Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Uitdagende jeugwerkloosheidsyfers en hoe Solidariteit jong werknemers voorberei
Deur Reon Janse van Rensburg
Suid-Afrika se jeugwerkloosheidsyfer is een van die hoogste ter wêreld. Volgens Statistieke Suid-Afrika is die werkloosheidsyfer onder jongmense tussen 15 en 34 jaar in die eerste kwartaal van 2025 46,1%. Hierdie statistiek dui op ʼn ernstige uitdaging vir die land se toekoms, aangesien dit dui op ʼn gebrek aan werkgeleenthede en die uitdagings wat jong mense in die gesig staar om ʼn loopbaan te begin.
In reaksie op hierdie krisis het Solidariteit verskeie inisiatiewe geloods om jongmense te ondersteun en hulle voor te berei vir die arbeidsmark. Een van die belangrike hulpbronne wat deur Solidariteit gestig is, is die Helpende Hand Studietrust (HHST), wat in 2009 gestig is om Afrikaanse studente te help om deur middel van rentevrye studielenings te studeer. Sedert sy ontstaan het die HHST meer as R340 miljoen aan ongeveer 7 000 behoeftige studente toegeken, wat hulle in staat gestel het om hulle akademiese drome te verwesenlik. Die HHST werk saam met verskeie donateurs en gemeenskappe om volhoubare strukture en prosesse te bou wat ʼn betekenisvolle verskil in die lewens van studente maak.
Verder gee Solidariteit se Skoliere-aanbod vir jongmense toegang tot meer as 40 beurs- en leningopsies, insluitend dié van die HHST, Atterbury Trust en Helpmekaar Studiefonds. Hierdie platform verskaf inligting oor instellings wat finansiële studiehulp bied, wat jongmense help om die beste opsies vir hulle studie te identifiseer.
Akademia, Sol-Tech, die Helpende Hand Opleidingsinstituut en Bo-Karoo Opleiding bied vir jong professionele persone die geleentheid om spesifieke vaardighede aan te leer en hul loopbane te begin of hulle vaardighede uit te brei. Hierdie kursusse fokus op praktykgebaseerde vaardighede, insluitend tegniese vermoëns, wat jongmense beter voorberei om die arbeidsmark te betree.
Solidariteit se benadering is nie net om jongmense te ondersteun nie, maar ook om ʼn gemeenskap van professionele mense te bou wat mekaar help om te groei en te ontwikkel. Deur deelname aan beroepsnetwerke en mentorskapprogramme kan jong mense hul loopbane bou en ʼn positiewe impak op die samelewing maak.
In ʼn tyd waar jeugwerkloosheid ʼn groot uitdaging is, bied Solidariteit ʼn pad vorentoe deur jongmense die gereedskap en ondersteuning te gee wat hulle nodig het om suksesvol te wees in die arbeidsmark.
Sluit by Solidariteit aan en word deel van ʼn netwerk wat jou nie net begelei nie, maar jou ook bemagtig om jou toekoms te vorm. As lid kry jy toegang tot regsadvies, loopbaanondersteuning, mentorskapgeleenthede, opleiding en nog vele meer – alles om jou te help om suksesvol te wees en jou volle potensiaal te bereik.