
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Stel loopbaandoelwitte terwyl jy studeer
Deur Ané Janse van Rensburg
Student, jou universiteitsjare is beslis daar om te geniet, maar jy moenie vergeet om hierdie jare ten volle te benut nie. Dit is hiér waar jy sonder perke oor jou toekomsplanne behoort te droom sowel as hoe jy dit kan bereik! Die wêreld beloon dié wat waag …
Om loopbaandoelwitte te stel terwyl jy studeer, kan help om jou sukses nadat jy jou graad verwerf het, te verseker. ʼn Artikel op Indeed bespreek die volgende oor doelwitstelling as ʼn student:
Selfontdekking en selfevaluering
Die eerste stap in die stel van loopbaandoelwitte is om jouself goed te ken. Dit behels die identifisering van jou belangstellings, waardes en sterk- en swakpunte. Wie het gesê daardie Lewensoriëntering-klasse op skool was tevergeefs?
Doen persoonlikheids- en vaardigheidstoetse om ʼn beter begrip van jouself te kry. Vra jouself vrae soos “Waaroor is ek passievol?” en “Watter tipe werkomgewing verkies ek?” Hierdie selfevaluering sal jou help om realistiese en bevredigende loopbaandoelwitte te stel.
Solidariteit se belangstellingsbepaler kan jou hierin bystaan. Lees hier meer oor hoe die belangstellingsbepaler werk en hoe dit jou in jou doelwitstelling kan help.
Navorsing oor moontlike loopbane
Dit is belangrik om die verskillende loopbaanopsies binne jou studieveld te verken. Lees oor verskeie beroepe, werkvereistes, salarisverwagtinge en loopbaanvooruitsigte. Gebruik bronne soos beroepswebwerwe, loopbaansentrums by jou universiteit en professionele netwerke om meer oor beroepsmoontlikhede te leer. Praat ook met dosente, loopbaanadviseurs en professionele persone in jou belangstellingsveld om eerstehandse insigte te kry.
Stel ‘SMART’-doelwitte
“SMART”-doelwitte (spesifiek, meetbaar, aanpasbaar, realisties, tydgebonde) is ʼn doeltreffende manier om jou loopbaandoelwitte te struktureer. In plaas van ʼn vae doel soos “Ek wil suksesvol wees,” kan jy spesifieke, haalbare doelwitte stel. Byvoorbeeld: “Ek wil binne drie jaar ʼn posisie as ʼn junior ontleder by ʼn finansiële firma bekom.” Hierdie metode maak dit makliker om jou vordering te monitor en dit aan te pas, indien nodig.
Ontwikkel relevante vaardighede
Identifiseer die vaardighede en kwalifikasies wat vir jou gekose loopbaan benodig word en werk daaraan om hulle te ontwikkel. Dit kan beteken dat jy internskappe moet doen, vrywilligerwerk moet oorweeg of aan universiteitsklubs en -verenigings moet deelneem wat jou vaardighede kan verbeter. Moenie vergeet om sagte vaardighede soos kommunikasie, spanwerk en tydbestuur te ontwikkel nie, aangesien hierdie vaardighede dikwels net so belangrik is soos tegniese kennis.
Solidariteit glo heelhartig aan hierdie gesegde: “Kennis is mag.” Ons aanlyn kursusse vir voortgesette leer gee jou toegang tot ʼn nuwe wêreld vol kennis wat jy op praktiese maniere kan toepas. Só kry jy ʼn reeks vaardighede agter jou naam en staan jy uit bo die res van die studente wat saam met jou in die klas is.
Bou ʼn professionele netwerk
Begin vroeg met die bou van ʼn professionele netwerk. Skakel met medestudente, dosente, alumni en professionele persone in jou veld. Neem deel aan netwerkgeleenthede, loopbaandienste en professionele organisasies. Jou netwerk kan waardevolle inligting, mentorskap en moontlike werksgeleenthede bied.
Solidariteit se Studente-aanbod fasiliteer hierdie tipe gesprekke en netwerkgeleenthede vir jou om met die regte mense in verbinding te tree. Klik hier vir meer inligting oor hierdie aanbod.
Bly aanpasbaar en leer voortdurend
Die arbeidsmark en industrieë verander voortdurend, en daarom is dit belangrik om aanpasbaar te bly en voortgesette leer te omarm. Bly op hoogte van die nuutste tendense en ontwikkelings in jou veld deur gereeld vaktydskrifte te lees, werkwinkels by te woon en aanlyn kursusse te volg. Wees bereid om jou doelwitte aan te pas soos wat nuwe geleenthede en uitdagings ontstaan.
ʼn Student maak ʼn plan
Ontwikkel ʼn gedetailleerde aksieplan wat die spesifieke stappe uiteensit wat jy moet neem om jou loopbaandoelwitte te bereik. Dit sluit onder meer in die voltooiing van sekere kursusse, die bywoning van netwerkgeleenthede en die toepassing van internskappe. Herbesin en hersien jou aksieplan gereeld om seker te maak dat jy op koers bly.
Solidariteit se Studente-aanbod maak dit vir jou maklik om jou loopbaandoelwitte te bereik. Dit is dus reeds in jou studentejare moontlik om vooruit te droom, met ʼn plan! Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en skakel by jóú studente-groep in!