
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Oorweeg ʼn kursus in Projekbestuur
Deur Essie Bester
In vandag se komplekse ekonomie raak projekbestuurders al hoe meer in aanvraaag. Die belangrikste eienskappe van ’n projekbestuurder mag jou egter verbaas.
Die Project Management Institute (PMI) toon dat die vraag na projekbestuurders drasties gaan toeneem. Na raming word verwag dat 25 miljoen projekleiers teen 2030 benodig gaan word om in die globale vraag te kan voorsien.
Die titel van projekbestuurder is ’n werklike postitel, maar selfs al beland jy in die rol van ’n toevallige projekbestuurder – daar is baie werknemers wat projekte in hul organisasie bestuur sonder enige amptelike opleiding in projekbestuur – bly die kernbeginsels van projekbestuur dieselfde, naamlik:
- • bepaling van die omvang
- • beplanning en lewering
- • rapportering en afsluiting
’n Doeltreffende projekbestuurder moet ’n goeie begrip hê van:
- • hulpbronbeplanning en die organisering van ’n projekspan;
- • beraming en ontwikkeling van ’n begroting;
- • tydsbestuur en die handhawing van balans tussen die omvang, tyd en koste;
- • toesighouding oor die uitvoering van elke fase met die fokus op probleemoplossing;
- • ’n spangeoriënteerde benadering met duidelike rolle en verantwoordelikhede;
- • doeltreffende kommunikasie terwyl jy as tussenganger tussen al die betrokke partye optree; en
- • verslagdoening en aftekening van die projek.
As projekbestuurder sal jy hulpbronne moet kan beplan, finansies kan hanteer en die gepaardgaande sakedokumente moet kan organiseer. Daar sal van jou verwag word om direk met hoër bestuur te skakel ten einde die hele projekbestuursproses te vereenvoudig sodat die projek betyds en suksesvol afgehandel kan word.
Terwyl harde vaardighede soos tegniese vernuf met stelsels, netwerke en platforms aangeleer kan word, reken die Project Management Institute die volgende sagte vaardighede sal jou as ’n uitnemende projekbestuurder onderskei:
- • Leierskap: Jy moet weet hoe om interpersoonlike verhoudings te bou en te bestuur en die vermoë besit om mense te beïnvloed. Jy moet polities sensitief wees en aktief kan luister. Die verfyning van eienskappe soos diplomasie, objektiwiteit, gemoedelikheid en empatie kan van jou ’n uitstekende projekbestuurder maak in moeilike tye.
- • Goeie organiseringsvermoëns: Dit is van kardinale belang om projekinligting, skedules en spanlede georganiseer te hou terwyl jy weet waar om jou energie te fokus sodat jy nie self verlore raak in die chaos en uitdagings wat ’n projek kan meebring nie.
- • Probleemoplossingsvaardighede en besluitneming: Die vermoë om potensiële probleme pro-aktief te kan raaksien, dit te analiseer en voortydig ’n oplossing te ontwikkel.
- • Aanpasbaarheid: Om kreatief te kan dink en om met nuwe idees en maniere van doen vorendag te kom.
- • Goeie kommunikasievaardighede: Doeltreffende kommunikasie met kliënte én spanlede is belangrik.
Om jou span se potensiaal te optimaliseer en beter resultate te behaal, kan jy strategieë gebruik soos die stel van duidelike verwagtinge en reëls. Gee terugvoer en erkenning, los konflik op en kweek samehorigheid. Tegnologie kan help om kommunikasie en samewerking tussen afgeleë spanne te vergemaklik.
Indien jy jou oog het op ’n posisie waar jy projekte binne die werkplek sal moet bestuur, is Solidariteit se e-leerkursus Inleiding tot projekbestuur net die kursus vir jou. In dié kursus, wat gratis is vir lede, sal jy die grondbeginsels van projekbestuur verken, insluitend wat ’n projekbestuurder doen, watter vaardighede nodig is vir die rol, en hoe om ’n span se potensiaal te optimaliseer.
By Solidariteit bied ons vir jou ’n gemeenskap – ’n plek waar jy beskerm en bemagtig word terwyl ons saam aan ’n toekoms bou. Met Solidariteit se lidmaatskap kry jy toegang tot alles wat jou kan help om nie net goed te werk nie, maar ook om jou volle potensiaal te bereik. Sluit vandag nog aan deur hier te klik.