loading
avatar
Artikels
1 jaar gelede
matrieks-is-n-gapingsjaar-vir-jou

Foto Krediet: OkayDeer

Matrieks: Is ʼn gapingsjaar vir jou?

Deur Ané Janse van Rensburg

In jou matriekjaar is jou wêreld propvol geleenthede, drome en ʼn ton keuses wat op jou wag. Een hiervan is om die moontlikheid van ʼn gapingsjaar te oorweeg. Hoe weet jy of ʼn gapingsjaar vir jou is, en of jy eerder ʼn ander pad moet vat?

Solidariteit se Skoliere-aanbod wil saam met jou al jou opsies oorweeg, om seker te maak dat jy uiteindelik gereed is om as ʼn vaardigheidsryke individu die werkplek te betree. Hier is ʼn paar voor- en nadele van ʼn gapingsjaar wat jy behoort te oorweeg:

Voordele van ʼn gapingsjaar:

1. Selfontdekking en groei: ʼn Gapingsjaar bied jong mense die geleentheid om meer oor hulself en hul belangstellings te leer. Hierdie tyd kan gebruik word om nuwe vaardighede, soos ʼn nuwe taal, aan te leer of om betrokke te raak by gemeenskapswerk, wat jou perspektief kan verbreed.

2. Werkservaring: Dit kan ook ʼn tyd wees om werkservaring op te doen. Deur in ʼn werksomgewing betrokke te raak, kry jong mense ʼn voorsmakie van die beroepswêreld en kan hulle waardevolle vaardighede aanleer wat later in hul loopbane nuttig sal wees. Hiér kan jy ʼn internskap sterk oorweeg. Lees hier meer van die waarde van ʼn internskap vir jou toekomstige beroep.

3. ʼn Lekker blaaskans: Ná 12 jaar van skool is dit soms nodig om akademiese uitbranding te vermy. Hierdie ruskans kan hulle help om met nuwe energie en motivering verdere studie aan te pak.

4. Reis en ervaar verskillende kulture: ʼn Gapingsjaar gee die geleentheid om te reis en nuwe kulture te ervaar, wat nie net verrykend is nie, maar ook dieper insigte kan bied in hoe die wêreld funksioneer.

Nadele van ʼn gapingsjaar

1. Verlies van akademiese momentum: Een van die grootste risiko’s van ʼn gapingsjaar is die moontlike verlies aan akademiese momentum. Ná ʼn jaar buite die akademiese omgewing kan dit moeilik wees om weer aan te pas by die roetine van studie.

2. Finansiële impak: ʼn Gapingsjaar kan duur wees, veral as jy beplan om oorsee te reis of nie ʼn inkomste het nie. Dit kan lei tot finansiële druk en potensiële skuld wat later in jou loopbaan ʼn las kan word.

3. Die moontlikheid van tydmors: Sonder ʼn duidelike plan of doelwitte, kan ʼn gapingsjaar maklik ʼn vermorsing van tyd word. Dit is belangrik om seker te maak dat die jaar produktief en betekenisvol is. Werk dus met ʼn effektiewe plan – een wat tyd en doelwitte in ag neem.

4. Potensiële sosiale uitsluiting: As jy kies om ʼn gapingsjaar te neem, kan jy ʼn jaar agter jou maats wees wat direk na skool universiteit toe gegaan het. Dit kan gevoelens van uitsluiting en ongeduld veroorsaak wanneer jy uiteindelik jou studie hervat.

Die besluit om ʼn gapingsjaar te neem is persoonlik en hang af van jou doelwitte, finansiële situasie en persoonlike omstandighede. As dit reg beplan en benut word, kan dit ʼn lewensveranderende ervaring wees wat jou help om meer ingeligte besluite oor jou toekoms te neem. Tog moet die potensiële nadele nie oor die hoof gesien word nie, en ʼn ingeligte besluit moet geneem word om die meeste uit hierdie geleentheid te haal.

Solidariteit wil jou ondersteun sodat jy ingeligte besluite oor jou toekoms kan neem. Skep vandag nog jou gratis profiel en ontsluit ʼn wêreld van kennis en advies!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel