loading
Artikels
1 dag gelede
wat-om-te-doen-as-universiteit-nie-vir-jou-is-nie

Foto Krediet: OkayDeer

Wat om te doen as universiteit nie vir jou is nie

Deur Karen Waldeck

Die lang pad van vier jaar se akademiese studie aan ʼn universiteit is nie vir almal nie. Dit is ook nie vir elkeen moontlik om aan ʼn universiteit te gaan studeer nie. Gelukkig is daar baie alternatiewe loopbane wat nie nodig het dat jy ʼn universiteitsgraad agter jou naam het nie. Of jy nou ʼn praktiese aanvoeling het, lief is vir tegnologie, of kreatief wil wees, daar is vir jou ʼn pad vorentoe. Kom ons kyk na ʼn paar opsies wat jy kan oorweeg as universiteit nie vir jou is nie.

Vakleerlingskappe: Leer terwyl jy werk

Vakleerlingskappe is een van die beste opsies vir mense wat van praktiese werk hou. In plaas daarvan om in ʼn klaskamer te sit, leer jy ʼn regstreeks oor ʼn beroep by ervare vakmanne. Dis veral gewild in sektore soos loodgietery, elektrisiteit, konstruksie en selfs bakkery. Jy verdien ook dikwels ʼn salaris terwyl jy leer, wat dit ʼn goeie opsie maak as jy nie wil wag tot na jou studie om ʼn inkomste te verdien nie.

Daar is heelwat vakleerlingskapgeleenthede beskikbaar in Suid-Afrika. Hier kan jy opleidingsprogramme in elektriese werk, dieselwerktuigkunde en selfs gereedskapmaking vind, wat jou help om ʼn suksesvolle loopbaan in hierdie velde te bou.

Beroepsopleiding: Spesifieke vaardighede wat jy vinnig geleer

As jy belangstel in ʼn veld waar spesifieke tegniese vaardighede nodig is, is beroepsopleiding ʼn uitstekende opsie vir jou. Hierdie tipe opleiding fokus op ʼn spesifieke beroep, soos rekenaarwetenskappe, sekuriteit of administrasie, en kan dikwels binne ʼn jaar of twee voltooi word. Die voordeel hiervan is dat jy vinnig die arbeidsmark kan betree met die nodige kwalifikasies en vaardighede.

Solidariteit bied ook ʼn wye verskeidenheid beroepsgerigte kursusse aan, insluitend administratiewe vaardighede, projekbestuur en selfs verkope. Hierdie kursusse stel jou in staat om aanlyn te studeer en op jou eie pas te leer, wat dit ideaal maak vir mense wat reeds werk of ander verpligtinge het.

Tegniese skole en kolleges

Tegniese skole en kolleges is ander goeie opsies as jy nie ʼn voltydse universiteitsloopbaan wil nastreef nie. Hierdie instellings bied ʼn meer praktiese benadering tot onderrig en fokus op vakke wat direk toepaslik is in die werkplek. Of jy nou belangstel in meganiese ingenieurswese, motorwerktuigkunde, of selfs haarkappery, tegniese kolleges het programme wat jou vinnig en doeltreffend vir die arbeidsmark kan voorberei.

Talle van hierdie instellings soos byvoorbeeld,  Sol-Tech werk saam met bedrywe om studente direk by werkplekke te plaas vir praktiese ervaring.

Entrepreneurskap: Begin jou eie onderneming

As jy die tipe persoon is wat daarvan hou om jou eie baas te wees, kan entrepreneurskap die perfekte oplossing vir jou wees. Dit verg beslis toewyding en harde werk, maar met die regte plan en ondersteuning kan jy suksesvol wees. Entrepreneurskap bied jou die geleentheid om iets van nuuts af te bou, of dit nou ʼn klein onderneming of ʼn aanlyn besigheid is.

Die entrepreneurskapkursus wat aanlyn op Solidariteit se leerportaal voltooi kan word, is ʼn waardevolle bron waar jy kan leer hoe om ʼn besigheid te begin, jou produkte te bemark, en ʼn volhoubare handelsmerk te bou. Die kursus gee jou die insig en gereedskap wat jy nodig het om met selfvertroue jou eie besigheid te begin.

Kreatiewe loopbane: Maak jou passie jou werk

As jy kunstig of kreatief is, is daar ʼn magdom loopbane wat jy kan oorweeg. Van grafiese ontwerp en fotografie tot musiekproduksie en modeontwerp. Kreatiewe beroepe is ʼn opwindende opsie vir mense wat van innovering hou. Talle van hierdie loopbane vereis nie noodwendig ʼn graad nie, maar eerder ʼn sterk portefeulje en ʼn passie vir jou kuns.

Wat is die regte keuse vir jou?

Om die regte loopbaanpad te kies kan oorweldigend wees, maar dit help om te weet dat daar ʼn wêreld vol opsies buite die universiteit bestaan. Begin deur jou belangstellings te verken en kyk na die opsies wat Solidariteit bied deur hulle aanlyn voortgesette leer-kursusse. Jou loopbaan is in jou hande – kies die pad wat jou die meeste opgewonde maak!

Solidariteit stap die volle loopbaanpad saam met jou en ondersteun jou sodat jy jou volle potensiaal kan bereik. Jy het nie ʼn gevorderde kwalifikasie nodig om sukses te behaal nie. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en raak deel van ʼn gemeenskap waar jy kan groei.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel