
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit vier Sekretaressedag
Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk vier vandag Sekretaressedag. Hierdie dag is gewy aan al die ongelooflike persone wat agter die skerms werk om mense se werklewens naatloos te laat verloop. Die dag word bygewoon deur sekretaresses, administratiewe assistente en ander ondersteuningspersoneel wat die ongesiene helde van die moderne werkplek is. Sekretaressedag is die geleentheid om die stil helde van ons werkplekke te vier – die sekretaresses en kantoorpraktisyns wat dag na dag met toewyding, geduld en professionaliteit die wiele laat draai.
“Ons vier vandag elke admin-kryger wat stabiliteit en warmte bring, ons bedank die gesig en steunpilaar van elke organisasie en vereer die persoon waarop so baie mense staatmaak. Sekretaresse, ons sê vandag dankie. Jy is meer as net ʼn postitel – jy is ʼn onmisbare deel van die span, en ons waardeer jou meer as wat woorde kan oordra,” sê Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk.
Solidariteit se netwerksentrums, insluitend Orania, Centurion, Bellville, Boksburg, Richardsbaai, Port Elizabeth en Nelspruit, kom vandag by verskeie lokale saam om Sekretaressedag te vier. Byna 442 mense vier saam met Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk Sekretaressedag.
Hierdie dag gee spesiale erkenning aan die belangrike rol wat sekretaresses en administratiewe personeel in die vlot funksionering van ons werkplekke speel. Die geleentheid is ʼn viering van hul toewyding, vernuf en die beduidende bydrae wat hulle tot die sukses van enige organisasie lewer.
Die dag is vol hoogtepunte met uitstallers soos Garden Bleu, Matt & Milly, MiekeRaai, Tapputi, Truly Yours en Willa Krause wat sorg vir juwele en bykomstighede, klere, velprodukte en soveel meer. Die motiveringspreker Francois Boyce sorg vir skaterlag en goeie vermaak met sy tong-in-die-kies-vertoning “5 Vrouens en Ek”. Die dames word elkeen bederf met ‘n verwelkomingspakkie en lekker ontbyt. Buiten vir die uitstallers wat ook borge is, word die dag verder moontlik gemaak deur borge soos Akademia, Solidariteit Helpende Hand, Industrial Coffee Works en Purple Carrot wat sorg vir ʼn verskeidenheid van pryse.
Die viering van Sekretaressedag by Solidariteit se netwerksentrums stuur ʼn belangrike boodskap uit. “Vandag se geleentheid, wat in sewe streke saam met meer as 440 kantoorpraktisyns gevier word, is meer as net ʼn geleentheid; dit gee opreg erkenning aan elkeen se harde werk, dit sê dankie vir die krisisse wat hulle moeiteloos en met finesse hanteer, en dit is ook ʼn belofte om hulle in hul groei te ondersteun,” sê Ferreira verder.
Hierdie funksie bied ook vir netwerklede en ander ondersteuningspersoneel die geleentheid om saam te kom, ervarings en kennis te deel en ʼn gevoel van gemeenskap en samewerking te bevorder. Solidariteit wy homself daaraan toe om ʼn netwerk van werk vir mense in verskeie beroepe te vestig sodat hulle mekaar kan help, by mekaar kan leer en sodoende meesters in hul onderskeie beroepe kan word.
Solidariteit besef dat sekretaresses nie net individuele bydraes lewer nie, maar dat hulle ook deel is van ʼn breër gemeenskap van professionele praktisyns wat saamwerk om die werkplek te versterk. Lees hier meer oor hoekom jy ook aan die Kantoorpraktisynsnetwerk moet behoort.
Sekretaresses en administratiewe personeel is die stille helde en heldinne wat die werk se balle in die lug hou, en dit is op hierdie spesiale dag dat ons hul bydrae vier en ons dankbaarheid betuig. Hulle is die ruggraat van die werkplek en sonder hulle sou ons nie so vlot kon funksioneer nie.
Raak betrokke by Solidariteit, want #JyHoortHier.