
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Vyf kort kursusse vir dié in die IT-bedryf
Deur René Brown
In ʼn wêreld waar tegnologie en nuwe ontdekkings kort-kort jou persoonlike en professionele lewe verander, is voortgesette leer ʼn noodsaaklikheid om te kan aanpas en floreer. Solidariteit is ʼn voorstaander daarvan om lewenslange leer ʼn prioriteit in jou loopbaan te maak, en daarom is die leerportaal gestig. Hier is vyf kursusse, gratis vir Solidariteit-lede, waarmee IT-kundiges hulself kan verryk.
Kuberkraking in Suid-Afrika
Hoe bestand is jou onderneming se databasis, en dié van jou kliënte, teen kuberkraking? Hierdie kursus bied insig oor die voorkoms van kuberkraking, spesifiek in Suid-Afrika, en hoe om lokvalle te vermy. Die kursus word deur prof. Danny Myburgh aangebied, wat ʼn sleutelrol gespeel het in die ontwikkeling van die SAPD se kubermisdaad-eenheid. Duur van kursus: twee ure.
Inleiding tot projekbestuur
Om met die bestuur van ʼn projek by jou onderneming getaak word, kan senutergend wees. Hierdie kursus sal jou toerus met die grondbeginsels van projekbestuur en die kennis om jou span so produktief as moontlik te laat funksioneer sodat jy die projek met selfvertroue kan lei. Duur van kursus: twee weke.
Microsoft se reeks kursusse
Almal weet hoeveel tyd administratiewe take in die werkplek in beslag kan neem. Wanneer jy met die algemene Microsoft-platforms vertroud is wat in die meeste werkplekke gebruik word, kan jy ʼn magdom tyd spaar.
In enige werkplek waar data geprosesseer word, speel die gebruik van Microsoft Excel gewoonlik ʼn groot rol. In die kursus Microsoft Excel: Basies tot gevorderd sal jy onder andere leer hoe om formules te gebruik, data te manipuleer en tabelle te bestuur.
Verder bied Solidariteit se leerportaal ook kursusse om Microsoft Powerpoint en Microsoft Word te bemeester. Die duur van elke Microsoft-kursus is een week.
Skep jou Solidariteit-profiel vandag om toegang tot die leerportaal te kry!