loading
Artikels
1 dag gelede
wat-generasie-z-en-alfa-werknemers-verwag

Foto Krediet: OkayDeer

Wat Generasie Z- en Alfa-werknemers verwag

Deur Karen Waldeck

Die jonger generasies, Generasie Z en die opkomende Generasie Alfa, bring ʼn vars, innoverende aanslag na die werkplek. Hulle het unieke verwagtinge en werkstyle wat tans besig is om werkplekke wêreldwyd te hervorm. Werkgewers wat verstaan wat hierdie jonger generasies motiveer en waardeer, kan nie net talentvolle jong werknemers lok nie, maar ook ʼn dinamiese en vooruitdenkende werkplek skep.

Die werkwêreld van Generasie Z

Generasie Z, gebore tussen 1997 en 2012, het ʼn besondere begrip van tegnologie en aanpasbaarheid in vinnig veranderende omgewings. Hierdie generasie, wat nou die meerderheid van jong werkers in die werkplek uitmaak, is tegnologie-georiënteerd en pas vinnig aan by nuwe digitale hulpmiddels. Hulle het toegang tot ʼn oorvloed van inligting, en dit maak hulle dikwels selfgerig en vindingryk in probleemoplossing.

Wat Generasie Z kenmerk, is hul behoefte aan deursigtigheid en verantwoordbaarheid in hul werkomgewing. Volgens die South African College of Applied Psychology (SACAP) streef hulle na ʼn werkplek waar hulle tot sosiale en omgewingsbewuste doelwitte kan bydra, en hulle waardeer ook organisasies wat sterk waardes het en inklusiwiteit bevorder.

Wat werkgewers kan doen om Generasie Z na hul organisasies te lok:

Werkgewers wat Generasie Z wil werf, kan dit oorweeg om ʼn gestruktureerde, tog aanpasbare werkskultuur aan te bied. Daarbenewens waardeer hulle werkgeleenthede wat leer en groei moontlik maak, en werkgewers kan dit oorweeg om mentorskap en persoonlike ontwikkeling te prioritiseer. Met Generasie Z se liefde vir tegnologie kan ondernemings ook daarby baat vind om tegnologiese oplossings in hul daaglikse werksprosesse in te sluit.

Die toekoms van werkplekke met Generasie Alfa

Hoewel Generasie Alfa (gebore vanaf 2013) steeds jonk is, kan hulle binne die volgende dekade die werkplek begin betree. Hierdie generasie word groot in ʼn wêreld waar tegnologie nóg meer in hul daaglikse lewe geïntegreerd is, met kunsmatige intelligensie (KI), robotika en virtuele realiteit as alledaagse verskynsels.

Dit maak Generasie Alfa waarskynlik een van die mees aanpasbare en tegnologiesvaardige generasies wat nog die werkplek gaan betree. Hulle het ʼn sterk blootstelling aan vinnige toegang tot inligting en kan vinnig nuwe vaardighede en platforms aanleer en toepas. Hulle gaan waarskynlik ʼn baie kollektiewe en samewerkende benadering tot werk hê, maar tog verkies hulle ʼn goeie balans tussen werk en lewe.

Wat werkgewers van Generasie Alfa moet weet

Generasie Alfa sal verwag dat tegnologie ʼn standaard in die werkplek is en gaan waarskynlik minder bereid wees om met ouer tegnologiese stelsels te werk. Hulle gaan ook waarde heg aan inklusiwiteit en diversiteit, aangesien hulle grootword in ʼn omgewing wat hierdie waardes bevorder. Werkgewers wat suksesvol met Generasie Alfa wil saamwerk, kan baat vind by die implementering van volhoubare praktyke en die gebruik van tegnologie om werksprosesse makliker en doeltreffender te maak.

Waarna werkgewers in jong kandidate moet kyk

By die aanstelling van jong werkers uit hierdie generasies, is dit belangrik om hulle vaardighede in selfbestuur en aanpasbaarheid te evalueer. Hulle moet gemaklik wees om onafhanklike t werk sowel as samewerking in spanne, veral as hulle aanlyn platforms gebruik. Verder, in ʼn era waar vinnige tegnologiese aanpassings nodig is, is dit waardevol om hul vermoë te toets om nuwe digitale gereedskap en metodes aan te leer.

Werkgewers moet ook aandag gee aan hoe kandidate hul eie leer en ontwikkeling benader, aangesien selfgerigte leer die kern van hierdie generasies se opvoeding en werkstyl is. Dit is nuttig om te oorweeg of ʼn kandidaat selfstandig nuwe kennis kan opdoen en of hulle die vermoë het om by die veranderende werklandskap aan te pas.

Die toekoms van die werkplek saam met Generasie Z en Alfa

Namate die werkplek aanhou ontwikkel, sal jonger generasies soos Generasie Z en Alfa belangrike invloede hê op hoe werk verrig word. Met hulle fokus op tegnologie en inklusiwiteit, sal hulle werkgewers aanmoedig om meer vooruitdenkend te wees en aan te pas by ʼn wêreld wat deur innovasie en diversiteit gedryf word.

Generasies Z en Alfa bied dus unieke geleenthede en uitdagings vir werkgewers, en dié wat die waarde van hierdie jonger generasies raaksien, kan ʼn gesonde en vooruitstrewende werksomgewing skep. Deur jonger werkers se behoeftes en verwagtinge in ag te neem, kan organisasies ʼn kultuur vestig wat inspirasie, aanpasbaarheid en groei bevorder.

Die verskille in generasies kan tot konflik in die werkplek lei, maar dit hoef nie noodwendig die geval te wees nie. Ontsluit die potensiaal van jou Generasie Z-werknemers – klik hier vir meer inligting oor Solidariteit se kort videoreeks oor generasieverskille in die werkplek.                                                                                                  

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel