loading
avatar
Artikels
23 uur gelede
jonk-en-afrikaans-in-n-diverse-wereld

Foto Krediet: OkayDeer

Jonk en Afrikaans in ʼn diverse wêreld

Deur Karen Waldeck

Jy is jonk, trots Afrikaans, en staan aan die begin van ʼn loopbaan in ʼn wêreld wat konstante aanpassing verg. Die moderne werkplek is ʼn lappieskombers van kulture, tale en perspektiewe – ʼn omgewing waar verskeidenheid en inklusiwiteit hoog op die agenda is. Dit laat baie jong Afrikaanssprekende werkers wonder: Hoe bou ek die kulturele intelligensie om hier te floreer, sonder om my eie identiteit prys te gee?

Die antwoord lê beslis nie daarin om jou Afrikaansheid weg te steek nie, maar eerder daarin om dit as ʼn voordeel te gebruik. Soos Kyla-Ann du Toit tereg in haar artikel, Jong werkende, jou taal is nie ʼn gebrek nie – dit is jou superkrag!” opmerk, dra jy met jou taal, jou kultuur en jou unieke perspektief reeds waardevolle gereedskap vir ʼn suksesvolle loopbaan. Dit is nie ʼn beperking nie, dit is ʼn bron van veerkragtigheid en innovasie.

Wat is kulturele intelligensie en waarom maak dit saak?

Kulturele intelligensie is, soos die Oxford Review dit definieer, die vermoë om doeltreffend oor kulturele grense heen te werk en te leef. Dit gaan verder as blote verdraagsaamheid – dit vereis aktiewe begrip, aanpassing én opregte nuuskierigheid.

In ʼn Suid-Afrikaanse en globale konteks beteken dit om jou kollegas se agtergrond te verstaan; kommunikasie stylvol aan te pas; en gesamentlike doelwitte bo kulturele verskille te plaas.

Maar hier is die belangrikste punt: Om jou kulturele intelligensie te versterk, hoef jy nie jou eie kulturele wortels te verruil nie. Hoe sterker jy jou eie identiteit ken, hoe meer selfversekerd kan jy ander sʼn erken, sonder om bedreig te voel.

Drie praktiese maniere om jou kulturele intelligensie te bou, sonder om jou taal of identiteit prys te gee:

1. Wees ʼn kulturele ontdekkingsreisiger (met jou taal as kompas)

Neem die houding van ʼn lewenslange leerder aan: Vra vrae, luister om te verstaan, en deel jou eie storie met trots. Vrae soos: “Ek is Afrikaans en het só grootgeword; hoe was dit vir jou?” skep ruimte vir wedersydse respek en begrip. Om by jouself te begin – met trots in jou eie identiteit – is nie ʼn struikelblok nie, maar ʼn vertrekpunt.

2. Ken jou waarde en leer die “kode” van die werkplek

Jou Afrikaanse kultuur bring waardevolle eienskappe saam, soos gesinswaardes, gemeenskapsbewustheid en ʼn sterk werketiek. Dit is waardevol, so erken dit vir jouself.

Terselfdertyd moet jy die ongeskrewe reëls van jou spesifieke werkomgewing leer. Dit gaan nie daaroor om jouself te verloor nie, maar oor groei. Vra jouself:

  • • Hoe kommunikeer ons hier op ʼn manier wat verbinding skep?
  • • Hoe word besluite geneem?
  • • Hoe bou ek vertroue in hierdie konteks?

Die doel is nie om jou kultuur te verander nie, maar om maklik tussen taal- en kultuurkodes te kan beweeg sodat jou idees en waardes by ʼn breër gehoor kan resoneer.

3. Bou ʼn ondersteuningsnetwerk

Jy hoef nie die reis alleen mee te maak nie. Soek mentors en kollegas, binne en buite jou kultuurkring, wat verskeidenheid waardeer. Organisasies, soos Solidariteit, bied netwerk– en mentorskapgeleenthede wat jou help om die werkplek met selfvertroue te betree. ʼn Sterk netwerk anker jou, daag jou uit, en herinner jou daaraan dat jy nie tussen twee wêrelde vassteek nie, maar dat jy ʼn brugbouer kan wees.

Oplossings, nie probleme nie

Die wêreld soek nie identiteitslose robotte nie. Dit soek mense met diepte, empatie, en ʼn gevoel van tuiswees. Jou Afrikaanse identiteit is deel van jou totale pakket. Wanneer jy jou kulturele intelligensie ontwikkel word jy nie minder Afrikaans nie; jy word ʼn meer veelsydige, doeltreffende en gewaardeerde werknemer.

Jy bring iets na die tafel wat niemand anders kan nie: jou unieke perspektief, gevorm deur jou taal en geskiedenis. Deur dit met respek vir ander se perspektiewe te kombineer, word jy onmisbaar. Só bou jy nie net ʼn suksesvolle loopbaan nie, maar een wat sinvol is – waar jy tot ware inklusiwiteit bydra sonder om jouself te verloën.

Die toekoms van werk is divers. Maar juis in daardie diversiteit lê die krag van selfversekerde Afrikaanse jongmense.

Solidariteit is jou Afrikaanse beroepstuiste. Skep jou gratis profiel en raak deel van die grootste Afrikaanse aanlyn werkgemeenskap.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel