loading
Artikels
7 maande gelede
krisisberaad-vir-maatskaplike-werkers-hope-vrae-oor-n-hoopvolle-toekoms

Foto Krediet: OkayDeer

Krisisberaad vir maatskaplike werkers: Hope vrae oor ʼn hoopvolle toekoms

Deur Ané Janse van Rensburg

Die dae op ons kalenders raak al hoe minder, en ons kan uitsien na ʼn geleentheid in die vorm van ʼn krisisberaad waar Solidariteit saam met Solidariteit Helpende Hand staan om aandag te gee aan die huidige krisis en maatskaplike werkers met daadwerklike betrokkenheid te ondersteun.

Die krisisberaad word op 18 Julie 2024 by Doxa Deo Raslouw aangebied. Alle NRO’s en maatskaplike werkers is welkom om dit by te woon. Bespreek jou gratis plek om die krisisberaad by te woon hier: https://helpendehand.co.za/vankrisistothoop/ 

Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, skryf in haar blog oor die krisisberaad: “Suid-Afrika se maatskaplikewerksektor is besig om op ʼn ramp af te stuur, nie net wat befondsing betref nie, maar wat die professie in die geheel betref. Die professie, die reputasie van hardwerkende maatskaplike werkers, én die vertroue in die beroep en organisasies ly skade, terwyl ons departement ewe skielik wil ingryp en die ridder op die wit perd wil wees. Dit is maklik om die ridder te wees as jy die krisis self geskep het.”

Volgens Smit is nieregeringsorganisasies vir ʼn tweede jaar aan die genade oorgelaat, en die professie word weereens lamgelê deur vertragings in prosesse, leë beloftes, rassistiese uitlatings en befondsingstekorte.

“In hierdie tyd het die deure gesluit, werknemers is afgelê of op korttyd geplaas, en weerlose mense sit sonder hulp, maar ewe skielik reël die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) nou spoedige betalings, gebaseer op 2023 se bedrae, om hierdie instellings tevrede te hou, en om die druk vanaf die media te laat bedaar,” sê Smit.

René Roux, mediabestuurshoof van Solidariteit Helpende Hand, sê dat maatskaplike werkers nie bekommerd moet wees omdat daar nog nie voor die handliggende antwoorde op die tafel is nie. “Die tyd is reg dat ons saamsit en hierdie gesprekke voer om die krisis te kan identifiseer en om dan saam die oplossings te bewerkstellig.”

Met die krisisberaad word beoog om gesprekke te fasiliteer om maatskaplike werkers van krisis na hoop te lei. Die beraad sal fokus op waar die praktisyns hulself tans bevind, en waarheen hulle op pad is. “Dit gaan hier daaroor om saam hoop te skep in die krisis en om saam die edele profesie van die maatskaplike werker te red, te bou en te bevorder. Die maatskaplike werker se hart is waar die saak lê; dit is daar diep binne waar die roeping lê, en dit moet gekoester word,” sê Roux.

Solidariteit se hart lê by maatskaplike werkers en hul roeping. Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk wil jou in jou professie bemagtig, om sonder onnodige hindernisse en met sukses jou hand na ander te kan uitsteek. So steek ons ons hand na jou toe uit!

Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en skakel in by die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk. Jy hoort hier, want jou roeping is hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel