
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Kies die regte beroep met Solidariteit se belangstellingsbepaler
Deur Ané Janse van Rensburg
Een van die moeilikste en belangrikste besluite wat jy op skool gaan moet neem is watter vakke jy sal moet kies om te bepaal hoe jou lewe na hoërskool, met ander woorde, jou beroep gaan lyk. Solidariteit het ʼn reeks hulpmiddels tot jou beskikking om seker te maak dat hierdie keuses wat op jou wag, met gemak gemaak kan word.
Hoe beter jy jouself ken, hoe beter keuses kan jy neem om jou beroepsdrome en doelwitte te ondersteun. Solidariteit het om hierdie rede twee loopbaanvoorligtingsprodukte beskikbaar gestel wat jy met jou gratis toegang tot die Skoliere-aanbod kan gebruik. Hierdie twee hulpbronne gee kundige advies en raad aan jou oor jou vaardighede, karaktereienskappe en aanlegte sodat jy daarvolgens ingeligte beroepskeuses kan neem.
Belangstellingsbepaler
Die belangstellingsbepaler is ʼn aanlyn toets wat deur gekwalifiseerde bedryfsielkundiges opgestel is. Dit is ʼn eenvoudige aanlyn toets wat jy kan voltooi om te bepaal waarvan jy hou. Die toets neem ongeveer 20 minute om te voltooi en moet in stilte afgelê word. Die verslag sal in PDF-formaat beskikbaar wees en sal ʼn aanduiding gee van watter beroepe, studierigtings asook opleidingsinstellings jy kan volg.
“Jou belangstelling is die goed wat jy as aangenaam ervaar, en wat jou energie gee en waaraan jy graag tyd spandeer,” sê Mareli Bothma, bestuurder van Solidariteit se skoliere-aanbod. Dit waaroor jy graag gesels, wat jy gereeld wil doen en waaraan jy gereeld tyd wil spandeer, is ʼn goeie aanduiding van jou belangstelling.
Bothma sê wel dat belangstelling nie op aanleg dui nie. Terwyl belangstelling verwys na wat jy geniet om te doen, verwys jou aanleg na jou kognitiewe vermoë. Daarom is dit juis só belangrik dat jy nie ʼn loopbaan kies wat slegs volgens jou belangstellings nie, maar dat jy jou aanlegte ook in aanmerking neem.
Psigometriese toetse
Na afloop van die belangstellingsbepaler, kan jy die volgende stap neem en psigometriese toetse by ʼn loopbaanvoorligter aflê. Hierdie gee ʼn beter idee van beroepsopsies en kan vir jou meer sekerheid oor jou toekoms bied. Lees hier meer oor die aflegging van psigometriese toetse.
Solidariteit het ʼn lys van gekwalifiseerde bedryfsielkundiges saamgestel wat jou kind kan help met die aflegging van dié toetse.
Solidariteit wil jou toerus met ʼn volledige prentjie van jouself, sodat jy jou toekomsprentjie met selfvertroue kan inkleur. Raak betrokke by Solidariteit se skoliere-aanbod en bou saam met ons aan jou toekoms.