadering is om uitgebreide ondersteuning te bied deur ʼn netwerk van rehabilitasiesentrums regoor die land. Hierdie sentrums bied ʼn veilige ruimte vir mense om te herstel en weer beheer oor hul lewens te neem. Met die hulp van ʼn multiprofessionele span word volledige assesserings gedoen en gepaste behandelingsplanne opgestel.
Tydens die opedag het SANRA verskeie dienste en programme ten toon gestel wat op die voorkoming en behandeling van middelafhanklikheid gemik is. Hierdie programme sluit in gemeenskapsopvoeding, vroeë intervensie en intensiewe rehabilitasie. SANRA beklemtoon dat vinnige optrede noodsaaklik is wanneer middelafhanklikheid vermoed word. Vroeë intervensie kan verhoed dat die probleem vererger en verdere skade aanrig.
Magdaleen van Niekerk, bestuurder van Lapalame, SANRA se jeugeenheid vir tienerseuns, sê dat SANRA se benadering holisties is en dat dit ʼn gesinsbenadering volg. Dit help om ’n ondersteunende omgewing te skep wat noodsaaklik is vir suksesvolle rehabilitasie. Deur die verskaffing van omvattende ondersteuning en die bevordering van ’n gesonde leefstyl werk SANRA om die siklus van afhanklikheid te verbreek.
“Ons skep ʼn omgewing waar mense aanvaar word, want as jy voel jy word aanvaar, kan jy verander,” sê Van Niekerk.
Ten spyte van die uitdagings wat middelmisbruik meebring, is daar hoop op herstel. SANRA bied ’n verskeidenheid hulpbronne en dienste aan om mense te help om oor afhanklikheid te triomfeer. Dit sluit in berading, groepterapie en verdere ondersteuning om terugval te voorkom. Die organisasie glo dat met die regte ondersteuning en behandeling, enigeen die stryd teen afhanklikheid kan wen.
Die opedag het ook ‘n geleentheid gebied vir gemeenskapslede om meer te leer oor die dienste wat beskikbaar is en hoe hulle betrokke kan raak. SANRA moedig almal aan om hulp te soek indien hulle of ‘n geliefde ʼn stryd teen afhanklikheid voer. Die organisasie bied hoop en ‘n pad na herstel vir diegene wat bereid is om die eerste tree te gee.
Peirru Marx, netwerkorganiseerder van Solidariteit se mediese netwerke, sê: “Ek het gesien hoe passie, toewyding en liefde vir jou medemens ’n lewe red. Daar was nie ’n droë oog gedurende die getuienis van mense wat deur hierdie instelling bygestaan is om hulle verslawing te oorwin nie. Dit is juis om hierdie rede dat Solidariteit se mediese beroepsnetwerke SANRA ondersteun in hulle strewe om mense te help in hulle donkerste tye.”
By Solidariteit se netwerke kan professionele persone in die mediese professies ʼn tuiste vind, en hulle vorm die ruggraat van die gemeenskap se gesondheid. Skep vandag jou gratis profiel en sluit aan by jou beroepspesifieke ondersteuningsnetwerk!