loading
Artikels
10 maande gelede
slypskool-vir-kandidaatprokureurs

Foto Krediet: OkayDeer

Slypskool vir kandidaatprokureurs

Deur Nico Strydom

Daar word van ʼn kandidaatprokureur verwag om die regslui van ʼn regsfirma by te staan om hul take doeltreffend uit te voer. In die proses doen kandidaatprokureurs waardevolle praktiese ervaring op en leer soveel as moontlik om hul droom om ʼn geregistreerde prokureur te word, te verwesenlik.

Die Solidariteit Regsnetwerk se slypskool het ten doel om regstudente en kandidaatprokureurs met die nodige kennis te bemagtig en meer praktykgereed te maak.

Meesters in die regsprofessie het, danksy hulle ervaring en kennis, die kursus se inhoud noukeurig geïdentifiseer en voorsien met die oog daarop om die volgende generasie op hul loopbaanpad by te staan en die gaping tussen akademie en die praktyk te oorbrug. Die beginsels en tegnieke wat in hierdie kursus vervat is, neem kandidate uit die handboek of klaskamer tot in die praktyk.

Die kursus bestaan uit vyf modules en sluit onder meer die volgende in:

  1. 1. Kernbeginsels en verhoudings
  2. 2. Praktykbestuur
  3. 3. ʼn Oorlewingshandleiding
  4. 4. Konsultasietegnieke en saakanalise
  5. 5. Professionele en doeltreffende skryfwerk

Daar word onder meer gekyk na wat ʼn prinsipaal van ʼn kandidaatprokureur verwag, hoe om te verseker dat ʼn regspraktyk winsgewend is en hoe om die nodige professionaliteit teenoor kollegas in die regsprofessie te toon deur die wisselwerking tussen die beroepe te verstaan. Daar is ook ʼn handleiding beskikbaar ten opsigte van hoflêeradministrasie wat ten doel het om die nodige riglyne en hulpmiddels aan ʼn kandidaatprokureur te bied. Die aanlyn hofstelsel en die voordele wat dit vir kandidaatprokureurs inhou, word ook onder die loep geneem.

Die oorlewingshandleiding is daarop gemik om kandidaatprokureurs in te lig en te begelei ten einde hul potensiaal as regspraktisyns so gou as moontlik te bereik. Daar word onder meer gefokus op klerkskap, mosies en die verskillende howe.

In die module wat handel oor konsultasies word daar gefokus op die aspekte van reëlings, voorbereiding, die konsultasie self en die afsluiting. Daar is ook ʼn hoofstuk oor saakanalise en hoe om vir litigasie voor te berei.

In die regspraktyk word daar baie geskryf. Die laaste module van hierdie kursus fokus dus op wenke en riglyne rakende die skryfproses om sodoende regskommunikasie duidelik en professioneel oor te dra.

Wees aan die voorpunt van jou loopbaanontwikkeling. Lees hier meer oor jou eenstop-beroepstuiste vir voortgesette leer. Indien jy nog nie ʼn lid van Solidariteit is nie, klik hier om binne ʼn minuut aan te sluit. 

Klik hier indien jy die Solidariteit Regsnetwerk se slypskool wil voltooi, of lees hier meer oor hoe jy vir kursusse op Solidariteit kan inskryf.

Bemagtig jouself en staan uit bo jou mededingers. Jou toekoms is in jou hande!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel