loading
Artikels
3 maande gelede
vandag-se-bydrae-is-more-se-verskil

Foto Krediet: Verskaf

Vandag se bydrae is môre se verskil

Wees die verskil wat jy in die wêreld wil sien. Danksy Solidariteit se Boufonds en verskeie studiefondse in die Solidariteit Beweging is dit vir duisende behoeftige studente moontlik om hul studiedrome aan wêreldklas-instellings, soos Sol-Tech en Akademia, te bewaarheid. Lees meer oor hoe jý deel van die verskil kan word.


Deur Kyla-Ann du Toit

Is dit nie ʼn ongelooflike goeie gevoel om te weet dat jóú bydrae ʼn verskil in duisende studente se lewens meebring nie? Solidariteit glo dat elke bietjie ʼn groot verskil maak en daarom is die Boufonds sowel as verskeie studiefondse in die Solidariteit Beweging tot stand gebring.

Solidariteit het die onsekerhede in ons land raakgesien en besluit om iets positiefs daaraan te doen met jóú hulp. Die Boufonds het ten doel om na die behoefte van ons gemeenskap én die toekoms om te sien deur kennisinstellings te bou, terwyl die Solidariteit Beweging se verskeie studiefondse dit moontlik maak vir studente om hul studiedrome na te jaag.

Studiefondse wat die volgende generasie bemagtig

In 2024 het Solidariteit ʼn totaal van R19 653 691 aan studiefondse toegeken, wat beteken dat ongeveer 294 studente die finansiële steun gekry het om te studeer. Hierdie studiefondse is geskep om jong mense te help om hulle volle akademiese potensiaal te bereik en nie net in hul beroepe uit te blink nie, maar ook hul roeping uit te leef.

Die Solidariteit Beweging bestuur tans ʼn totaal van ses studiefondse, waarvan twee in Solidariteit se Regsnetwerk en Solidariteit se Finansiesnetwerk gestig is:

Solidariteit beoog om ʼn studiefonds in al 11 van Solidariteit se beroepsnetwerke te stig. Hierdie studiefondse is ʼn opwindende nuwe inisiatief waar elke beroepsnetwerk sy eie fonds kan stig met die doel om meer gerigte ondersteuning aan spesifieke beroepsvelde te bied.

Hierdie proses het in 2023 begin en stel die beroepsnetwerke in staat om onafhanklike fondse deur verskillende fondsinsamelingsprojekte te genereer. Die Solidariteit Finansiesnetwerk en die Solidariteit Regsnetwerk het byvoorbeeld ʼn jaarlikse golfdag wat ten doel het om regs- en finansiesstudente finansieel te bemagtig om hul studiedrome te bewaarheid. 

Solidariteit Helpende Hand Studietrust

Sedert sy ontstaan in 2007 het die Helpende Hand Studietrust, deel van die Solidariteit Beweging, reeds R340 miljoen aan ongeveer 7 000 behoeftige studente toegeken. Hierdie Studietrust gaan in 2025 alleen ʼn totaal van R61 miljoen aan 1 170 behoeftige studente uitbetaal.

Die Helpende Hand Studietrust help met gedeeltelike, rentevrye studielenings vir tersiêre studie aan enige geakkrediteerde, Suid-Afrikaanse instelling. Dié studietrust se visie is om te verseker dat elke verdienstelike student kan studeer, ongeag hulle finansiële omstandighede. Hulle missie fokus op die bevordering van gemeenskapsontwikkeling en maatskaplike welsyn deur middel van opleiding en onderrig.

Donateurs bou aan drome

“Sonder die onbaatsugtige ondersteuning van donateurs sou dit nie moontlik wees om die impak van hierdie fondse te laat realiseer nie.” Só sê Tanja Kitching, fondsbestuurder van die Helpende Hand Studietrust. Tanja meen donateurs se bydraes maak dit moontlik om volhoubare strukture en prosesse te bewerkstellig en instellings te bou wat ʼn betekenisvolle verskil in die lewens van studente, gemeenskappe en die volgende generasie maak.

Terwyl die verskeie studiefondse daarop gemik is om studente die geleentheid te bied om hul toekomsdrome na te streef, fokus die Solidariteit Boufonds op die bou van fisiese instellings soos Sol-Tech en Akademia. Die geskiedenis wys dat ʼn toekoms altyd moontlik is. Net soos ons voorouers wêreldklas-instellings help bou het, bou ons by Solidariteit in vandag se onsekere tye steeds instellings. Ons doen dit vir ons nageslag, nie omdat daar ʼn keuse is nie, maar omdat daar nie meer ʼn alternatief is nie.

Bemagtig die volgende generasie

“Elke generasie het die verantwoordelikheid om ʼn stewige fondasie van geleenthede vir die volgende generasie te skep – een waarop hulle kan voortbou vir die generasie ná hulle,” sê Marisa Engelbrecht, senior internasionale skakelbeampte by die Solidariteit Beweging Trust. Marisa meen die Solidariteit Beweging se verskeie studiefondse het ten doel om die bestaande hulpbronne vir jong mense uit te brei om sodoende vir meer Afrikaanse kinders die deur na studies oop te maak.

As ʼn lid van Solidariteit se Boufonds druk jy jou stempel in die geskiedenis af om die volgende generasie te bemagtig. Saam bou ons nie net kennisinstellings nie, maar ook ʼn voorspoedige toekoms vir ons jong mense.

Sluit vandag nog by die Solidariteit Boufonds aan en raak deel van hierdie belangrike beweging. Saam bou ons die toekoms – een baksteen en een droom op ʼn slag.

Maak ʼn bydrae en word vandag nog deel van die verskil van môre! 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel