
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Werkgewers, bevorder só ʼn gesonde organisasiekultuur
Ons wil graag glo dat werknemers elke dag die werkplek betree omdat hulle dankbaar is vir die werk wat hulle het. Ons glo dat hulle ’n regverdige salaris verdien, dat hulle die kennis en ervaring het om die werk suksesvol te voltooi, en dat hulle produktief is tot voordeel van die maatskappy.
Die realiteit is egter dat hierdie prentjie nie altyd waar is nie, bloot omdat ons met mense werk wat elkeen uniek is en wat spesifieke behoeftes najaag. Omdat negatiewe werkers die kultuur, en uiteindelik die produktiwiteit en sukses van die onderneming kan benadeel, moet daar meer holisties na personeel in ʼn onderneming gekyk word.
Buiten die voorreg om te kan werk, strewe personeel ook na ’n persoonlike doelwit in hul professionele lewe. Sommiges jaag status en prestige na, ander finansies, ander weer groei en ontwikkeling. Net soos die onderneming van personeel verwag om al hul gawes en talente tot voordeel van die maatskappy te gebruik, wil personeel ook voel dat hulle deel is van iets groters as hulself; dat dit wat hulle doen saak maak en ʼn impak het.
Met indiensname is daar ’n verwagting dat personeel oor basiese sagte vaardighede moet beskik, soos respek, lojaliteit, goeie kommunikasievaardighede en dies meer. Maar net so het die onderneming ʼn verantwoordelikheid om korporatiewe vaardighede te gebruik tot die bevordering van ʼn gesonde organisasiekultuur.
Hierdie vaardighede sluit in om regverdig teenoor alle personeel te wees, om wedersydse respek nie net tussen personeel en kliënte te bevorder nie, maar ook tussen die maatskappy en personeel. Vertroue is ’n kernbeginsel wat alle partye moet nastreef en met deursigtigheid, en gesonde- en oop- kommunikasiekanale, kan baie konflik vermy word. Personeel wil voel dat hulle vertrou word om te doen waarvoor hulle aangestel is, dat hulle verantwoordelikheid daarvoor kan neem en dat hulle die nodige erkenning sal ontvang vir hul persoonlike bydrae tot die sukses van die organisasie.
Deur duidelik aan te toon dat beide die organisasie en personeel bydra tot hierdie kernbeginsels, kan jy ’n positiewe werkomgewing skep waar almal floreer en presteer.
Die welstand van jou personeel dra by tot die algehele gesondheid van die organisasie. Solidariteit het ’n kursus ontwikkel wat werkgewers bemagtig om hulle personeel te ondersteun met welstandsprogramme. Lede van Solidariteit het gratis toegang tot hierdie kursus en nagenoeg 150 ander beroepspesifieke kursusse wat uniek ontwerp is om werkplekvaardighede te ontwikkel.
Die kursus kan voltooi word op Solidariteit, jou eenstop-platform vir werk en leer. As jy reeds ’n lid is, skep jou profiel op Solidariteit hier en koppel jou lidmaatskap hier. Vir meer inligting oor die kursus, klik hier.