loading
Artikels
2 maande gelede
mentorskappe-skep-geleenthede-vir-jongmense

Foto Krediet: OkayDeer

Mentorskappe skep geleenthede vir jong mense

Deur Reon Janse van Rensburg

Dit is vir enige jong mens bitter moeilik om die werkplek te betree – veral as jy geen ervaring het nie en min of geen vaardighede op jou CV kan aandui. Hoe kry ʼn mens dan jou voet in die deur en ʼn kans om jou karakter ten toon te stel sodat jy jouself so kan posisioneer dat ʼn voornemende werkgewer van jou vaardighede kan kennis neem?

Solidariteit se mentorskapprogram

Om ʼn antwoord hierop te bied, het Solidariteit ʼn mentorskapprogram van stapel gestuur om jong werkendes ʼn hupstoot in hul loopbaan te gee. Hierdie program, wat boonop in Afrikaans is, het ten doel om jong mense te bemagtig om hulle beroep met die nodige kennis en vertroue aan te pak. Spesialiste in verskeie beroepe, wat roepinggedrewe is, bied hulle dienste vrywillig aan om as beroepsmentors op te tree om so die kennis en ervaring wat hulle al opgedoen het met jong mense in die betrokke beroep te deel. Lees hier meer oor wat die program behels.

Solidariteit se mentorskapprogram is in 2020 ontwikkel en op klein skaal getoets. Die program het sedertdien gegroei en het reeds talle jong mense ʼn hupstoot in hul beroep gegee.

Die mentorskapprogram word direk aan Solidariteit se beroepsnetwerke gekoppel en dit word in verhouding met netwerkvennote soos Ajani, Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding en die Solidariteit Helpende Hand-Studietrust (HHST) aangebied om te verseker dat elke student of jong werkende by die mentorskapprogram kan baat.

Deur mentorskappe bied ons ook morele rugsteun aan jong mense sodat hulle by meesters in hulle beroepsveld kan leer.

Hoe lyk die toekoms as jy op Solidariteit registreer?

Jy as individu maak vir Solidariteit saak. Maar, ʼn individu benodig ook ʼn netwerk waar jy kan woeker om jouself en jou vaardighede ten toon te stel en uit te brei. Solidariteit se beroepsnetwerke bied jou juis dít – ʼn netwerk van werk waar mense in dieselfde beroep ʼn netwerk vorm. ʼn Beroepsnetwerk is ʼn gemeenskap wat jou nie net in jou beroep versterk nie; dit is ook ʼn gemeenskap waar jy kan tuisvoel, met ander lede kan saamwerk en saam kan leer. Dit is ʼn gemeenskap wat hom daarop toespits om die beroep te beskerm, loopbaangeleenthede vir jong mense te skep, as waghond omsien na die belange van jou spesifieke beroep, en wat met werkbare oplossings vir uitdagings vorendag kom.

Die netwerke neem die tradisionele waardes, naamlik gehalte, behoud, ʼn gemeenskapsgevoel en trots ter harte sodat elkeen die geleentheid het om hulself op hulle loopbaanpad onmisbaar en uitnemend te maak.

Gemeenskaplike waardes is die fondament van die netwerke en bied aan elke lid iets om in te glo, terwyl die netwerk as basis dien om kennis terug te ploeg in die gemeenskap deur onder meer mentorskappe aan te bied. Dit bied ook netwerkgeleenthede en die uitruil van kennis aan netwerklede. As ʼn bestaande Solidariteit-lid het jy outomaties lidmaatskap van jou beroepsnetwerk wat weer vir jou toegang gee tot bykomende voordele eie aan jou beroep, of jy kan nou aansluit

Jy kan ʼn verskil in ʼn jong mens se lewe maak. Dié van ons wat reeds werk, is elkeen op ʼn unieke wyse ʼn kenner op ons betrokke gebied. Jong mense in jou beroep is op soek na daardie kennis en geleenthede om meer oor die werkplek, hul beroep en die toekoms van werk uit te vind. Jy wat reeds in die beroep gevestig is, kan as ʼn mentor ʼn groot verskil in hulle loopbaanvordering maak.

ʼn Mens hoor soms dat mense sê: “In my dae sou ons dit nooit so gedoen het nie”, óf “Hulle leer jong mense nie meer om die werk reg te doen nie.” As dit die geval is, is dit dalk omdat jong mense deesdae nie die geleenthede het wat destyds daar was toe vroeër generasies die werkplek betree het nie. Ons elkeen kan iemand help deur ʼn mentor te wees; want #JyHoortHier.

Word vandag nog ʼn mentor en wees betrokke by Solidariteit se strewe om ‘n toekoms vir ons jong mense te skep– yster slyp yster, maar vriende vorm mekaar.

Indien jy op soek is na ʼn mentorskap, internskap of ʼn kandidaatprokureurskap is vandag die dag wat jy jou profiel op Solidariteit moet registreer. Die span agter Solidariteit se Jongwerkende-aanbod staan gereed om jou in samewerking met die beroepsnetwerke te help om die eerste tree op jou loopbaanpad te gee.

Indien jy as mentor in jou beroepsveld wil optree en bereid is om jou kennis en tyd met ʼn jong mens te deel, besoek gerus die volgende skakel om deel te word van Solidariteit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel