
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Neem só slim finansiële besluite
Deur Karen Waldeck
Jou finansiële besluite is net so krities soos jou loopbaankeuses. Deur die regte finansiële stappe te neem, kan jy ʼn soliede grondslag vir ʼn veilige toekoms bou, terwyl swak besluite jou vir jare kan terugsit. Dit is veral noodsaaklik vir jong werkendes om van die begin af verstandig met hul geld om te gaan. In hierdie artikel gaan ons praktiese wenke en strategieë deel hoe jy jou finansies doeltreffend kan bestuur en onnodige impulsiewe uitgawes kan vermy.
Slim begrotingsmodelle
Begin by ʼn goeie begroting wanneer jy slim finansiële besluite wil neem. Dit is die eerste stap om jou uitgawes te beheer en jou spaarplanne op koers te hou. ʼn Begroting is soos ’n bloudruk van jou finansiële plan – solank dit sterk is, sal jy in staat wees om jou geld verstandig te bestuur.
Daar is verskeie begrotingsmodelle wat jy kan oorweeg om jou finansiële doelwitte te bereik. Een van die mees gewilde modelle is die 50/30/20-reël. Hierdie reël stel voor dat jy 50% van jou inkomste aan noodsaaklike uitgawes soos huur en kos spandeer, 30% aan wense en lekkergoed, en 20% aan besparing of skuldafbetaling. Hierdie model is eenvoudig en effektief, aangesien dit ʼn gebalanseerde benadering tot besteding en besparing bied.
Leer om jou finansies te beheer en nie jou finansies vir jou nie
Om werklik finansiële beheer te kry, is dit noodsaaklik om oor die nodige kennis en vaardighede te beskik. Solidariteit bied verskeie e-leerkursusse aan wat jou kan help om jou geld beter te bestuur. Hierdie kursusse dek alles van basiese finansiële beplanning tot gevorderde strategieë vir besparing en belegging.
Metodes om impulsiewe aankope te vermy
Een van die grootste struikelblokke wat jong werkendes in die gesig staar, is impulsiewe aankope. Hierdie aankope kan jou begroting ernstig ondermyn en lei tot skuld wat moeilik is om af te betaal. Gelukkig is daar beproefde tegnieke wat jou kan help om hierdie gewoonte te oorkom.
As jy iemand is wat sukkel met impulsiewe aankope, is die 30-dae reël dalk net die regte hulpmiddel vir jou. Wanneer jy ʼn item wil koop wat nie noodsaaklik is nie, wag vir 30 dae voordat jy dit koop. Hierdie tydsraamwerk gee jou die kans om te oorweeg of jy die item regtig nodig het. Dikwels sal jy vind dat die drang om te koop verdwyn, wat jou help om beter besluite te neem en geld te bespaar. ʼn Ander metode is om ʼn spesifieke begroting vir bederfitems te skep. Deur ʼn klein gedeelte van jou inkomste opsy te sit vir lekkernye, kan jy jouself steeds beloon sonder om jou finansiële plan te ontspoor.
As jy aanlyn koop, oorweeg dit om items wat jy wil koop in jou winkelmandjie te los sonder om dit dadelik te koop. Wag 24 uur en oorweeg dan of jy dit regtig wil koop. Hierdie 24-uur reël is ʼn eenvoudige, maar kragtige manier om beter besluite te neem.
Bou ʼn toekoms van finansiële vryheid
Om jou finansies te beheer en beter besluite te neem, is ʼn reis wat tyd en toewyding verg.
Finansiële bemagtiging beteken om beheer te neem oor jou geld en om bewustelike besluite te maak wat jou toekoms bevoordeel. Die regte finansiële besluite vandag, sal jou help om ʼn sterker, meer stabiele toekoms te bou. As jy meer wil leer oor hoe om jou geld te bestuur en te spaar, kyk na Solidariteit se kursus – “Begroting vir jong werkendes”
Neem jou toekoms in jou eie hande. Lede van Solidariteit het gratis toegang tot hierdie kursus (en nagenoeg 150 ander). Met jou Solidariteit Jongwerkende-lidmaatskap wat slegs R95 per maand kos, kan jy hierdie kursusse gratis voltooi, bemagtig word in die werkplek en selfs jou netwerk uitbrei! Skep jou gratis profiel vandag nog hier.