
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
So lyk die wêreld van die apteker
Deur Maryna Eksteen
Aptekerswese is soveel meer as net ’n persoon wat medikasie oor die toonbank resepteer. Dit is ’n inligtinggedrewe beroep wat pasiëntgeoriënteerd is. Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op aptekers se skouers. Indien die verkeerde medikasie of gebruiksinstruksies aan ʼn pasiënt gegee word, kan dit lewensgevaarlik wees. Solidariteit se Aptekersnetwerk het bietjie gaan ondersoek instel om meer te leer oor die professie en wat studente wat van voornemens is om aptekerswese te studeer, kan verwag.
‘n Gekwalifiseerde apteker het ‘n wye reeks beroepsmoontlikhede wat aan sy of haar persoonlike voorkeur sal voldoen. Hierdie opsies sluit in gemeenskapsapteke, hospitaalapteke in private en staatshopspitale, die farmaseutiese vervaardigingsbedryf, akademie en navorsing, kliniese proewe en die monitering van nadelige reaksies op geneesmiddels. Daar is ook geleenthede in groothandelapteke, gesondheidsorgbestuur en medisynebeheer by mediese fondse, plaaslike en sentrale regerings en soortgelyke instellings. Ander moontlikhede sluit in navorsing in by universiteite, kolleges, die regeringsektor asook die publikasie van farmaseutiese navorsing.
Die moontlikhede is omvangryk, en ongeag of ’n apteker met mense werk of in dierkunde spesialiseer, hy of sy speel ’n kardinale rol in die mediese bedryf. Ná suksesvolle voltooiing van hul studie en die verpligte praktiese opleiding behoort aptekers te weet hoe die organisasie en beheer van die produksie, verpakking en kwaliteitsversekering van farmaseutiese produkte werk; hoe beheer oor die verkryging, berging en verspreiding van farmaseutiese materiaal en produkte uitgeoefen word; sowel as hoe voorgeskrewe medisyne uitgereik word en hoe om te verseker dat dit optimaal gebruik word. Aptekers sal ook apteker-geïnisieerde behandeling aan pasiënte kan verskaf. Saam met die taak om ’n apteker te wees, kom die verantwoordelikheid om kennis en inligting oor gesondheidsorg en medikasie te verstaan en oor te dra, en natuurlik om gemeenskapsgesondheid in die geheel te verbeter.
Volgens Peirru Marx, netwerkkoördineerder van die mediese netwerke by Solidariteit, lei die studie in aptekerswese na ’n gesogte beroep, want vir die meeste mense is die apteker die eerste persoon wat hulle vir ʼn kwaal raadpleeg. “Aptekers is dus vir baie van ons die eerste skakel in ons eie gesondheidsorgketting om waardevolle advies te bekom as dit oor medikasie en behandeling gaan,” sluit Peirru af.
Solidariteit se netwerke vir die mediese beroepe stap die volle loopbaanpad saam met hul lede. Klik hier om meer oor aptekerswese te lees soos gesien uit ʼn jong werkende se oogpunt. Indien jy nog nie deel is van Solidariteit se dinamiese netwerke nie, klik hier, want Solidariteit se span veg vir jou regte in die werkplek; lees meer hier.
#RaakTuis by Solidariteit, want saam sal ons vry, veilig en voorspoedig wees.