
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Skep só ʼn kultuur van innovasie in die werkplek
Deur Nico Strydom
ʼn Kultuur van innovasie het ten doel om werknemers aan te moedig om kreatiewe idees en oplossings te deel in die werkplek.
Wanneer daar ʼn kultuur van innovasie is, voel alle werknemers selfversekerd om deel te wees van dinkskrums en om nuwe idees voor te lê. Dit sal egter ook daartoe lei dat ʼn organisasie se produk of diens verbeter en die organisasie sodoende ʼn mededingende voordeel kry, wat weer daartoe sal lei dat die organisasie se handelsmerk verbeter om dit ook aanloklik te maak vir topwerknemers. Uiteindelik sal ʼn kultuur van innovasie ook tot werknemertevredenheid lei.
Die bevordering van ʼn innovasiekultuur vereis aanpassing en is ʼn samewerkende poging wat behels dat die regte klimaat geskep word om die kreatiewe potensiaal van werknemers te koester en gebruik te maak van hul kennis.
Daar is verskeie maniere om kultuur in die werkplek te vestig. Dit begin by sterk leierskap aangesien dit belangrik is dat bestuur en leiers hul werknemers moet kan inspireer en deur voorbeeld kan lei. Sterk leierskap behels goeie kommunikasie, deursigtigheid, die stel van doelwitte en om die regte take vir die regte mense te gee.
Werknemers sal meer innoverend wees as hulle voel dat hulle in ʼn omgewing is waar daar vertroue is aangesien dit hulle makliker idees sal laat deel en hulle sal voel dat hulle idees ook saak maak.
ʼn Positiewe beskouing van mislukkings sal tot gevolg hê dat daar eerder uit foute geleer word. Dit sal werknemers ook help om mislukking te te aanvaaar eerder as om dit te vrees, wat hul weereens gemakliker sal laat voel om kreatief en innoverend te wees.
Doelwitte en ʼn oorkoepelende doel is noodsaaklik vir ʼn innoverende kultuur aangesien dit werknemers sal bemagtig om te weet waarheen die organisasie op pad is en hoe hulle daartoe kan bydra. Terselfdertyd moet werknemers geïnspireer word om so kreatief moontlik te wees. Leiers moet self ʼn bron van inspirasie wees deur byvoorbeeld openlik idees tydens vergaderings of geleenthede te gee ten einde werknemers aan te spoor om dieselfde te doen.
Samewerking is nog ʼn belangrike element van ʼn innoverende kultuur aangesien samewerking kan help om ʼn verskeidenheid idees en perspektiewe te kombineer. Dit vereis sterk kommunikasievaardighede, empatie, spanwerk en ʼn kultuur van deurlopende terugvoer.
Wanneer werknemers die nodige vryheid gegun word om hul werk te doen, sal dit nie net werknemertevredenheid en moreel verbeter nie maar werknemers ook help om hul eie idees en kreatiwiteit aan die werkplek bekend te stel.
Solidariteit se hart is en was nog altyd werk. Raak deel van jou aanlyn werkgemeenskap waar jy altyd op hoogte kan bly van die nuutste werk tendense. Klik hier om meer te less van ons aanlyn werkgemeenskap.