loading
Artikels
19 uur gelede
wat-beteken-werklike-buigsaamheid-in-die-werkplek

Foto Krediet: OkayDeer

Wat beteken werklike buigsaamheid in die werkplek?

Oor die afgelope paar jaar het die term “buigsaamheid” al hoe meer verander. In die werkplek beteken dit om meer volhoubare en produktiewe werkplekomgewings te skep. Hierdie artikel bespreek hoe buigsaamheid in die toekoms geïmplementeer kan word en hoe werkgewers hierdie tipe werkplekke in werking kan stel.


Deur Reon Janse van Rensburg

Die Covid-19-pandemie het werkgewers en werknemers genoop om buigsaamheid te herdefinieer. Dit het gewys dat die tradisionele nege-tot-vyf-model nie altyd die doeltreffendste is nie en dat mense beter presteer wanneer hulle meer beheer oor hul werksure en -plek het. Werkgewers wat hierby aanpas, sal beter toegerus wees om hul spanne gemotiveerd en betrokke te hou.

In ʼn vinnig veranderende wêreld word werklike buigsaamheid in die werkplek al hoe belangriker. Dit gaan nie net oor hoe werknemers werk nie, maar ook oor hoe werkgewers hul beleid kan aanpas om volhoubare en produktiewe werksomgewings te skep. Hier is wat werklike buigsaamheid behels en hoe dit in die toekomstige werkplek geïmplementeer kan word.

Meer as net tyd en plek

Tradisioneel is buigsaamheid gesien as die vermoë om van die huis af te werk of om personeel se werksure aan te pas. Hoewel hierdie elemente steeds belangrik is, is werklike buigsaamheid baie meer omvattend. Dit behels die aanpassing van werkspraktyke om werknemers se unieke behoeftes en lewenstyl te ondersteun terwyl produktiwiteit gehandhaaf word.

Buigsaamheid sluit in:

  • Aanpasbare werksure: Skofte wat beter by werknemers se persoonlike verantwoordelikhede pas.
  • Gedeelde rolle: Dit is waar twee of meer werknemers een posisie vul om werkslading te verdeel.
  • Keuse in werkmetodes: Dit beteken werknemers het toegang tot tegnologie en hulpmiddels wat hulle in staat stel om op hul eie terme te presteer.

Die voordele van ʼn buigsame werkplek

Buigsaamheid in die werkplek hou talle voordele vir beide werkgewers en werknemers in. Vir werkgewers help dit om toptalent aan te trek en werknemers se moraal en produktiwiteit te verhoog. Buigsame werkreëlings lei ook tot besparings op kantooruitgawes en ondersteun omgewingsvolhoubaarheid deur pendeltyd en energieverbruik te verminder. Hierdie aanpassings skep ʼn meer kostedoeltreffende werksomgewing, wat uiteindelik die organisasie se winsgewendheid versterk.

Vir werknemers bevorder buigsaamheid ʼn gesonder werk-lewe-balans deur minder stres te veroorsaak en beter beheer oor werkskedules te bied. Dit verhoog werkstevredenheid, bevorder professionele groei en gee werknemers meer outonomie oor hoe en waar hulle werk. Die vermoë om werksomgewings aan te pas volgens individuele behoeftes dra by tot hoër betrokkenheid en algehele welstand. Buigsaamheid in die werkplek skep dus ʼn wen-wen situasie vir alle partye.

Hoe om aanpasbare werkplekke te skep

Om werkplekke aanpasbaar te maak, moet organisasies vier sleutelareas optimaliseer:

  1. 1. Ruimtes en ligging: Evalueer die ruimte of omgewing waar werknemers die meeste produktief en betrokke is, byvoorbeeld of dit aanlyn of in ʼn kantoor is. Hierdie insigte help om fisiese werkplekke en aanlyn strukture te ontwerp wat by werknemers se behoeftes pas.
  2. 2. Produktiwiteit en prestasie: Wetenskaplike navorsing toon dat gedrag en praktyke aangepas moet word vir beter prestasie, soos om vergaderings te beperk en fokus-intervalle te gebruik.
  3. 3. Welstand en verbinding: Organisasies moet werknemers aktief betrek deur na hul behoeftes te luister en maatreëls aan te pas, soos buigsame skedules en gesonde werksomgewings.
  4. 4. Werksmag se ervaring: Stelsels en prosesse moet aangepas word vir ʼn hibriede model wat billike beoordeling en loopbaangeleenthede vir alle werknemers verseker.

Die sleutel lê in die integrasie van data, navorsing en werknemers se insette om die werkservaring vir almal te verbeter.

Die pad vorentoe

Werklike buigsaamheid gaan oor aanpasbaarheid en empatie. Dit vra van werkgewers om kreatief te dink oor hoe hulle werksomgewings bestuur. Die werkplek van die toekoms sal nie net gemeet word in terme van ure wat gewerk is nie, maar eerder in terme van uitsette en tevredenheid.

“Kliënte kom nie eerste nie. Werknemers kom eerste. As jy vir jou werknemers sorg, sal hulle vir die kliënte sorg.” – Richard Branson

Werkgewers wat buigsaamheid omarm, skep nie net ʼn beter werksomgewing nie, maar dra ook by tot hul organisasie se sukses in die 21ste eeu. Nou is die tyd om vooruit te dink en werklik buigsame beleide in werking te stel.

Solidariteit se gratis platform is ʼn Afrikaanse tuiste wat werkgewers en werksoekers verbind. Werkgewers kan maklik en kosteloos poste adverteer en aansoeke bestuur, terwyl ʼn aktiewe werksmag reeds hul CV’s beskikbaar gestel het. Die platform maak werk soek en werk gee vinnig, eenvoudig en alles in Afrikaans! Klik hier om jou gratis profiel te skep.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel