loading
Artikels
9 maande gelede
tweepotstelsel-moenie-die-pot-mis-sit-nie

Foto Krediet: OkayDeer

Tweepotstelsel: Moenie die pot mis sit nie!

Deur Ané Janse van Rensburg

Die Suid-Afrikaanse pensioenlandskap is op die drumpel van ʼn groot verandering met die inwerkingtreding van die tweepotstelsel op 1 September 2024. Hierdie stelsel, wat deur die regering ingestel is, verdeel werknemers se pensioenbydraes in twee komponente: ʼn aftreefonds wat tot aftrede ontoeganklik is, en ʼn tweede komponent, oftewel pot, waaruit vroeëre onttrekkings gemaak kan word. Hoewel hierdie stelsel bedoel is om meer finansiële buigsaamheid aan pensioenfondslede en werknemers te bied, hou dit ook verskeie risiko’s en uitdagings in wat Solidariteit se lede ernstig moet oorweeg.

In ʼn onlangse artikel wat deur Solidariteit gepubliseer is, word ʼn dringende waarskuwing aan lede gerig om versigtig te wees met voortydige onttrekkings uit hul pensioenfonds. Solidariteit beklemtoon dat hoewel dit aanloklik mag wees om geld uit die tweede pot te onttrek, só ʼn onttrekking jou toekomstige finansiële sekuriteit in gevaar kan stel. Die artikel wys daarop dat jou pensioenfonds nie net ʼn blote spaarrekening is nie, maar ʼn belegging vir jou toekoms is. Wanneer geld voortydig onttrek word, kan dit ʼn wesenlike impak hê op die bedrag wat jy uiteindelik beskikbaar gaan hê wanneer jy aftree, wat weer jou lewensgehalte in daardie fase van jou lewe kan beïnvloed.

Hierdie waarskuwing kom te midde van breër onsekerhede binne die pensioensektor, veral ná die onthullings rondom die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF). Solidariteit het sterk standpunt ingeneem ná beskuldigings dat die voorsitter van die GEPF betrokke was by omkoopgeld wat verband hou met die VBS Mutual Bank-skandaal. Solidariteit het gevra dat die voorsitter moet bedank om die integriteit van en vertroue in die pensioenfonds te herstel. Hierdie gebeure het verdere kommer gewek by werknemers en pensioentrekkers wat reeds onseker voel oor die volhoubaarheid van hul pensioenfonds.

In hierdie uitdagende tyd is Solidariteit daartoe verbind om sy lede te ondersteun deur deeglike advies en hulp aan hulle te verleen. Solidariteit verstaan dat die oorgang na die tweepotstelsel ingewikkeld kan wees en dat lede moontlik onseker is oor hoe om hul finansies na aanleiding van hierdie nuwe stelsel te bestuur. Daarom bied Solidariteit verskeie hulpbronne en dienste aan om lede te help om ingeligte besluite te neem. Dit sluit in finansiële beplanning, advies oor die beste praktyke vir die bestuur van jou pensioengeld en regshulp indien dit benodig word.

Een van die grootste voordele van Solidariteit-lidmaatskap is die toegang tot kundige advies wat dit bied en wat spesifiek gerig is op die unieke uitdagings waarmee lede te kampe het. ʼn paneel van kundige finansiële adviseurs dien in die Finansiesnetwerk se adviesraad en die netwerk kan lede se navrae na dié kundiges verwys. Hierdie kundiges verstaan die fynskrif van die tweepotstelsel en kan lede bystaan om langtermyn- finansiële planne te ontwikkel wat hulle in staat sal stel om hul aftrede met gemoedsrus tegemoet te gaan.

Een van dié kundiges is Hannelie van Biljon. Kyk gerus hierdie video wat handel oor van die wanpersepsies rakende die tweepotstelsel waarmee finansiële adviseurs te doen kry:  

Verder is Solidariteit ook ʼn stem vir sy lede in die breër arbeidsmark en in die pensioen fondsbedryf. Deur voortdurende betrokkenheid om insette te gee oor regeringsbeleid en regulatoriese veranderings, verseker Solidariteit dat sy lede se belange beskerm word. Dit beteken dat Solidariteit nie net reaktief is nie, maar proaktief optree om te verseker dat die beste moontlike omstandighede geskep word vir lede om hul finansiële doelwitte te bereik.

Lede word ook aangemoedig om nie net passief op advies te wag nie, maar om aktief advies in te win en betrokke te raak by die bestuur van hul finansies.

Solidariteit bied gereelde opleidingsessies, seminare en webinare aan om lede op hoogte te hou van die jongste ontwikkelings en om hulle toe te rus met die nodige kennis om slim finansiële besluite te neem. Hierdie opleidingsgeleenthede dek ʼn verskeidenheid van onderwerpe wat wissel van die basiese beginsels van pensioenfondsbestuur tot gevorderde beleggingstrategieë.

In ʼn tyd waarin ekonomiese onsekerheid hoogty vier en die toekoms van pensioenfondse in die spervuur is, bly Solidariteit ʼn rotsvaste steunpilaar vir sy lede. Deur lede toe te rus met die kennis en gereedskap wat hulle benodig, en die nodige ondersteuning aan hulle bied, verseker Solidariteit dat sy lede die uitdagings van die tweepotstelsel met vertroue en gemoedsrus kan aanpak en hul finansiële toekoms kan beskerm. Solidariteit se rol as ʼn beskermer van sy lede se belange was nog nooit so belangrik soos nou nie, en lede kan verseker wees dat hulle nie alleen is in hierdie nuwe era van pensioenbestuur nie.

Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en word deel van ʼn ondersteunende netwerk !

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel